Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Astral in penarie ná stem teen voorsitter se betaling

Die invloed van buitelandse aandeelhouers – en hul gesiglose raadgewers – kan JSE-genoteerde maatskappye nog vorentoe slapelose nagte besorg.

Dr. Theuns Eloff, voorsitter van Astral se direksie.

Dit is weer beklemtoon in ’n ongewone verwikkeling wat een van die plaaslike aandeelhouers se gunstelingmaatskappye getref het.

Suid-Afrika se grootste pluimveeprodusent Astral oorweeg nou sy opsies nadat aandeelhouers geweier het om vergoeding van ’n raps meer as R1,1 miljoen vir die voorsitter van sy direksie goed te keur.

“Astral bevind hom nou in die posisie waar hy ’n voorsitter het wat nie vergoed kan word nie,” het Astral verlede week in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê.

Die maatskappy se aandeelhouers het nie enige rede om te frons oor sy syfers nie. Astral het onlangs aangedui dat sy tussentydse resultate tot einde Maart baie stewig lyk. Die maatskappy verwag ’n verhoging van 410% in sy wesensverdienste.

Die maatskappy het in 2017 reeds ’n groot verbetering in sy wins getoon en sy aandeelhouers het in November ’n finale dividend van 875c per aandeel gekry, ’n styging van 775% op ’n jaargrondslag.

Die maatskappy se nie-uitvoerende voorsitter is dr. Theuns Eloff, ook uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting en voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit.

Astral het aangevoer sy voorgestelde vergoeding vir Eloff is markverwant, maar dit lyk of aandeelhouers nie saamstem nie.

In 2016 het Eloff R950 000 verdien en verlede jaar R1,1 miljoen vir sy dienste aan Astral gekry.

Dieselfde bedrag, aangepas vir inflasie, sou vir die huidige boekjaar tot 30 September betaal word, indien dit goedgekeur is. Dit is volgens Astral se omsendbrief aan sy aandeelhouers deur onafhanklike raadgewers bevind as “tussen die mediaan en boonste kwartiel van die markdata vir fooie wat aan nie-uitvoerende direkteur van ander genoteerde maatskappye van dieselfde grootte betaal word.”

Eloff word volgens die ontleder Anthony Clark as ’n bekwame en ingeligte direkteur beskou wat groot waarde tot die maatskappy toevoeg.

“In my 23 jaar as ontleder het ek nog nooit gesien dat aandeelhouers teen die voorgestelde vergoeding van ’n voorsitter stem nie.”

In my 23 jaar as ontleder het ek nog nooit gesien dat aandeelhouers teen die voorgestelde vergoeding van ’n voorsitter stem nie.
Anthony Clark, ontleder

Hy skryf dié situasie daaraan toe dat ’n groot gedeelte van Astral se aandele in buitelandse hande is.

Dié aandeelhouers word volgens Clark deur ’n konsultante groep ISS bygestaan. Min is oor dié firma bekend, maar Clark sê hy is bekend daarvoor dat hy altyd teen die voorgestelde direkteursvergoeding stem.

“Dit lyk asof hierdie groep agter die afwykende stempatroon sit, want op die vergadering verlede Donderdag was daar baie min stemgeregtigdes wat gestem het, maar dié wat wel daar was, was meestal gevolmagtigdes van buitelandse aandeelhouers.”

Minder as die helfte van die houers van uitgereikte aandele (48,8%) het hul stemreg uitgeoefen. Hiervan het net 53,1% ten gunste van die voorstel gestem met 2,3% wat buite stemming gebly het.

Dit volg ná daar reeds op ’n algemene jaarvergadering in Februarie oor die voorsitter se vergoeding gestem is en 73% ten gunste van die spesiale besluit was.

Die voorstel sou net geldig wees indien 75% van die aandeelhouers dit goedgekeur het.

Dit lyk asof aandeelhouers en die raadgewers wat hulle bystaan dalk nie bewus daarvan dat dié vergoeding ’n “allesinsluitende fooi” is en dat Eloff nie bykomende vergoeding kry vir elke komitee waarin hy dien of elke vergadering wat hy bywoon nie, het Diederik Fouché, onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Astral op navraag aan Sake gesê.

Daarom is een van die opsies wat nou oorweeg word, om die vergoeding nie as ’n allesinsluitende bedrag te rapporteer nie maar die struktuur van die vergoeding te verander sodat elke komponent afsonderlik aangetoon word, verduidelik Fouché.

“Dit sal baie duidelik en deursigtig aan aandeelhouers gekommunikeer word.”

Fouché sê die JSE vereis dat ’n genoteerde maatskappy ’n direksie met ’n voorsitter moet hê.

“ ’n Maatskappy kan dus nie bekostig om sonder ’n voorsitter te wees nie en dis ook nie so maklik om een te bekom deesdae nie, so ons is genoodsaak om ’n oplossing te vind.”

’n Verklaring oor die volgende stappe sal binnekort uitgereik word, sê Fouché.

Volgens Clark is die les hieruit vir maatskappye dat hulle met die raadgewers van buitelandse aandeelhouers, soos ISS, in gesprek moet tree en uitvind wat hul vereistes is.

“Maar dis nie so maklik om hulle in die hande te kry nie, daar is maar min oor hulle bekend.”

Fouché sê op sy beurt dit lyk asof aandeelhouers wat sterk voel om teen ’n voorstel te stem, meer moeite doen om vergaderings by te woon as diegene wat ten gunste daarvan is.

“Ons sal moet verseker dat ons almal op die vergaderings teenwoordig kry.”

Eloff het nog nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Astral  |  Iss  |  Theuns Eloff  |  Hoenders  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.