Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Armes se dieet word weer armer aan voeding

Die erge ekonomiese inkrimping van 7% in 2020 kan die vordering met groter diversiteit in Suid-Afrikaners se dieet van die laaste paar jaar ongedaan maak, sê die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP).

Mielies word geoes in landerye langs die R550 in Duduza aan die Oos-Rand.Foto: gallo images

Daar kan ’n al hoe hoër vraag na bekostigbare stapelvoedselsoorte soos mielies wees in die lig van finansiële druk op huishoudings weens die uitwerking van Covid-19, sê die BFAP in sy vooruitskouingsverslag tot 2029. Saam met ekonomiese herstel wat na verwagting lank sal neem, kan dit die diversiteit in huishoudings se dieet verminder.

Die per capita-verbruik van mielies het die afgelope dekade afgeneem, maar dit kan nou verander en eers in die tweede helfte van die vooruitsigtydperk herstel, lui die verslag.

Die BFAP, in samewerking met dr. Marlene Louw, senior ekonoom van Absa Agribesigheid, sê oor Mei se inflasiesyfers hoër inflasie in voedselkategorieë soos diereprodukte, olies en vette, asook groente, kan negatief wees vir die diversiteit in die dieet van lae-inkomste-huishoudings.

Die inflasiekoers op van die belangrikste voedselsoorte waaraan armer huishoudings tipies die meeste bestee, was in Mei op ’n jaargrondslag baie hoog vir sonneblomolie (+40%), individueel kitsbevrore hoenderstukke (+20%), witsuiker (+13%), bruinbrood (+8%) en melk (+5%).

Inflasie was wel baie laag op mieliemeel, rys, witbrood en beesmaalvleis.

Luidens die BFAP se vooruitskouingsverslag bestee lae-inkomste-huishoudings sowat 36% van hul totale voedselbesteding aan kossoorte ryk aan stysel; 26% aan hoender, rooivleis, vis en eiers; 5% aan suiwel; en 7% aan groente en vrugte.

Vir middel-inkomste-huishoudings is dié persentasies onderskeidelik 28%, 32% en 6% elk aan suiwel en aan groente en vrugte.

Vir welvarende huishoudings is dit onderskeidelik 18%, 37%, 7% en 10%, wys die BFAP-syfers.

Luidens die verslag is die stewige mielie-oes van 15,3 miljoen ton in 2020 dus goeie nuus om mieliemeelpryse taamlik bekostigbaar te hou.

“Dis belangrik in ’n tyd waar huishoudings se besteebare inkomste onder druk is en baie verbruikers sal terugskakel na mieliemeel ten koste van koring en rys.”

Volgens die BFAP bly mieliemeel een van die bekostigbaarste stapelvoedsels in Suid-Afrika teen sowat 26c per enkelporsie (in die tydperk 2017 tot Maart 2020).

Ander gewilde stapelvoedsels – bruinbrood, witbrood en pasta – het in dié tydperk onderskeidelik sowat 74c, 79c en 78c per enkelporsie gekos.

Luidens die nasionale oesskattingskomitee (NOK) se vyfde oesskattings vir somergewasse wat die afgelope week gepubliseer is, kan vanjaar se kommersiële mielieoes ’n allemintige 16,23 miljoen ton wees.

Dié geskatte mielie-oes is 6% groter as die 2020-oes.

Die produksieskatting van witmielies is 8,9 miljoen ton en vir geelmielies 7,3 miljoen ton.

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 677 240 ton, wat 39 000 ton minder is as die vorige skatting.

Die produksieskatting van sojabone is onveranderd gelaat op 1,9 miljoen ton.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het die afgelope week in sy gereelde markverslag geskryf die Internasionale Graanraad (IGC) is optimisties oor die produksie van graan en oliesade in die 2021-’22-jaar.

Die kommer aan die begin van die Covid-19-pandemie verlede jaar oor die wêreld se graanvoorraad weens sekere uitvoerbeperkings het nou verdwyn.

Meer oor:  Kos  |  Kospryse  |  Mielies  |  Voeding  |  Kosprysinflasie  |  Vleispryse  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Eetgewoontes  |  Armoede  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.