Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Benoude’ boer wil uitbrei, maar banke skop vas

Die regering het die opkomende skaapboer Ettienne van Wyk vyf jaar gegee om homself te bewys op ’n staatsplaas waarop hy in die Noord-Kaap boer, maar binne 18 maande het hy die volle vermoë van die plaas gebruik.

Ettienne van Wyk, ’n opkomende skaapboer van die Noord-Kaap.

Hy het aanvanklik finansiële hulp gekry om skaap te koop, en gou was daar sowat 700 stuks vee op die plaas van 3 800 hektaar.

“Ek het hom vol geboer,” sê Van Wyk.

Maar nou voel hy terselfdertyd “benoud en haastig”. Hy is gereed om uit te brei, maar sukkel om finansiering te kry om ’n plaas te koop, het die energieke boer van Marydale die afgelope week by Agri SA se kongres in Pretoria gesê.

“Ek het ’n passie vir boerdery, ek het goeie mentors en ’n goeie rekenmeester wat my ore draai as ek te haastig is. Ek was by die Landbank, maar hulle wil sekuriteit hê.

“Wat moet ek nou doen? Waar moet ek gaan aanklop?”

Van Wyk sê ’n finansiële plan is nodig om mense soos hy en ander opkomende boere in soortgelyke omstandighede te help.

Van Wyk het as seun van ’n plaaswerker op ’n veeplaas in die Loxton-omgewing van kleins af by sy pa geleer hoe om met vee te werk.

Hy het aan ’n landbouskool en toe die Grootfontein-landboukollege studeer voordat hy eers as voorman en toe senior bestuurder op die einste grootwordplaas aangestel is.

Die boer, Dries Wiese, wat vandag steeds een van sy mentors is, het hom aanbeveel toe staatsamptenare geskikte kandidate gesoek het om op staatsgrond in die Noord-Kaap te boer.

Uit verskeie aanbiedings en paneelbesprekings op Agri SA se kongres was dit duidelik finansiering vir opkomende boere is ’n uitdaging en veroorsaak frustrasie in baie kringe.

Verteenwoordigers uit die banksektor het toegegee streng internasionale vereistes vir finansiële stabiliteit volgens Basel III, en vereistes in die Kredietwet, bemoeilik finansiering van sekere projekte.

Jannie de Villiers, hoof van Graan SA, het gesê die landboubedryf wil vinniger beweeg met grondhervorming as wat die banke kan, en die regulatoriese raamwerk en vereistes vir kommersiële banke word heeltyd as hindernis voorgehou.

Nico Groenewald van Standard Bank se landbousakeafdeling, het gesê ’n banklening van 100% aan ’n beginneronderneming stel so ’n onderneming aan groot risiko bloot.

Die vraag is hoe die finansiering gedoen gaan word as verskeie rolspelers nie in die risiko deel nie. Veral in die geval van transformasie sal die oplossing nie eensydig van die kommersiële banke kan kom nie.

As net een party die risiko dra, moet hy daarvoor begin prys wat dan beteken die transaksie kom nie aan die gang nie weens die hoë koste, sê Groenewald.

Volgens Cobus Wells, hoof van AgriBusiness by Absa, kan oorweeg word om kapitaal beskikbaar te stel aan sekere landbou-ondernemings op hul balansstate om transformasieprojekte te finansier, omdat die landbou-ondernemings nie aan dieselfde streng reëls onderworpe is nie.

Gloria Serobe, uitvoerende direkteur van Women’s Investment Portfolio Holdings Limited (Wiphold), het gesê daar is maniere om finansiering te verskaf sonder titelaktes wat sekuriteit bied.

Wiphold het in 2012 met ’n korporatiewe maatskaplike projek in die Oos-Kaap begin vir winsgewende en volhoubare boerdery op stamgrond. In 2015 het Old Mutual en Nedbank as vennote betrokke geraak en lenings vir bedryfskapitaal gegee. Al die lenings is rentevry met terugbetalings wat teen 2020-’21 sal begin. Die regering het ook toelaes gegee vir die projek.

Daar is nou reeds 2 000 hektaar mielies wat verbou word en sowat 2 200 eienaars wat deel in die sukses. Die grond is nog nooit voorheen vir landbou gebruik nie, maar die gebied het ’n hoë reënval en kan beter opbrengste lewer as baie ander mielieproduserende gebiede, sê Serobe.

Volgens prof. Quinton Johnson, voorsitter van die Suid-Afrikaanse instituut vir grond, erfenis en menseregte, is dit belangrik om ’n nasionale landbou-ontwikkelingsagentskap te stig op die beginsel van ’n vennootskap tussen die staat en private sektor.

Dié agentskap kan onder meer aandag gee aan ontwikkelingsfinansiering in samewerking met die Landbank, asook beleidsimplementering.

Meer oor:  Absa  |  Nedbank  |  Landbank  |  Lenings  |  Opkomende Boere  |  Banke  |  Landbou  |  Grondhervorming  |  Finansiering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.