Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere dalk liggie in Eskom-duister

Suid-Afrikaanse boere kan binne ’n jaar ’n daadwerklike oplossing vir beurtkrag in die land bied, aldus die landbou­organisasie Agri SA.

Volgens die organisasie kan boere elektrisiteit deur sonkragopwekking verskaf en sodoende enige toekomstige beurtkrag voorkom. Luidens ’n verklaring is daar reeds 500 aansoeke vir sonkragaanlegte, wat die potensiaal het om 1 400 MW by te dra om druk op die kragnetwerk te verlig. Indien die administrasieprosesse vereenvoudig word, kan dié 500 aansoeke en ander van stapel gestuur word, sê Agri SA.

“Ons vra nie om finansiering of selfs spesiale behandeling nie – net om die proses binne Eskom en Nersa te bespoedig om hierdie aansoeke te verwerk,” sê Nicol Jansen, Agri SA-voorsitter van die Sentrum vir Uitnemendheid vir Ekonomie en Handel. “Dis ’n wen-wen­geleentheid vir die re­gering én Suid-Afrika.”

Agri SA het vroeër die maand gesê hy erken die pogings deur Eskom om die ligte aan te hou, maar is bekommerd oor die moontlike negatiewe uitwerking wat beurtkrag op die landbousektor in die breër waardeketting kan hê. Elektrisiteit is ’n belangrike insetkoste vir baie boere – veral vir boere wat op besproeiing staatmaak.

Die landbousektor het in die 2017-’18-boekjaar sowat R146 miljard aan intermediêre goedere en dienste bestee, waarvan elektrisiteit R7 miljard (5%) beloop het.

“Beurtkrag sal ’n impak op besproeiing-afhanklike en energie-intensiewe bedrywe soos tuinbou, suiwel, pluimvee, graan en agro-verwerking hê,” sê Jansen. “Die negatiewe impak raak produsente sowel as verbruikers omdat dié subsektore ’n belangrike rol het om Suid-Afrika se voedsel­sekerheid te ver­seker. Meer as 25% van die land se kos word deur dié besproeiing-afhanklike en energie-intensiewe bedrywe geproduseer.”

Volgens Agri SA bied kleinskaalse fotovoltaïese installasies ’n geleentheid vir boere om elektrisiteit op te wek en druk op die kragnetwerk te verlig.

Slegs 13 projekte is egter tans gekoppel en in werking vanweë Eskom se stadige verwerking en administrasie van aansoeke, sowel as die stadige implementering van elektrisiteitsregulasies en die knelpunt om by Nersa te registreer, verduidelik die organisasie.

Meer oor:  Nersa  |  Agri Sa  |  Eskom  |  Beurtkrag  |  Sonkrag  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.