Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Bek-en-klouseer is beheer, maar...

Die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo is oënskynlik in bedwang, maar die land sal nog lank moet wag om die dieregesondheidsorganisasie (IOE) te vra om dit te bevestig.

Suid-Afrika se uitvoer van rooivleis is grootliks opgeskort weens bek-en-klouseer.

Die departement van landbou sê geen nuwe kliniese gevalle van bek-en-klouseer is in die laaste sowat ses weke geïdentifiseer nie en alle serumtoetse vir die siekte was negatief.

Amptenare van die departement berei dokumente voor vir Suid-Afrika se aansoek by die OIE om weer bek-en-klouseervrye status te kry, maar die OIE se vergadering waarop dié kwessies bespreek word, vind eers in die tweede helfte van die jaar plaas, sê Khaye Nkwanyana, ministeriële woordvoerder.

Suid-Afrika het die status vroeg in Januarie verloor toe enkele gevalle van bek-en-klouseer in die Vhembe-distrik geïdentifiseer is.

Die siekte is hoogs aansteeklik en raak beeste, skape, varke, bokke en ander diere met gesplete hoewe.

Toe Suid-Afrika in 2011 ook sy bek-en-klouseervrye status verloor het, het dit drie jaar geneem om dit terug te kry, het Tracy Davids, bestuurder van kommoditeitsmarkte van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), vroeër aan Rapport gesê.

In 2017 het Suid-Afrika beesvleis ter waarde van meer as R2 miljard uitgevoer (lewende diere uitgesluit), het sy gesê.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) raam dit kan die land tot R6 miljard per jaar kos wanneer daar ’n bek-en-klouseer-uitbreking is, het Farmer’s Weekly berig.

Nkwanyana sê die verbod op uitvoer raak die rooivleisbedryf erg omdat Suid-Afrika die grootste uitvoerder van rooivleis in Afrika is. Dit het gelei tot veel meer rooivleis op die plaaslike mark en pryse is verlaag om verkope aan te moedig.

Nie die Nasionale Dieregesondheidsforum of die departement kon vandeesweek sê wat die verbod op uitvoer die land tot dusver kos nie.

Die grootste markte vir Suid-Afrikaanse beesvleis is die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Koeweit en Jordanië, Mosambiek en Swaziland.

Davids het gesê uitvoer na Hongkong en die res van China het ook die laaste tyd gegroei. In 2016 was Suid-Afrika verantwoordelik vir 0,3% van die wêrelduitvoer van beesvleis.

Nkwanyana sê die departement het suksesvol onderhandel vir die hervatting van beesvleis-uitvoer na Bahrein, Egipte, Jordanië, Koeweit, Lesotho, Mosambiek, Katar, Swaziland en die VAE. Onderhandelinge met Namibië oor beesvleis en met Botswana oor vark gaan voort.

Markte vir suiweluitvoer is grootliks heropen, maar sekere markte vir die uitvoer van leer, velle en wol word nog geraak. Onderhandelinge gaan voort oor produkte wat verwerk word waartydens die virus vernietig word, het die departement Donderdag gesê.

Senzeni Zokwana, minister van landbou, het die Chinese ambassadeur ontmoet oor die voortsetting van handel en toelating van veilige produkte uit Suid-Afrika.

Ingevolge die OIE se reëls het elke land wat uit Suid-Afrika invoer, steeds die reg om sy eie vlak van beskermingsmaatreëls in te stel. Daar kan dus nie aanvaar word uitvoermarkte vir veilige produkte is outomaties oop wanneer die uitbreking gestuit is nie, waarsku die departement.

Intussen vorder die departement met die hulp van boere en van staats- en private veeartse goed om die siekte te beheer.

Die Dieregesondheidsforum sê begin vandeesmaand was meer as 24 000 beeste in die siektebeheergebied reeds ingeënt. Dit sluit in 13 500 beeste in die voormalige vrye sone en 10 500 in die siekte-beskermingsgebied.

Nkwanyana sê die gebied is steeds onder kwarantyn en geen diere beweeg in of uit die gebied nie. “Danksy die intensiteit van die ingrypingsprogramme om die siekte te beheer, is geen nuwe gevalle gevind nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.