Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kopskuif nodig om genoeg kos te verseker

Om voedselsekerheid in die land te verseker sal ’n kopskuif van boere na ander praktyke vereis.

Dit hoef nie groot stappe te wees nie, net ’n stap in die regte rigting.

So het dr. Astrid Jankielsohn, senior navorser van die Landbounavorsingsraad se Kleingraaninstituut by Bethlehem gesê in ’n voorlegging aan die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, dr. Ivan Meyer.

Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, dr. Ivan Meyer, (links) is tydens ’n Vrystaatse besoek ingelig oor volhoubare landbou deur dr. Astrid Jankielsohn (middel), senior navorser by die Landbounavorsingsraad se Kleingraaninstituut buite Bethlehem, en deur Brad Goldblatt, (regs), ’n boer van die plaas St. Fort buite Clarens.

Meyer is tydens ’n Vrystaatse besoek ook deur Brad Goldblatt, ’n boer van die plaas St. Fort buite Clarens, en sy familielede oor volhoubare landbou hier toegelig.

In haar sessie het Jankielsohn gesê groot uitdagings in die landbou bedreig voedselsekerheid.

Klimaatverandering is die opvallendste, maar die interverwante faktore soos menslike bevolkingsgroei en ’n verlies aan grond-biodiversiteit – met die getal dierespesies wêreldwyd wat daal – het ook ’n groot uitwerking.

“Elke spesie het ’n doel in ’n ekostelsel, maar soos wat hulle verminder kan hulle nie meer die werk in die ekostelsel doen nie.

“Omdat die ekostelstel dan nie meer funksioneel is nie, kan dit die voedselproduksie beïnvloed.”

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir Landbou, agter die stuurwiel van 'n trekker op St. Fort.

Gevolglik neem insekteplae toe. Gewasse word so aangetas dat produksie verlore kan gaan.

Voorts tas die landboumodel van mono-kulture (met net een gewas in die grond) en intensiewe gebruik van chemiese middels biodiversiteit ook aan.

Vir funksionele en volhoubare stelsels is die ekostelsel-funksies nodig wat biodiversiteit meebring, sê Jankielsohn.

Volgens haar is bewaringsboerdery noodsaaklik sodat daar teruggekeer kan word na natuurlike ekostelsels met die grond wat minimaal of glad nie geploeg en bewerk word nie, wat baie van die lewendige organismes vernietig.

“Grond word dus eerder beskerm om die diversiteit terug te bring in die landboustelsels,” sê sy.

Die praktyke sluit die gebruik van dekgewasse soos radyse of peulgewasse in, wat plantdiversiteit verhoog en habitatte skep vir makro-invertebrate soos insekte. Dit sluit ook spinnekoppe, duisendpote en honderdpote in. Vee word geïnkorporeer, wat mega-herbivore soos beeste terugbring.

Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, dr. Ivan Meyer (middel), hier by Brad Goldblatt (links) van die plaas St. Fort buite Clarens.

Jankielsohn sê boere soos Goldblatt pas dié praktyke toe om volhoubare ekostelsels te skep.

In ’n navorsingsprojek word miskruiers gebruik om die sukses van die praktyke vir verhoogde biodiversiteit te meet. Die voorlopige opnames het gewys miskruier-bevolkings is hoër as in konvensionele landboustelsels.

In die praktyk beteken dit dat chemiese middels soos kunsmis, swamdoders en ander landboumiddels in bewaringsboerdery beperk of uitgeskakel word totdat die ekostelsels herstel en chemiese middels geleidelik teruggebring kan word.

’n Vrystaatse voorbeeld is waar boere nog hul graangewasse soos mielies, soja, koring en sonneblom binne daardie stelsels verbou, waar dekgewasse saam met kontantgewasse geplant word om diversiteit te verhoog. Nadat daar gestroop is, word vee op die lande laat wei sodat die diere die grond lostrap. Vee- en saaiboerdery word dus gekombineer.

Meer miskruiers keer terug as gevolg van die veemis en die plantegroei is ook beter.

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier en Astrid se eggenote, sê die Wes-Kaapse regering besef hy moet sy wenresepte vir landbou met ander provinsies deel.

Meyer het die Vrystaat besoek omdat dit die tweede grootste ekonomiese bydrae tot landbou ná die Wes-Kaap lewer.

“Dr. Meyer was beïndruk met die boere se inisiatiewe om vir hulself te sorg in die afwesigheid van ’n funksionele staat in die Vrystaat.

“In die Wes-Kaap word boere ondersteun met onder meer internasionale bemarking van kommoditeite, plattelandse veiligheid, navorsing, droogtehulp, en berading in tye van nood,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.