Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Bedryf staal hom vir voëlgriep in die winter

Die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf staal hom reeds vir die uitbreking van voëlgriep vanjaar.

Dít blyk uit die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) se oorsig aan die media oor sy bedrywighede in 2017.

Daarin word een van die vernaamste uitdagings vir vanjaar beskryf as die “waarskynlike” uitbreking van voëlgriep in die winter van 2018.

Die gevoel in die bedryf is dat dié siekte, wat verlede jaar tot ’n styging van 20% in Suid-Afrikaanse eierpryse gelei het, nou wêreldwyd endemies geraak het.

“Die hoogs aansteeklike virus het sedert 2016 blitsvinnig wêreldwyd versprei, hoofsaaklik weens wilde trekvoëls wat pluimvee en ander voëls aansteek,” lui Sapa se verslag.

Die uitbreking in 2017 het sowel die positiewe as negatiewe aspekte van die land se reaksievermoë teen die siekte uitgelig, sê Sapa.

“Nasionale owerhede moet beter voorbereid wees om die uitbrekings van voëlgriep in Suid-Afrika te hanteer,” lui die verslag.

Voorstelle hiervoor sluit die verbetering van inligtingstelsels in, asook die instelling van vroeë waarskuwingstelsels en versterkte monitering van die siekte in wilde voëls en pluimvee.

“Gebeurlikheidsplanne word op nasionale en streeksvlak vereis en strukture behoort versterk te word op grond van dié planne.”

Gemeet in randwaarde bly die pluimveebedryf die grootste sektor in die Suid-Afrikaanse landbou. Die sektor het volgens Sapa in 2017 ’n bydrae van 19,8% van die land se landbouproduksie gelewer en 40% van die land se diereproduksie. Die beesvleisbedryf is die tweede grootste op 13,2% van alle landbouproduksie en 26,7% van alle diereproduksie.

Omtrent 76,4% van die pluimvee in die Suid-Afrikaanse bedryf word vir vleisproduksie gebruik, terwyl die orige 23,6% in die eierbedryf ingespan word.

Weens die uitwissing van veral lêhenne weens voëlgriep in 2017 het die nasionale voorraad met 6,6% gedaal. Die dalende neiging sal volgens Sapa in die eerste vier maande van 2018 voortduur. Die vereniging verwag ’n verdere daling van 3,9% wat die weeklikse eierproduksie met ’n verdere 3,5% sal laat daal.

Die gewildheid van hoendervleis onder Suid-Afrikaners neem steeds toe en dié vleissoort word by verre die meeste geëet, met ’n per capita-verbruik van 38,89 kg in 2017. Eiers se per capita-verbruik was 7,28 kg in 2017. Hierteenoor was beesvleis se per capita-verbruik 17,84 kg.

“Op ’n grondslag van rand-per-kilogram is braaihoender en eiers steeds die bekostigbaarste van alle bronne van vleisproteïne,” lui die verslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.