
Rolspelers het vandeesweek die eerste fase van die meesterplan om die suikerbedryf te probeer red aanvaar.
Alle suikertande in die land word opgeroep tot hoër diens. Daar is werk om die binnelandse vraag na suiker weer op te stoot.
Rolspelers in die suikerbedryf het Maandagaand die eerste fase van die suikerbedryf se meesterplan aanvaar.
Dit beteken al die rolspelers kan nou voortgaan met die plan se fokus om die suikerbedryf oor die volgende drie jaar weer volhoubaar en winsgewend te kry, sê die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging in ’n verklaring.
Suikerrietboere gaan oor die volgende vyf jaar R640 miljoen bydra om kleinboere in die bedryf te help. As deel hiervan sal die kleinboere voorkeurpryse betaal word vir hul produkte.
Nog ’n fokus van die meesterplan is om die plaaslike mark vir suiker oor die volgende drie jaar te hervestig nadat goedkoop suikerinvoer en ’n skerp daling in binnelandse vraag weens die sogenaamde gesondheidsbevorderingsheffing oftewel die suikerbelasting die mark laat krimp het.
Goedkoop suiker van meer as R2,2 miljard is in die afgelope oesjaar ingevoer, en in die lopende boekjaar word weer verwag dat ’n stortvloed goedkoop suiker ingevoer sal word, meen die Suikerrietkwekersvereniging.
Ingevolge die meesterplan sal ’n aanvanklike ekstra vraag van 150 000 ton suiker in die eerste twee jaar geskep word, wat in die derde jaar tot 300 000 ton verhoog sal word.
Klein- en groothandelaars het hulle daartoe verbind om 80% van hul suiker plaaslik aan te koop, as deel van rolspelers se verbintenis tot die meesterplan. Dit sal in die derde jaar tot 95% toeneem.
Die regering het ook beloof hy sal alle staatsdepartemente en staatsondernemings vra om plaaslike suiker aan te koop.
Die meesterplan mik ten slotte om ’n taakspan oor die suikerbelasting op die been te bring om die sosio-ekonomiese uitwerking van die belasting tot dusver te ondersoek. Die Suikerrietkwekersvereniging raam dat die belasting die bedryf al R1,5 miljard gekos het en die verlies van 9 000 poste in die bedryf veroorsaak het.
Die vereniging sê hy het al ’n paar jaar gelede gewaarsku oor die dreigende krisis in die bedryf. Buiten die suikerbelasting en goedkoop suikerinvoer waarvoor daar nie sterk genoeg tariefbeskerming is nie, het ongekende droogtes en dalende internasionale suikerpryse ook tot die krisis bygedra.
Die suikerbelasting is in vanjaar se begroting onveranderd gelaat op 2,21c per gram per 100 ml-koeldrank, hoewel die eerste 4 g suiker per 100 ml beskikbaar gestel is. In die 2018-’19-boekjaar het die staat R3,25 miljard uit dié belasting verdien.
Die departement van handel, nywerheid en mededinging het in Julie self in die parlement erken dat die suikerbelasting die vraag na suiker in die plaaslike mark skerp afgedruk het. Meer as 50% van onverwerkte suiker word tans teen ’n verlies uitgevoer, en daar is onbenutte kapasiteit van tussen 20% en 40% in die suikermeul- en suikerraffineringsbedryf, het die departement toe gesê.