Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere gaan voort met veilings ondanks bek-en-klouseer

Die wyse waarop die departement van landbou die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo hanteer is “onaanvaarbaar”.

Dít is hoe die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO), boere, veeartse en verskeie politieke partye in Limpopo voel, nadat die hoogs aansteeklike virale siekte twee weke gelede in die provinsie uitgebreek het.

Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, sê die regering se verbod op veeveilings in Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes, veroorsaak paniek en gaan nie die probleem oplos nie.

Intussen het ’n groot aantal boere in die Waterberg-distrik van Limpopo besluit om Woensdag voort te gaan met ’n groot veeveiling buite Bela-Bela (Warmbad).

Dit is duidelik daar was nie behoorlike maatreëls getref sodat die uitbreking in Vhembe nie na ander gebiede versprei nie.
Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo

Netwerk24 verneem dat opkomende en kommersiële boere sowel as verskeie politieke hooggeplaastes, die veiling gaan bywoon.

“Ons het besluit om nie aan die regering se verbod op veilings gehoor te gee nie, want dit gaan nie die probleem oplos nie,” het ’n boer van die Waterberg-distrik, wat nie genoem wil word nie, gesê.

Van der Ryst sê hulle dring aan op ’n dringende vergadering met Thoko Didiza, minister van landbou.

“Die regering moet bek-en-klouseer met groter erns hanteer en daar moet meer deursigtigheid wees om inligting met die publiek te deel,”

Van der Ryst sê die beweging van lewendehawe moet tot die minimum beperk word.

Boere in die Molemole-distrik, wat Mogwadi (Dendron) en Blouberg insluit sê daar is nie padversperrings in die gebied opgerig, wat gedoen moet word wanneer bek-en-klouseer uitbreek nie.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, sê hy het bewyse dat die bek-en-klouseer wat in Molemole uitgebreek het, dieselfde stam van die virus is as wat in Januarie in die Vhembe-distrik uitgebreek het.

“Dit is duidelik daar was nie behoorlike maatreëls getref sodat die uitbreking in Vhembe nie na ander gebiede versprei nie.”

Smalle sê dit wil voorkom of die 15 padblokkades wat in Vhembe was, glo te vroeg verwyder is en dit het moontlik gelei tot die vervoer van besmette diere.

Die uitbreking in Januarie was buite die buffergebied wat aangrensend aan die westelike-en-suidelike grens van die Krugerwildtuin is. Die gebied is 350 km lank en tussen 10 km en 20 km breed. Die wildtuin is die engiste endemiese gebied waar bek-en-klouseer voorkom omdat buffels draers van die siekte is.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, het nie op skriftelike vrae van Netwerk24 reageer oor of die stam van die virus wat in Molemole uitgebeek het, dieselfde is as die een wat in Januarie in die Vhembe-distrik uitgebreek het nie.

* Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike virale siekte wat vinnig onder diere met gesplete hoewe, wat varke, beeste, skape en bokke insluit, versprei.

Van die simptome van die siekte is dat diere lusteloos voorkom en nie vreet nie. Daar vorm sere in die diere se bek wat hulle keer om te vreet. Oormatige speeksel kom voor en diere kners op hul tande. Sere kom ook op die pote voor en in jong diere tas die siekte die hart aan wat tot vrektes lei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.