Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Bek-en-klouseer: Talle veilings help vleisbedryf

’n Dag nadat die verbod op veeveilings opgehef is, is die eerste een reeds gehou, en een agent beplan ses veilings binne vier dae om die vleisbedryf so gou moontlik weer aan die gang te kry.

Thoko Didiza, minister van landbou.

Afslaers, lewendehawe-agente en vleisprodusente slaak ’n sug van verligting oor die opheffing Maandag. Hulle het miljoene rande verloor sedert die verbod in Desember ingestel is om die verspreiding van die hoogs aansteeklike bek-en-klouseer te bekamp.

Thoko Didiza, minister van landbou, het Maandag gesê veilings kan hervat word onderhewig aan streng maatreëls.

Verteenwoordigers van Vleissentraal het vroeër aan Rapport gesê dié veilingshuis, die grootste in die land, verloor sowat R100 miljoen per maand in omset net in Limpopo.

Anton Vos, besturende direkteur van Vleissentraal, meen die bedryf kan binne die volgende 30 tot 60 dae stabiliseer. Hoewel ’n groot aanbod van beeste verwag kan word omdat boere hul diere drie maande lank nie kon laat opveil nie, sal die vraag van voerkrale ook hoër wees omdat hulle nou vinnig diere moet inkry om gereed te wees vir lewering oor die Paastyd, verduidelik hy.

Roelie van Reenen, direkteur van verskaffing by die Beefmaster Group, sê die veilingbedryf is tradisioneel stiller van middel Desember tot vroeg in Januarie. Dit hang ook van die speentyd af. Produsente in Mpumalanga begin nou kalwers speen en aanbied, terwyl Wes-Kaapse produsente dit eers teen Oktober doen.

Vos sê selfregulering in die bedryf is noodsaaklik, want die jongste uitbreking het gewys watter skade aangerig kan word as almal nie by die reëls hou nie. Van Reenen sê die hele bedryf moet verantwoordelikheid aanvaar en kan nie alles aan die regering oorlaat nie. Daarom is selfregulering die beste uitweg.

Volgens Vos is dit nie nuwe maat­reëls wat geld nie, maar nie almal hou by wetlike vereistes soos dat alle diere wat op veilings aangebied word, gebrandmerk moet wees nie.

Veilinghuise, agente en afslaers sal voortaan baie streng oor dié soort reëls wees en deur die Landbouprodukte-agenteraad (Apac) optree as dit lyk of bioveiligheidsmaatreëls soos die was van voertuie omseil word.

Alle lewendehawe-agente se registrasie by Apac moet op datum wees.

Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), sê ondanks die negatiewe impak van die verbod, het die streng maatreëls Suid-Afrika se belangrikste uitvoermarkte beskerm. Veral China is ’n belangrike uitvoermark en het die laaste paar jaar vinnig gegroei.

Didiza het gesê die siekte in die bek-en-klouseervrye sone het nog nie opgeklaar nie. Daar lê ’n lang pad voor voordat Suid-Afrika sy status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) as vry van bek-en-klouseer sal herwin. Intussen kan lande individueel besluit of hulle vleis uit Suid-Afrika wil invoer.

Van der Ryst sê die RPO is ten gunste van ’n vrywillige naspeurbaarheidstelsel, die Livestock Identification and Traceability System (LITS) SA. Verskeie lande, waaronder Namibië, het sulke stelsels wat die presiese beweging van elke dier volg.

Didiza het Maandag gesê met dié stelsel sal Suid-Afrika makliker toegang tot meer uitvoermarkte kry.

Volgens die departement is sowat 160 persele geïdentifiseer wat verbind kon word met die veilings waar die uitbreking begin het. Die persele is onder kwarantyn geplaas, kliniese inspeksies is gedoen en monsters geneem om vir besmetting te toets. Tot dusver is die kwarantyn as voorsorgmaatreël by 90 persele opgehef.

Op 18 plase – die meeste daarvan kommersiële beesboerderye – is diere positief getoets vir bek-en-klouseer. Dié plase is almal goed omhein en behoorlike registers word gehou.

Volgens die departement kon beheermaatreëls gevolglik doeltreffend ingestel word sonder dat dit nodig was om nood-inentings te doen, padversperrings op te stel of diere van kant te maak.

Meer oor:  Vleisbedryf  |  Veilingsverbod  |  Rooivleis  |  Veilings  |  Bek-En-Klouseer  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.