Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Arbeid en landbou vat hande

Suid-Afrika het meer as 1 miljoen hektaar ongebruikte prima landbougrond wat hoofsaaklik onder beheer van tradisionele owerhede is.

Die landbousektor maak ’n groot deel uit van die werkberaad se raamwerk-ooreenkoms wat Donderdag onderteken is. Foto: Vida Booysen

As dié grond benut sou word vir arbeidsintensiewe landboubedrywighede, kan dit ’n noemenswaardige bydrae tot werkskepping en welvaartskepping hê, het Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz, Woensdag by Rapport en City Press se grond-indaba gesê.

“Moenie landbou weggooi as ’n werkskepper nie,” sê hy.

Die landbousektor maak ’n groot deel uit van die werkberaad se raamwerk-ooreenkoms wat Donderdag onderteken is. Die landbou beslaan meer as sewe bladsye van die 84 bladsye van agtergrond, ontledings en planne.

Sihlobo sê hoewel werksgeleenthede die afgelope dekade halveer het tot minder as 800 000 vanaf die hoogtepunt in die 1960’s, is arbeidsintensiewe boerderye in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal bestendige werkskeppers.

Selfs met droogtes in onlangse jare het Suid-Afrika ’n netto uitvoerder van voedsel gebly.

Sihlobo sê die fokus behoort op produkte soos pekanneute, avokadopere, veselperskes, druiwe, groente, piesangs en suikerriet te wees. Dit is gewasse wat meer as 1,3 werksgeleenthede per hektaar skep en hoë groeipotensiaal toon.

Sihlobo sê vir dié gewasse is drie groot gebiede ideaal: meer as 300 000 ha in die suide van Limpopo, groot stukke grond naby die Jozini- en Sibhayi-meer in KwaZulu-Natal en ’n strook van 250 km in die Oos-Kaap.

Maar dié goeie nuus word versuur deur beleidsonsekerheid oor onder meer waterregte en grondhervorming wat buitelandse beleggings laat opdroog het, sê hy.

Die werkberaad-ooreenkoms behels onder meer:

  • Ooreenkomste met FruitSA en wynprodusente om uitvoer van hul produkte teen 2030 van R54,4 miljard tot R90 miljard te verhoog. “Die doel is om die produksiegebied te vergroot,” lui die ooreenkoms. ’n Beplande dambouprojek sal 50 155 ha meer beskikbaar stel vir vrugte en wyn.
  • Westfalia Fruit gaan ooreenkomste aangaan met plaaslike gemeenskappe wat regte het in die Magwa- en Tshivhase-teeplantasie. Hulle sal ook die Morobeng-gemeenskap help om avokadopeer-plantasies te begin.
  • Distell produseer tot sy maksimum appelsap-konsentraat, en invoer is nodig vir neweprodukte. Die plan behels om nuwe appelplantasies en verwerkingsaanlegte te begin om invoer te vermy.
  • Myngrond moet in landbougrond omskep word. Die Mining Phakisa-inisiatief van die regering en private sektor wil ongebruikte grond van Sibanye-Stillwater gebruik om landbou aan die Wes-Rand te bevorder. Sibanye sal 30 000 ha grond hiervoor beskikbaar stel en 20 000 ha vir pakhuise en geboue. Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gaan deel wees van dié projek, wat hoop om beleggings van R15 miljard in aandeelhouding en R30 miljard as ekwiteit te lok. Sibanye pomp tans 300 miljoen liter ondergrondse water per jaar, en ’n gedeelte hiervan kan vir landbou gebruik word.
  • Subsidies en geld van die private sektor om finansiering meer toeganklik te maak. Die ooreenkoms gee min besonderhede, maar die Landbank, staatsdepartemente en private sektor moet glo saamwerk om “sagte lenings” aan boere beskikbaar te stel. Die departement van landbou sal R500 miljoen beskikbaar stel.

Die werkberaad-ooreenkoms formaliseer ook die Sernick-groep se ondersteuningsprogram vir opkomende boere. Nick Serfontein, voorsitter van Sernick, het wyd opslae gemaak met sy ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het by die koerante se grond-indaba gesê hul teiken vir die volgende drie jaar is om basiese opleiding aan 660 boere te gee en intensiewe opleiding aan 300 boere. “Ek glo daar is nou ’n politieke wil om die regte ding te doen,” sê hy.

Meer oor:  Agbiz  |  Wandile Sihlobo  |  Werkskepping  |  Grondindaba  |  Arbeid  |  Stimilusplan  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.