Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Astral se Chris Schutte moet hartoperasie kry

Chris Schutte, uitvoerende hoof van die pluimveeprodusent Astral, gaan geruime tyd “afgeboek” wees omdat hy hartchirurgie moet ondergaan.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods. Foto: Vida Booysen

Schutte, wat ’n geskiedenis van hartprobleme het, word op 19 Augustus geopereer, sê die genoteerde maatskappy in ’n Sens-verklaring.

“Dis ’n hoërisiko- chirurgiese ingryping met ’n lang hersteltydperk en daarom sal Chris Schutte met siekteverlof wees om aan te sterk, soos deur sy dokters voorgeskryf. Mnr. Schutte se terugkeer kantoor toe sal op ’n toepaslike tyd gekommunikeer word.”

Die maatskappy sê hy het ’n bevoegde bestuurspan wat alle bedryfsake kan behartig. Daan Ferreira, die groep se finansiële hoof, sal die “sentrale kontakpersoon” wees in Schutte se afwesigheid.

Astral se direksie wens hom en sy gesin sterkte toe “in hierdie veeleisende tyd”, luidens ’n nuusverklaring wat ook uitgestuur is.

Die maatskappy spesifiseer nie die aard van die operasie nie. Die hersteltydperk ná hartvatomleidings is volgens WebMD ’n minimum van vier tot ses weke, maar ander prosedures se hersteltydperk kan tot 12 weke wees, mits daar geen komplikasies is nie.

Schutte het in Mei in ’n onderhoud op 702 se The Money Show gesê het hy sy eerste hartaanval op 30 jaar gehad en het al vyf gehad – “en ek is nog hier”. 

“My houding was werk hard, en werk langer ure. In die pluimveebedryf is daar nie eintlik ’n ander manier nie.”Schutte is 58 jaar oud. Hy is al tien jaar uitvoerende hoof van die maatskappy.

Astral het die afgelope jaar of wat heelwat uitdagings.

Dit sluit in die ineenstorting van waterinfrastruktuur in Standerton, waar die groep ’n hoenderverwerkingsaanleg het. Dit kos Astral nou al miljoene rande, deels om self water te pomp en deels weens die produksieperke en verliese wat die waterkrisis meebring.

Schutte het einde Junie gesê hy is verstom dat die regering ’n fiksasie het met die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie en nou megastede en sneltreine, maar nie basiese dienste aan bestaande maatskappye soos Astral kan verskaf nie.

“Ons word gedurig gebombardeer met retoriek oor internasionale mededingendheid, die behoefte om landelike landbouverwerking te laat groei, werk te skep in landelike gemeenskappe en om voedselsekerheid te verseker, terwyl Astral, die grootste produsent van bekostigbare hoendervleis in Suid-Afrika, sy eie potjie moet krap met skaars meer as ’n emmerstelsel se waterverskaffing.”

Meer oor:  Astral  |  Chris Schutte  |  Hoenders  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.