Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere boos oor nuwe brandstof-regulasie

Die nuwe regulasie wat die verkoop van brandstof in houers verbied, gaan boere lamlê.

Petrolstasies mag nie petrol en diesel in houers aan verbruikers verkoop nie.

Die landbou-organisasie TLU SA sê hy begryp die doelwit van die regulasie, naamlik om ’n tekort aan brandstof te voorkom, maar hy meen dat die besluit “kortsigtig” is.

“Boere moet brandstof in draagbare houers kan koop om hul plase aan die gang te hou. Ons gebruik nie deesdae perde en osse vir ons take nie, ons maak op motorfietse en trekkers staat – goed wat brandstof gebruik. Ons het ook brandstof vir opwekkers en pompe nodig,” sê Henry Geldenhuys, president van die TLU SA.

Hy sê in dele van die land is dit boonop brandseisoen en diesel is nodig om brande te bestry. “Die regulasie is nie prakties nie.”

TLU SA se voorstel is dat boere toegelaat word om hul permitte vir die verskaffing van noodsaaklike dienste ingevolge vlak 4 van die inperking te gebruik om brandstof in houers te koop.

TLU SA “wag op terugvoering en sal lede op die hoogte van die situasie hou”.

Die VF Plus sê in sy reaksie die party meen die minister het nie alle implikasies daarvan in ag geneem nie.

“In landelike gebiede waar vissery, landbou en bosbou die hartaar van die ekonomie is, gebruik mense petrol- en dieseltoerusting vir hul alledaagse werk. Plase word met motorfietse gepatrolleer, petrolaangedrewe visserskuite is noodsaaklik en veral in tradisionele gebiede word water met petrol- of dieselaangedrewe pompe voorsien.

“Daarom het die VF Plus met die departement in gesprek getree. Dit is uiters belangrik dat die minister die onvoorsiene gevolge van die verbod in ag neem en dat maniere gevind word om dit teen te werk.”

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het Donderdag die regulasie afgekondig wat vulstasies verbied om petrol en diesel in ’n houer aan verbruikers te verkoop. Dit is gedoen om paniekaankope van brandstof te voorkom.

Hoewel die regulasie reeds Donderdag in ’n PDF-formaat aan Netwerk24 gestuur is, was dit eers Vrydag aanlyn in die Staatskoerante gepubliseer.

Dit blyk intussen ook dat talle vulstasies se petrol juis weens paniekaankope opgeraak het of naby aan op is. Mense koop méér brandstof uit vrees dat dit gaan opraak.

LEES OOK: Petrol: Paniek lei tot leë pompe

Die paniekaankope spruit uit vrees dat brandstof gaan opraak weens die sluiting van Sapref, BP en Shell se raffinadery in Durban, en ook omdat die vervoer van brandstof ontwrig is uit vrees dat brandstoftenks aan die brand gesteek gaan word.

Mantashe het in ’n verklaring by Suid-Afrikaners gepleit om nie uit paniek brandstof te koop of dit op te gaar nie “aangesien dié optrede die huidige uitdagings sal vererger”.

Layton Beard, woordvoerder van die Automobiel-Assosiasie (AA), sê daar is wel ’n risiko van tekorte, veral in die noordelike provinsies.

“Dit is uiters belangrik dat Suid-Afrikaners nie nou brandstof opgaar nie,” pleit Beard. “Gebruik net wat jy nodig het.”

Volgens die AA is dit uiters belangrik dat noodsaaklike werkers steeds toegang tot die bestaande brandstofvoorraad het.

Meer oor:  Paniekaankope  |  Automobiel-Assosiasie  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.