Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Astral se aandeelhouers glimlag oor enorme dividend

Suid-Afrika se grootste pluimveegroep, Astral, wil oor die volgende drie jaar meer as R1,3 miljard in die Suid-Afrikaanse ekonomie inpomp.

Astral se pluimveeafdeling, met handelsname soos Goldi in sy stal, het sy inkomste in die ses maande tot einde Maart met 23% tot R5,5 miljard verhoog. Foto:

Die wins van die maatskappy, met handelsname soos County Fair en Goldi in sy stal, het in die ses maande tot einde Maart vyfvoudig verbeter teenoor die vorige ooreenstemmende tydperk.

Hy het ook sy aandeelhouers Maandag breed laat glimlag met ’n dividend wat 455% hoër is as ’n jaar gelede – die uitkering het van R1,80 tot R10 per aandeel opgeskiet.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, skryf die goeie vertoning toe aan hoër verkoopsvolumes in twee van sy bedrywighede: braaikuikens, wat met 12,6% gestyg het, en voer, met 7%.

“Dan het die prys van hoender ook gestyg, weens prysverhogings en die invloed van laer pekelwatervolumes,” sê Schutte.

Hiermee gee Schutte te kenne dat die perk op hoeveel pekelwater in bevrore hoender mag wees hulle nié seergemaak het soos hulle in aanloop tot die regulasies aangevoer het nie. Astral het verpakkings kleiner gemaak en pryse verhoog en só dié probleem in ’n geleentheid omgeskep.

Laer voerkoste en groot vordering die afgelope vyf jaar om meer doeltreffend te boer, het die winsmarge van 3,7% tot 15,7% opgestoot.

Schutte sê Astral gaan nie sy kontant opgaar nie, maar eerder herbelê.

“Ons gaan drie goed doen: Belasting betaal, soos enige goeie Suid-Afrikaanse burger behoort te doen; ons gaan dividende betaal; en ons gaan in ons eie bedrywighede herbelê.

Hoewel die voëlgriep-uitbreking onder beheer is, kan die siekte in die kouer maande weer toeslaan en ons hou die situasie dop.
Chris Schutte van Astral

“Al drie daardie goed is eintlik ’n herbelegging in die Suid-Afrikaanse fiskus, so as die regering vir ons die regte omgewing skep waarin ons kan boer, sal ons dit terugpomp in die ekonomie en werk skep.”

Wat vooruitsigte vir die tweede helfte van die boekjaar betref, verwag Schutte nie enige skerp verhogings in die mielieprys nie, maar die prys van sojakoek het heelwat gestyg weens vrese oor ’n moontlike handelsoorlog tussen China en Amerika wat baie nadelig vir die sojaboonmark sal wees.

BTW

Verbruikers is steeds onder druk ondanks groter optimisme oor die land se ekonomiese vooruitsigte.

“Die verhoging van een persentasiepunt in die BTW-koers sal verbruikersbesteding demp en Astral sal aanhou druk toepas dat die regering hoendervleis, as die voorkeurbron van proteïne, van BTW vrystel.”

BTW (belasting op toegevoegde waarde) het in April van 14% tot 15% gestyg.

Schutte sê hy is baie dankbaar dat die regering nou ’n paneel kenners aangestel het om die kwessie opnuut te ondersoek.

Voëlgriep

Oor voëlgriep het Schutte gesê die maatskappy het verlede winter deurgeloop, maar danksy gebeurlikheidsplanne nie produksievolumes ingeboet nie.

“Hoewel die voëlgriep-uitbreking onder beheer is, kan die siekte in die kouer maande weer toeslaan en ons hou die situasie dop.”

Astral bestee baie meer geld aan opsporing en vernietiging van skadelike organismes en Schutte sê die verskerpte maatreëls en die hoër koste wat daarmee gepaard gaan, word nou deel van die maatskappy se kostestruktuur.

Hy het sy kommer uitgespreek omdat ingevoerde hoenderprodukte nie in die hawens vir onder meer listeriose getoets word nie.

“Dit kan tog nie wees dat daar verskillende reëls geld vir plaaslike produsente en invoerders nie. En as ons nie weet watter moontlike siektes die land binnekom nie, hoe gaan ons dit bestuur? Ek dink dit is ’n voetfout en dit moet reggestel word.”

Hy sê daar is ’n wanpersepsie oor listeriose omdat die departement van gesondheid gesê het die oorsprong is gevind en die siekte is uitgewis.

“Maar daar is tog die afgelope tyd bewys dit is nie so nie. Listeriose het nie ’n oorsprong nie, hy is teenwoordig. As ’n maatskappy dit verkeerd bestuur, kan dit deur jou produk of jou verspreidingsnetwerk versprei.”

Meer oor:  Astral  |  Listeriose  |  Pekelwater  |  Voëlgriep  |  Hoender  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.