Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Bloubessies: Eis kan kom teen Aussie-vrugtefirma

’n Groot eis kan die Australiese vrugte-uitvoerder United Exports in die gesig staar ná die sage met die oud-Springbokhaker Chris Rossouw se maatskappy, Ross Berries.

bloubessies
Bloubessies is toenemend gesog in Europese supermarkte en as gesonde versnapering. Suid-Afrika ding met Peru, Chili, Australië en Nieu-Seeland mee vir die bloubessiemarkte in die Noordelike Halfrond. Foto: iStock

United Exports vereis tantième teen 5% van die omset wat boere behaal op bloubessies van United Exports se geregistreerde kultivars.

Maar volgens Willem van Heerden, regsverteenwoordiger van Ross Berries, is vasgestel dat United Exports net goedgekeurde planttelersregte het vir twee van die nege kultivars wat Ross Berries op die plaas het. ’n Eis word dus oorweeg teen United Exports vir die tantième wat tot nog toe betaal is op kultivars waarvan die planttelersregte volgens Van Heerden nog nie behoorlik goedgekeur is nie.

Volgens hom is materiële wanvoorstellings aan Ross Berries gemaak, en is hulle mislei oor die werklike status van die planttelersregte.

Dit volg op die nuus dat United Exports uiteindelik ingestem het dat twee vraghouers vol bloubessies in die Rotterdamse hawe vrygestel kan word wat Ross Berries na Europa wou uitvoer. Dit was nadat United Exports die Nederlandse doeane-owerhede ingelig het dat Ross Berries sy planttelersregte misken.

Ross Berries wag nog om te hoor of die bloubessies binne die houers nog in ’n toestand is om verkoop te word.

Ross Berries en United Exports het ook ’n skikking bereik ingevolge waarvan Ross Berries vir die res van die seisoen sy bloubessies self kan bemark aan wie hy wil en waar hy wil teen sy eie ooreengekome pryse. Dit kom ná ’n dispuut tussen United Exports en Ross Berries oor die planttelersregte op die bloubessies, en ’n oënskynlik erg beperkende kontrak wat United Exports op boere afdwing wat bepaal wat hulle mag en nie mag doen nie met die bloubessies wat hulle oes van plante wat hulle by United Exports gekoop het.

United Exports voer in ’n verklaring aan Ross Berries en die verwante maatskappy Rosle Berries erken nou die intellektuele eiendomsregte van United se geregistreerde OZblu-bloubessies.

Ross Berries se seisoen is byna verby, met sowat 150 ton bessies wat nog bemark moet word, volgens Van Heerden.

chris rossouw
Chris Rossouw in aksie teen Wes-Samoa tydens 1995 se Wêrelbekerbeker-toernooi op Ellispark. Rossouw is vandag 'n boer en sakeman. Foto: Gallo Images

Voor volgende jaar se seisoen is daar egter nog ’n vertroulike arbitrasiesaak wat teen Maart of April afgehandel moet word. Van Heerden verduidelik dit sal handel oor aan wie die bloubessieplante op Ross Berries se plaas nou eintlik behoort. Ross Berries voer aan die plante is syne. United Exports voer aan die plante is syne, en dat Ross Berries die plante moet vernietig as hy nie weer ’n behoorlike kontrak met United Exports gaan sluit nie.

Rosle Berries, die bessieboerdery van Chris se broer Charles, het besluit hy het genoeg gehad van United Exports se kontrakte, en het begin om sowat 100 hektaar se bloubessies by sy plaas naby Groblersdal in Limpopo uit te trek.

Van Heerden vertel Charles het nog tot 6 November bloubessies ingevolge sy kontrak met United Exports aan sy pakhuise gelewer vir uitvoer en 97% van die oes is tot op daardie stadium op grond van die uitvoergehalte aanvaar. Maar al die vrugte wat daarna gelewer is, is skielik afgekeur.

United Exports voer aan sy OZblu-bloubessie-kultivars spruit uit ’n lywige belegging in uitgebreide navorsing en ontwikkeling oor meer as drie dekades, en dat die beskerming van en respek vir plantgebaseerde intellektuele eiendom deur Suid-Afrikaanse boere kritiek is vir die stabiliteit en groei van die landboubedryf.

Volgens United Exports het hy Ross Berries nou toegelaat om die res van die huidige seisoen die bessies van sy plaas in die Wes-Kaap self te verkoop om die vermorsing van kos te vermy. Hy mag dit egter nie onder die OZblu-handelsnaam bemark nie. As die seisoen verby is, moet Ross Berries ’n nuwe ooreenkoms sluit, anders verstryk sy reg om United Exports se bloubessies te produseer, voer die groep aan.

Meer oor:  Ross Berries  |  United Exports  |  Chris Rossouw  |  Bloubessies  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.