Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Bek-en-klouseer: Miljarde op die spel vir landbou

Die plaaslike rooivleisbedryf kan verliese van miljarde rande ly weens die jongste uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo, wat tot ’n opskorting van die uitvoer van gesplete hoefdierprodukte gelei het.

Veral beesvleisuitvoer gaan ernstig geknou word indien Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor, soos nou waarskynlik gaan gebeur.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie reken dit kan die land tot R6 miljard jaarliks kos as Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor, berig Farmers Weekly.

Volgens Tracy Davids, bestuurder van kommoditeitsmarkte by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), het Suid-Afrika in 2017 beesvleis ter waarde van meer as R2 miljard uitgevoer. Dit sluit lewende diere uit.

Dr. David Spies, ’n landbou-ekonoom van die Noordwes-Universiteit, sê as dié syfer in ag geneem word, kan die groter skade weens die jongste uitbreking maklik miljarde beloop.

Volgens Davids kom die uitbreking op ’n slegte tyd nadat Suid-Afrika van 2011 tot 2014 geveg het om sy bek-en-klouseervrye status van die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie (IAO) te herwin ná die 2011-uitbreking.

Sedertdien het uitvoer van beesvleis skerp gegroei.  

beesvleis, rooivleis, vleis

  

Die departement van landbou het Maandag bevestig hy het die IAO ingelig oor positiewe toetse vir bek-en-klouseer in die Vhembe-distrik.

Landboukenners sê dit is kommerwekkend dat dié gevalle in die vrye sone is waar inenting nie verpligtend is nie. Gesonde diere sal nou waarskynlik almal ingeënt moet word om te keer dat die siekte verder versprei, maar dit is nie so eenvoudig nie omdat daar verskillende stamme van die hoogs aansteeklike siekte is.

Dr. Pieter Vervoort, besturende direkteur van die Nasionale Dieregesondheidsforum, sê net ’n handjievol diere is ter sprake. Die gevalle is wel in ’n gebied wat as hoërisiko geklassifiseer word met baie streng monitering.

Vervoort sê almal werk saam om die uitbreking so vinnig moontlik in bedwang te bring. Talle vergaderings is dié week gehou en rolspelers sal môre met die minister en verteenwoordigers van die departement van landbou vergader voordat aksieplanne bekend gemaak sal word.

Khaye Nkwanyana, woordvoerder van die departement, het Vrydag aan EWN gesê daar word oorweeg om die siek diere van kant te maak, maar kon nie sê hoeveel diere ter sprake is of wat dit sal kos nie.

Die gebied waar die siekte opgespoor is, is onder kwarantyn.

Aansteeklik
Die siekte raak beeste, varke, skape, bokke en ander diere met gesplete hoewe en is hoogs aansteeklik.

Khani Hlungwani, ’n ontleder by BFAP, sê die beesvleisbedryf sal die ergste geraak word vanweë sy groot bydrae tot die landbou-BBP en omdat dit ’n netto uitvoerder is.

Sy sê die grootste deel van die land (buiten die Krugerwildtuin en seker beheergebiede in daardie omgewing) val binne die vrye sone en word dus geraak.

Vervoort het benadruk dat die siekte geen gevaar inhou vir mense wat beesvleis eet nie. ’n Groot impak word nie noodwendig in dié stadium op die plaaslike verbruikersmark voorsien nie.

Volgens Davids beteken die opskorting van beesvleisuitvoer uit die vrye sones wel ’n verlies aan inkomste en markaandeel vir Suid-Afrika.

“Invoerders van ons beesvleis kan ander markte vind en dit sal moeilik wees om later jou verlore markaandeel te herwin.”

Die grootste markte vir Suid-Afrikaanse beesvleis is die Verenigde Arabiese Emirate, Koeweit en Jordanië, asook Mosambiek en Swaziland.

Uitvoer na China en Hongkong het die laaste ruk skerp gegroei. In die derde kwartaal van 2017 het dié twee bestemmings minder as 5% van Suid-Afrika se beesvleisuitvoer uitgemaak. Einde 2018 was dit reeds sowat 20%.

In 2016 was Suid-Afrika verantwoordelik vir 0,3% van die wêrelduitvoer van beesvleis.

Spies sê Suid-Afrika is die afgelope sowat vyf produksieseisoene ’n netto uitvoerder van beesvleis en het groot potensiaal om sy markte uit te brei.

Spies sê die grootste struikelblok is dat bio-siektes dié moontlike uitbreiding na ander markte kelder. Die naspeurbaarheid van diere is ook ’n probleem omdat ’n identifiseringstelsel nog nie gereed is nie. Dit keer dat ons winsgewende markte soos die Europese Unie ten volle kan ontgin.

  

beesvleis, rooivleis, vleis
Meer oor:  Beeste  |  Beesvleis  |  Rooivleis  |  Bek-En-Klouseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.