Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Belangrik om regte mense op goeie landbougrond te hê’ – Agri SA

Goeie landbougrond in Suid-Afrika word al hoe skaarser.

Daarom is dit belangrik wat die toewysing van goeie landbougrond betref, die regte mense daarop geplaas moet word wat die produksie op dié grond kan volhou.

Dit is die mening van Annelize Crosby, Agri SA se grondhoof.

Annelize Crosby

Haar reaksie volg op ’n beleidsdokument wat vroeër vandeesmaand vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer is.

Dié dokument bepaal beleid vir alle grondtoewysings deur die regering vir klein-, bestaans-, middelslag- en groot boerderye, sowel as vir huisvesting, nywerheidsontwikkeling en gemeenskapsgrond.

Vroue, gestremdes en oorlogsveterane van die ANC moet luidens die dokument die hoofbegunstigdes wees van grond wat deur die staat beskikbaar gestel sal word.

“Dit is positief dat die departement wel vir kommentaar vra en almal die geleentheid gee om hul insette te lewer.

“Dit is goed dat al die kategorieë van grond gedek word, sê Crosby.

“Terselfdertyd moet ek sê dit is na ons mening baie ambisieus.

“Die kriteria is maar ‘yl’, terwyl ’n omvattende stel kriteria vir elkeen nodig is.”

Wat volgens Crosby interessant is, is dat waar daar in die dokument gepraat word van waar die grond sal kom, nie van onteiening sonder vergoeding gepraat word nie.

“Uit ons perspektief is dit goeie nuus. Daar word gepraat van staatsgrond en grond wat geskenk, of teruggeneem is, ensovoorts.”

Crosby sê die staat kan grondhervorming nie op sy eie laat slaag nie – veral nie wanneer dit kom by die opleiding van die begunstigdes nie.

Dit geld ook die keuringsproses.

Grond wat toegewys word, sluit in grond wat deur banke teruggeneem is, asook grond wat in die ope mark bekom is.

“Die staat sal baie swaar moet steun op die private sektor. Myns insiens is daar nie genoeg erkenning vir dié samewerking nie.”

Op sy beurt sê die landbou-organisasie Saai dit lyk asof die voorgestelde beleid die grondherverdelingsdebat vooruitloop omdat dit lyk asof die wysiging van art. 25 van die Grondwet (wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak) volgens die staat ’n uitgemaakte saak is.

“Dit is interessant dat die beleid spesifiek voorsiening maak vir moontlike grondherverdeling aan eggenote van staatsamptenare, munisipaliteite en eiendomsontwikkelaars.

“Grond wat toegewys word, sluit in grond wat deur banke teruggeneem is, asook grond wat in die ope mark bekom is.

“Die beleid swyg egter oor watter vergoeding (indien enige) betaal sal word vir grond wat in die ope mark bekom is,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Hy wys daarop dat grondtoewysing deur ’n sogenaamde nasionale en provinsiale grondtoewysing-en-keuringspaneel behartig word.

Dispute oor grondtoewysing sal nie aan onafhanklike beslegting onderworpe wees nie, maar beslegting deur die direkteur-generaal en die minister.

Dr. Vuyo Mahlati, president van die landbou-organisasie Afasa, wat voorsitter van die presidensiële adviesraad oor grondhervorming en landbou was, was nie Maandag beskikbaar om kommentaar te lewer nie.

* Die parlementêre ad hoc-komitee wat die wysiging van art. 25 van die Grondwet ondersoek, het Maandag ’n beroep op die publiek gedoen om skriftelike kommentaar oor die voorgestelde wysigings te stuur na section25@parliament.gov.za.

Die dokument kan besigtig word by: https://tinyurl.com/yxydm746

Meer oor:  Agri Sa  |  Produksie  |  Grond  |  Landbougrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.