Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê boere moet voorbereid wees op ’n plaag herfskommandowurms (Spodoptera frugiperda) wat die somersaaigebiede kan tref.
Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, waarsku dat die goeie en vroeë reën vanjaar verskil van die vorige reënseisoen toe dit droër was, en dat boere dus kan verwag dat daar vanjaar meer wurms sal wees.
Landboukundiges sê die boere moet gesaaides gereeld nagaan om so gou moontlik vas te stel of pakkies eiers, blaarskade of wurms teenwoordig is.
Die herfskommandowurm kan sorghum-, mielie- en suikermielie-aanplantings beskadig.
Lokvalle om die motte te vang kan opgestel word sodat die boere betyds kan vasstel of ’n plaag dalk op pad is.
Ngcobo sê dit is die beste om die wurms te beheer wanneer hulle kleiner as 1 cm is, want die groter wurms kruip diep in die stamme van graangewasse in, wat dit moeilik maak om hulle met bespuiting te bereik.
Volgens Ngcobo kan die wurms baie vinnig weerstandigheid teen sekere middels ontwikkel en daarom beveel die departement aan dat die boere middels afwissel waarmee hulle hul gewasse bespuit.
Die departement sê ’n lys van goedgekeurde chemikalieë wat geskik is om dié plaag te beheer is beskikbaar op sy webblad beskikbaar.
Die Europese Unie (EU) het noodmaatreëls vir invoerregulasies uitgebrei op sekere gewasse wat as gashere vir die herfskommandowurm dien.
Boere wat groente na die EU uitvoer, moet seker maak dat die chemikalieë waarmee dit bespuit is, vir uitvoer goedgekeur is.