
Astral verskaf sowat twee miljard hoenderporsies vir etes per jaar en is bekommerd dat die BTW-verhoging veral verbruikers in die laerinkomstegroepe sal seermaak. Foto: Astral
Die land se grootste pluimveegroep, Astral, gaan die impak van die verhoogde BTW-koers op die prys van sy hoenderprodukte probeer versag.
Die maatskappy, met handelsname soos County Fair, Festive en Goldi in sy stal, sê in ’n verklaring hy sal ’n subsidie vir sy “primêre klante” vir ’n oorgangstydperk instel.
Die BTW-koers word van 1 April af met 1 persentasiepunt tot 15% verhoog.
Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het reeds voorheen gevra dat hoender vrygestel word van BTW omdat hoender die goedkoopste bron van vleisproteïen in Suid-Afrika is en ’n groot deel van die basiese dieet van die bevolking uitmaak.
Astral verskaf sowat 2 miljard hoenderporsies vir etes per jaar en is bekommerd die BTW-verhoging sal veral verbruikers in die laerinkomstegroepe seermaak.
“Die BTW-styging is ’n wetsverandering wat maatskappye verplig is om toe te pas, maar Astral het besluit om, in belang van sy klante, die styging vir ’n tydperk van ses tot agt weke self te absorbeer,” sê Andy Crocker, besturende direkteur van Astral se kommersiële bedrywighede.
“Selfs al kan die impak van die verhoging nie onbepaald vermy word nie, sal Astral die oorgangstydperk subsidieer deur ’n prysmeganisme vir ons primêre klante.”