Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Aussies stry oor die eet van volstruisvleis

Ná ’n plasing op Facebook heers daar in sekere kringe in Australië ’n vurige debat oor hoe mense dit oor hul hart kan kry om ’n volstruis te eet, terwyl sommige mense selfs vies is oor Suid-Afrikaanse volstruisvleis wat in Britse winkels te koop is.

‘Wat eet jy?’ Australiërs kan nie saamstem oor die eet van volstruisvleis nie. Sommiges glo dit is onmenslik om hierdie voëls se vleis te eet. Foto: Unsplash

Die een groep sê daar is niks fout met ’n stukkie volstruisvleis op die bord nie en vra selfs waarom kan volstruisvleis nie ook in hul winkels te koop aangebied word nie. Die ander groep sê dit walg hulle om te dink mense eet wel die vooraf geskroeide volstruissteaks wat die Britse Aldi-kettingwinkels verkoop.

Aldi is ’n groot Duitse kettinggroep wat kruideniersware verkoop, met winkels in Brittanje en Australië.

Volgens Business Insider kos die steaks, al die pad van Oudtshoorn, sowat R320 ’n kilogram.

Die groot debat het glo begin toe iemand op Facebook op ’n groep genaamd Aldi Mums gewys het hoe Aldi-winkels in Brittanje die steaks verkoop. Dié groep is geskep vir “ma’s wat hou van Aldi” en het meer as 177 000 lede. Die persoon skryf dit sal so “cool” wees as dit ook in Australië te koop is.

Die plasing het egter baie kritiek ontlok met baie mense wat kommentaar gelewer het soos dat die eet van volstruisvleis “onmenslik en aaklig” is. Van hulle het ook hul neus opgetrek vir die steaks en gevra dat die arme voëls eerder met rus en vrede gelaat word, berig The Daily Mail.

Ander het teruggekap en gesê volstruisvleis is soos hoendervleis. Hulle het sommer ook probeer om die “teengroep” op te voed oor hoe daar nou eintlik met volstruise geboer word.

Die produk waaroor al die bohaai gaan, bestaan uit twee volstruisfillette wat vooraf geskroei is en dit word onder die handelsnaam The Lions Kingdom verkoop. Dit word verpak deur Klein Karoo International in Oudtshoorn en 'n pakkie weeg 250 gram.

Die steaks is blykbaar nie so algemeen op winkelrakke in Brittanje nie, maar Sainsbury verkoop dieselfde produk, teen £5,25 (R420 per kilogram).

By Sainsbury-winkels waar dit wel verkoop word, is dit saam met eend en wildsvleis op die rakke.

Dit is nie die eerste keer dat “eksotiese” volstruisvleis die nuusopskrifte in Brittanje haal nie. Britte skop wel nie soveel stof op oor die beskikbaarheid en eet daarvan nie, want in ’n land waar wildsvleis in baie winkels te koop is, is volstruisvleis nie vreemd nie, berig Business Insider.

Meer oor:  Vleisbedryf  |  Landbou  |  Volstruisbedryf  |  Uitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.