Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere koop dat dit klap by Kaap Agri se winkels

Kaap Agri se halfjaarresultate het Donderdag goeie nuus gehad vir aandeelhouers. Nie net het sy wins goed verstewig nie, maar ’n tussentydse dividend van 40 sent per aandeel is verklaar.

Agrimark en ander winkels dra die grootste deel van Kaap Agri se inkomste by. Foto: Kaap Agri

Die genoteerde groep se groei van 24% oor die afgelope ses maande tot einde Maart vertoon baie goed gemeet aan die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Die uitvoerende hoof, Sean Walsh, beskryf dit as “uitsonderlik” en sê die afgelope ses maande se resultate word gemeet aan ’n normale handelstydperk verlede jaar nog voordat Covid-19-inperkings skaars ’n invloed op die land gehad het.

Volgens hom is net 3,5 dae van die groep se handelsbedrywighede verlede jaar in die ooreenstemmende tyd deur die inperkings geraak.

Gegewe die gesonde tussentydse resultate wat Donderdag uitgereik is, glo Walsh hulle is nou op ’n normale pad van groei ten spyte van die ekonomiese uitwerking van die pandemie.

Kaap Agri spesialiseer in landbou, brandstof en verwante kleinhandelsmarkte in Suid-Afrika.

Volgens die resultate het sy inkomste met 15,6% gegroei tot R5,7 miljard. Wat verkope betref het vergelykbare soort-vir-soort-verkope met 1,6% gegroei en word dit grootliks gedryf deur ’n toename van 8,6% in transaksies.

Herhalende wesensverdienste het met 25% gegroei en groei in herhalende wesensverdienste per aandeel was 23,3% hoër op 305,34 sent.

Verdienste per aandeel het met 24% gegroei tot 299,96 sent.

“Ons volgehoue strategie van diversifisering het die sterk groei in ons wins aangehelp, ongeag die moeilike handelsomgewing.”

Kleinhandel het met 15,4% gegroei en landbou met 6,7%.

Die groep het ook goed gevaar met sy brandstof-afdeling met volumes wat met 11,9% gestyg het. Die brandstof-afdeling het wel beduidende druk op volumes ervaar soos die land deur die verskillende vlakke van inperkings gegaan het weens die pandemie, maar verkope van brandstof het verbeter soos wat die inperkings verslap is.

Waar hy The Fuel Company-vulstasies bedryf, het volumes met 8,3% gestyg.

Verkope by sy geriefswinkels en kitskosrestaurante by vulstasies het egter nie so goed gevaar soos die brandstofverkope nie.

“Die inflasie op brandstofpryse sal steeds marges beïnvloed. Geen nuwe vulstasies word beplan vir die res van die jaar nie.”

Walsh sê wesenlike groei in die uitset van voorsieningskanale is behaal.

Sean Walsh is sedert einde 2011 uitvoerende hoof van Kaap Agri.Foto: Verskaf

“Kleinhandelaars met goeie stelsels van voorsiening het beter gevaar as ander.

“Ons gesonde groei in kleinhandelverkope en veerkragtigheid in nie-landbouverwante bedrywighede is ondersteun deur robuuste voorsieningsentrums se vermoëns om te versprei.”

Graan het gebaat by ’n sterker oes en inkomste wat vroeër as verwag ingekom het.

Walsh sê die groep ervaar steeds die positiewe invloed van die 2020-’21-graanseisoen en goeie vooruitsigte heers vir die komende seisoen.

Die produksie van vrugte en groente was grotendeels positief, maar beduidende uitbreidings en infrastruktuurbesteding het verlangsaam, deels as gevolg van die inkorting van die kontantvloei as gevolg van die Covid-19-pandemie. Die grootste fokus was op besteding aan die vervanging van infrastruktuur.

Walsh is positief oor die volgende ses maande van die boekjaar en voorsien dat, soos vorige jare, die eerste ses maande se verdienste meer sal bydra tot die volle jaar se verdienste as wat die tweede ses maande gewoonlik die geval is.

“Ons sien uit na die volgende ses maande en sal gefokus bly om ons strategiese teikens van groei op mediumtermyn te bereik.

“Covid-19 bly ’n onbekende faktor en ons sal waaksaam bly oor die potensiële invloed van moontlike nuwe infeksievlakke.”

Die groep het ook sy voetspoor in KwaZulu-Natal vergroot. Een van sy filiale, Partridge Building Supplies (bekend as Forge), het nog ’n onderneming in die provinsie, Farmsave, bekom. Farmsave is ’n verskaffer van landbou- en boumateriaal in die sentrale en noordelike dele van KwaZulu-Natal.

“Die verkryging van Farmsave vergroot ons voetspoor in die provinsie en is in pas met Kaap Agri se groeistrategie. Dit gee ons ’n sterk voet in die streek.”

Meer oor:  Kaap Agri  |  Kleinhandel  |  Landbousektor  |  Winkels  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.