Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Astral pomp al water uit die Vaal vir sy hoenders
’n Foto van ’n deel van Astral se aanleg in Standerton. Foto: GOOGLE MAPS

Die waterkrisis by Standerton kos die pluimveegroep Astral al minstens R85 miljoen, en Astral het nog R10 miljoen belowe om die plaaslike munisipaliteit te help om sy waterinfrastruktuur op te knap.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het Maandag gesê hy is verstom dat die regering ’n fiksasie het met die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie en nou megastede en sneltreine, maar nie basiese dienste aan bestaande maatskappye soos Astral kan voorsien nie.

Benewens ’n hofbevel wat Astral teen die munisipaliteit gekry het om ’n langtermynplan oor die herstel en verbetering van munisipale waterinfrastruktuur voor te lê, het Astral ’n tussentydse noodplan met die Lekwa-munisipaliteit gereël om die waterkrisis op te los.

Hiervolgens het die munisipaliteit onderneem om minstens 2 megaliter behandelde water per dag aan Asral se Goldi-aanleg via die munisipale infrastruktuur te voorsien. Die munisipaliteit het verder vir Astral “aangestel” as nooddiensverskaffer. Dit beteken Astral mag 3,5 megaliter per dag van sy watertoekenning oor die volgende 24 maande self regstreeks uit die Vaalrivier pomp.

Astral het infrastruktuur op een van sy hoenderplase langs die Vaalrivier opgerig om water uit die rivier te pomp. Die water word dan met tenkvragmotors na ’n filtreer-aanleg by die Goldi-fabriek geneem.

Andy Crocker, besturende direkteur van Astral se kommersiële afdeling, sê die maatreël beteken Astral het genoeg water om sy fabriek aan die gang te hou, hoewel dit aansienlik duurder is. Dit sal wel toelaat dat die personeel by die aanleg so gou moontlik na normale skofroosters kan terugkeer.

In die ergste tyd van die krisis is daar vir sewe dae geen water aan die fabriek gelewer nie.

Die Goldi-aanleg het 5,5 megaliter water per dag nodig om twee miljoen braaikuikens per week te verwerk. Maar die munisipaliteit kon nie eens die 4 megaliter per dag lewer wat ingevolge ’n hofbevel verkry is nie.

In die ergste tyd van die krisis is daar vir sewe dae geen water aan die fabriek gelewer nie, en is Astral gedwing om produksie tot 50% te verminder, met die gevolglike negatiewe impak op werkers, verskaffers, die aanleg self en die omliggende gemeenskap.

Astral het luidens ’n verklaring oor die jare heen die munisipaliteit al baie gehelp om waterinfrastruktuur te herstel en in stand te hou. ’n Onlangse voorbeeld was die terugspoel-pomp by die watersuiweringsaanleg wat binne 24 uur vervang is toe dié pomp gebreek het.

Schutte sê pres. Cyril Ramaphosa vra mense moet plaaslik geproduseerde produkte koop, maar dan moet Astral in staat wees om dié plaaslike produkte binne ’n betroubare munisipale omgewing te kan lewer.

“Ons word gedurig gebombardeer met retoriek oor internasionale mededingendheid, die behoefte om landelike landbouverwerking te laat groei, werk te skep in landelike gemeenskappe en om voedselsekerheid te verseker, terwyl Astral, die grootste produsent van bekostigbare hoendervleis in Suid-Afrika, sy eie potjie moet krap met skaars meer as ’n emmerstelsel se watervoorsiening.”

Volgens Schutte lyk dit of die regsroete die enigste manier is om vas te stel watter regeringsvlak uiteindelik vir die instandhouding van munisipale infrastruktuur verantwoordelik is.

Meer oor:  Astral  |  Standerton  |  Hoender  |  Watertekort  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.