Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Bek-en-klouseer-gerug is vals’

Die nuus dat die Vhembe-distrik in Limpopo nou vry is van bek-en-klouseer is volgens die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vals.

Dr. Botlhe Modisane, tegniese woordvoerder oor die siekte, het gister gesê dat ’n verklaring waarin gemeld word dat die siekte nou nie meer in dié distrik voorkom nie van alle waarheid ontbloot is.

“Ondersoeke na die voorkoms van bek-en-klouseer het daarop gedui dat daar steeds plase in die Limpopo-provinsie is waar die siekte voorkom. Hierdie gebiede is steeds onder kwarantyn totdat diagnostiese toetse afgehandel is en daar bepaal word of die siekte inderdaad die wyk geneem het,” sê Modisane.

Volgens Guillau du Toit, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging, het die situasie nog geensins verander wat betref die voorkoms van die siekte en die verbod op die verskuiwing van vee landwyd nie.

“Alles is nog dieselfde en bly nog dieselfde ten opsigte van die verskuiwing van vee soos gemeld in die eerste verklaring wat deur die departement uitgereik is.

“Dit blyk egter dat elke provinsie sy eie praktyk en toepassing daarvan volg, want ek hoor baie teenstrydighede in die veld oor provinsiale grense.

“Dit bring natuurlik verwarring mee oor wat die situasie nou eintlik is,” sê Du Toit.

Volgens Modisane is die verbod op die verskuiwing van diere met gesplete hoewe van twee of meer eiendomme na twee ander eiendomme steeds van toepassing oor die hele land heen, soos aangekondig in die Staatskoerant op 4 Desember verlede jaar, steeds van krag.

Die kennisgewing verbied egter nie die verskuiwing van diere van een plaas na ’n ander nie, asook nie die hou van privaat veeveilings op individuele plase nie.

Die situasie sal eers hersien word wanneer ál die betrokke eiendomme as vry van bek-en-klouseer verklaar word en daar sekerheid is dat die siekte nie verder sal versprei nie.

“Die departement raai boere steeds aan om vermeende uitbrake van bek-en-klouseer by die naaste staatsveearts aan te meld,” sê Modisane.

Meer oor:  Limpopo  |  Bek-En-Klouseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.