Lewendehawe-agente wat met veilings voortgaan ondanks ’n tydelike verbod om die verspreiding van bek-en-klouseer te keer, kan die rooivleisbedryf sy Chinese mark kos.

Daar is ’n tydelike verbod op veeveilings in Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes om te keer dat bek-en-klouseer versprei.
Suid-Afrika het sommige handelsvennote oortuig dat streng beheermaatreëls bestaan en daarom is hulle nog geneë om Suid-Afrikaanse beesvleis en produkte te ontvang.
Een van dié lande is China, wat in die laaste drie maande sowat 10 000 ton beesvleis uit Suid-Afrika ingevoer het, sê Koos van der Ryst, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
“As ons die Chinese mark nou verloor, sal dit katastrofies vir die hele rooivleisbedryf wees,” sê Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO.
Die jongste uitbreking van bek-en-klouseer drie weke gelede in Limpopo kan die plaaslike beesvleisbedryf verder knou.
Produsente is reeds swaar getref deur ’n verlies aan uitvoer en laer produsentepryse nadat bek-en-klouseer in Januarie in die Vhembe-distrik in Limpopo gevind is. Dit het tot ’n uitvoerverbod na sekere lande gelei, sê Van der Ryst.
Nou is daar ook ’n tydelike verbod op veeveilings in Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes om te keer dat die siekte versprei.
Die afslaersbedryf verwag dat sommige afslaerhuise binnekort met veilings sal probeer voortgaan, maar vir nou hou almal hulle by die reëling, sê Johan Minnaar van die Suid-Afrikaanse Federasie van Lewendehawe-afslaers (SAFLA).
Ná die Vhembe-uitbreking het die internasionale dieregesondheidsorganisasie (OIE) Suid-Afrika se status as vry van bek-en-klouseer opgehef.
Die nasionale dieregesondheidsforum (NAHF) het Donderdag gesê in die jongste uitbreking is bek-en-klouseergevalle reeds op 10 persele in die Capricorn-distrik bevestig.
Schutte sê dis problematies dat die omvang van die siekte nog onbekend is.
Schutte meen Suid-Afrika sal nie gou sy status as vry van bek-en-klouseer terugkry nie, maar benadruk dis belangrik dat uitvoer voortgaan. Hy sê om ons handelsvennote te oortuig dat beheermaatreëls bestaan, moet almal streng by die reëls hou. Dít volg nadat sommige agente ondanks die verbod met veilings voortgegaan het.
Van der Ryst sê enigeen wat verantwoordelik is vir die verspreiding van bek-en-klouseer, kan siviel of strafregtelik vervolg word.