Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
App vir kleinboere wen groot

Die ontwikkelaars van ’n app wat ontwikkelende boere help om hul produkte te verkoop, hulpmiddels te koop en ook as “Tinder” met finansiers dien, is aangewys as die voorste tegnologie-innoveerders in Afrika.

Die Khula!-app is drieledig en is ’n handige hulpmiddel vir boere wat ’n afsetplek vir hul produkte soek.

Karidas Tshintsholo en ’n span kodeerders het Khula! ontwikkel as ’n oplossing vir die probleme wat boere in Afrika ondervind om ’n geskikte mark en billike vergoeding vir hul produkte te kry.

Dis in 2016 as ’n onderneming geregistreer, maar eers bekend gestel nadat ’n klomp aanvoorwerk gedoen is.

“My sakevennoot het byvoorbeeld Israel toe gereis om te sien hoe hulle landbou beoefen. Dit is ’n land wat basies geheel en al in ’n woestyn geleë is, maar hulle produseer meer as baie Afrikalande,” sê Tshintsholo.

Die Khula!-span het toe probeer vasstel wat Afrikalande terughou wat verbouing en uitsette betref en tyd deurgebring saam met boere in onder meer Hammanskraal en Brits om agter te kom watter uitdagings hulle het.

“Ons het besef hoe moeilik dit vir opkomende boere is om hul produkte te verkoop. Daar is varsproduktemarkte, maar hul produkte is in besending (consignment), so daar is geen waarborg dat dit verkoop sal word nie. Hulle het ook geen beheer oor die prys waarvoor dit verkoop word nie, want hulle moet staatmaak op die eerlikheid van die agente wat dit namens hulle doen.”

Tshintsholo en sy span het toe die eerste “been” van Khula! ontwikkel: ’n virtuele markplein om boere en kopers regstreeks met mekaar te verbind en die “middelman” uit te skakel.

Khula! het ’n klomp gebruikers gelok en bekendheid verwerf onder opkomende boere. Die app het in 2019 die MTN App of the Year-kompetisie gewen en is daarna aangewys as een van Chivas Regal se top-10 ondernemings wat ’n verskil in die gemeenskap maak.

Dié erkenning het Tshintsholo en sy span laat besef die app moet verder verfyn word en hulle het opgehou om nuwe kliënte daarvoor te aanvaar. Nou is dit ’n drieledige ekostelsel met dié funksies:

  • ’n “Inset”-markplein waar boere goedere soos bemesting en onkruiddoders regstreeks van leweransiers kan aankoop;
  • ’n Varsprodukte-markplein waar klein- en kommersiële boere wat die nodige sertifisering het (gegrond op voedselveiligheidsregulasies), kan skakel met groothandelaars (die app is egter tans geslote omdat dit in ’n toetsfase is); en
  • ’n Finansier-instrumentpaneel (funder dashboard) waar voorgenome finansiers in verbinding kan kom met opkomende boere wat hulle graag finansieel wil ondersteun.
Karidas Tshintsholo, uitvoerende hoof van Khula!

Tshintsholo sê die inset-markplein is eerste verfyn, want boere kan niks verbou sonder die nodige kennis en hulpmiddels nie.

“Die kopers van produkte wil gehalte hê. McDonald’s vereis nie bloedrooi tamaties nie, maar eerder sjampanjerooi tamaties. Met die regte soort insette kan boere aan hierdie soort spesifikasies voldoen.”

Nog ’n probleem wat die “inset”-markplein help oplos het, is om te help met die verspreiding van produkte soos kunsmis. Boere het nou toegang tot meer as 100 verskaffers en meer as 2 000 produkte. ’n Vennootskap met AECI Plant Health (voorheen Nulandis) beteken ook boere kan die goedere wat hulle by Khula! bestel het, gaan afhaal by AECI se 132 depots in selfs verafgeleë dorpies landwyd.

Die finansier-instrumentpaneel is amper soos Tinder vir boere en finansiers, skerts hy. “ ’n Korporatiewe maatskappy met ’n mandaat om ’n opkomende swart vroueboer te borg, kan byvoorbeeld op die instrumentpaneel na haar gaan soek.”

Meer oor:  Kleinboere  |  Landbou  |  App  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.