Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere benoud oor dieselrabat ná SAID saak wen

Daar is kommer in landboukringe nadat ’n hof beslis het Jan Taks hoef nie die dieselrabat van miljoene rande aan ’n groot piesangboerdery terug te betaal nie.

Boere kan ’n deel van die koste van diesel terugeis van belasting, mits dit vir spesifieke take wat met landbouproduksie te doen het, gebruik is.

Dis omdat die boerderybedrywighede waarvoor die terugbetaling geëis word, nie spesifiek genoem word op die lys van wat vir die rabat kwalifiseer nie.

Umbhaba Estates, een van die land se grootste produsente van organiese piesangs, wou ingevolge die Wet op Doeane en Aksyns sowat R9 miljoen van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) terugkry vir dieselverbruik op die landgoed oor ’n paar jaar. Toe dié aansoek afgekeur word, het Umbhaba die SAID-kommissaris hof toe geneem.

Een van die geskilpunte in die saak was of die nota met die lys van primêre landboubedrywighede waarvoor produsente ’n deel van hul dieselverbruik kan terugeis, ’n riglyn van die kwalifiserende aktiwiteite is en dus nie ’n volledige lys nie.

Volgens die SAID is die lys volledig. Hy het die terugbetalingseis verwerp omdat van die aktiwiteite waarvoor Umbhaba geëis het, nie daarop is nie.

Regter Jody Kollapen van die hooggeregshof in Pretoria het die SAID verlede week gelyk gegee dat die lys volledig is. Hy het ook die SAID se betoog aanvaar dat Umbhaba se logboeke nie voldoen aan die wetlike vereistes vir ’n logboek om te kan terugeis nie.

Die dieselrabat is een van die enigste voordele wat Suid-Afrikaanse produsente ontvang en Graan SA sal alles in sy vermoë doen om die integriteit van die dieselrabat te alle tye te behou.
Corné Louw van Graan SA

Freek van Rooyen, ’n vennoot by Shepstone & Wylie wat Umbhaba verteenwoordig, sê sy kliënt moet besluit of hy gaan appelleer, maar vir nou staan die uitspraak.

Wat die uitspraak behels, is dat boere nou beperk word om net te kan eis vir die aktiwiteite wat in die notas genoem word.

“In die praktyk raak dit baie moeilik omdat daar verskeie aktiwiteite is wat onderneem kan word vir die doel om produkte te kweek en nie noodwendig in die lys vervat is nie, maar noodsaaklik is vir produksie.”

Wat byvoorbeeld van die diesel vir ’n trekker of stroper wat van die skuur deels op ’n teerpad ry om by die land te kom waar dit gebruik moet word? So het Umbhaba onder meer werkers met trekker en sleepwa na die boorde vervoer, maar dié vervoer word nie as primêre landboubedrywighede beskou nie en kwalifiseer dus nie vir die dieselrabat nie.

Die dieselrabatskema is sowat 20 jaar gelede ingestel om internasionale mededingendheid van primêre produksiesektore soos landbou, mynbou op land en bosbou te bevorder.

Die heffing vir die Padongelukkefonds (POF) en ’n deel van die algemene brandstofheffing wat deel is van die prys van elke liter brandstof wat verkoop word, kan in sekere gevalle van die SAID teruggeëis word waar die diesel vir primêre produksie soos boerdery gebruik is.

Tans is die POF-heffing alleen R2,18 per liter brandstof. Die brandstofheffing is meer as R3 per liter (en ’n persentasie kan teruggeëis word).

Só dok SAID op

Die SAID se jongste belastingstatistieke toon diesel-terugbetalings vir alle bedrywe het tussen 2018-’19 en 2019-’20 met 50% gestyg van R5,8 miljard tot R8,8 miljard.

Die styging is grootliks weens die toename in die gebruik van dieselkragopwekkers vir elektrisiteit in die energiesektor.

Van die totale terugbetalings het R3,5 miljard in 2018-’19 na die landbou- en bosboubedryf gegaan. Teen 2019-’20 is sowat R5,1 miljard van die totaal aan landbou en bosbou terugbetaal.


Roy Plath, uitvoerende hoof van Umbhaba, het getuig die SAID se weiering om die terugbetaling te doen, het die landgoed se winsgewendheid geraak.

Umbhaba gebruik sowat 173 000 liter diesel per maand vir onder meer trekkers, stropers, ligte handelsvoertuie vir plaasbestuurders op en buite die plaas, asook (vragmotor-)perde en sleepwaens vir verspreiding en aflewering van sy produkte.

Corné Louw, ’n senior ekonoom van Graan SA, sê hulle het nie al die besonderhede oor byvoorbeeld hoe die logboeke lyk en watter inligting bygehou is nie, maar op die oog af bekommer dit hom hoe die uitspraak aktiwiteite sien wat nie vir die dieselrabat kwalifiseer nie.

Die terugbetalings vir die landboubedryf beloop sowat R2 miljard per jaar, en vir die graan- en oliesadebedryf alleen sowat R1,25 miljard per jaar.

“Die dieselrabat is een van die enigste voordele wat Suid-Afrikaanse produsente ontvang en Graan SA sal alles in sy vermoë doen om die integriteit van die dieselrabat te alle tye te behou,” sê Louw.

Hy meen dis jammer dat dié soort gevalle in die howe eindig, want dit kan die rabat en die werking daarvan skade berokken. Daar word tans gewerk aan ’n nuwe dieselrabatstelsel juis om van die grys areas te probeer uitskakel.

Kulani Siweya, landbou-ekonoom van Agri SA, betreur die uitspraak in die Umbhaba-saak.

“Agri SA benadruk voortdurend hoe belangrik die dieselrabatstelsel vir primêre produsente is en die omstandighede in die spesifieke saak is presies die rede waarom Agri SA deur samewerking met Graan SA aktief deelneem aan die konsultasieproses om te verseker iets soos die ‘lys van kwalifiserende aktiwiteite’ word uitgebrei om so omvattend moontlik te wees.

“Boere moenie benadeel word deur ’n lys wat nie omvattend is nie,” sê Siweya.

Louw sê sedert 2012-’13, toe die SAID strenger geword het met logboeke en die monitering daarvan, het georganiseerde landbou en die belastinggaarder nou saamgewerk om mekaar se behoeftes te verstaan.

Graan SA probeer sy lede deurentyd op hoogte hou van wat die wet vereis om vir die dieselrabat te kwalifiseer. Daar is gevalle waar produsente algemene beskrywings as ’n aktiwiteit opgee, wat dit vir die SAID moeilik maak om te bepaal of dit kwalifiseer al dan nie, verduidelik Louw.

“Ander kere voel dit weer of die SAID se ouditeurs subjektief na ’n logboek-inskrywing kyk en bepaal dat dit nie kwalifiseer nie, terwyl dit eintlik gesien kan word as ’n basiese primêre landbouaktiwiteit deur die produsent.”

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Boere  |  Brandstof  |  Diesel  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.