Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere, moenie dié tegnologie ignoreer nie
’n Virtuele plaas in Rusland, genaamd Telefermer, stel boere in staat om deur middel van tegnologie en die internet hul diere in ’n gedeelde plaas te bestuur en te monitor sonder om ooit self daar teenwoordig te wees. Foto: Getty Images

Grootskaalse ontwikkeling in landboutegnologie is nie net meer fantasieë vir die toekoms nie, maar noodsaaklik om mededingend te bly, selfs hier in Suid-Afrika, sê Dawie Maree van FNB Landbou.

Hy sê internasionale ingebruikneming van nuwe, vinnig ontwikkelende en ontwrigtende tegnologie in die landbousektor maak dit noodsaaklik vir boere in alle markte om by te bly.

Volgens hom is die gebruik van nuwe tegnologie nie meer ’n kwessie van om ’n baanbreker te probeer wees nie, maar noodsaaklik vir enige boer wat sy onderneming wil laat groei, dit mededingend te hou en wil verseker dat dit enigsins nog in die nabye toekoms sal bestaan.

“Die landboubedryf wêreldwyd oorkom suksesvol talle van sy grootste omgewings- en voedselproduksie-uitdagings deur die gebruik van nuwe en gevorderde tegnologie, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie,” sê Maree.

Volgens Maree is die volgende vier van die grootste ontwrigtende tendense in tegnologiese ontwikkeling vir die landbousektor:

  • Groot data: Met die groeiende tendens van toerusting en masjinerie wat digitale data regstreeks produseer en opneem, kan boere dié data al meer inspan om doeltreffendheid te verbeter én voorspellings meer akkuraat te maak. Die data gaan ook gepaard met deurlopende beskikbare data oor weerpatrone, grondtoestande sowel as gewasse wat aangeplant word, om ’n formule te ontwikkel om die beste tyd en plek te bepaal om te plant en te oes. Groot data is ook nuttig vir die voorspelling van die aanvraag na gewasse, die opbrengs op gewasse, sowel as die potensiële bruikbare beplantingsgebied in ’n seisoen.
  • Gevorderde drupbesproeiing: Met die heersende tekort aan water landwyd, en die onlangse droogte in groot dele van die land, het Suid-Afrikaanse boere miljarde rande verloor. Daar is nou groot beleggings in die gebruik van drupbesproeiingstegnologie wat tesame met slim digitale stelsels die presiese hoeveelheid water wat elke gewas nodig het, kan besproei, met minimale waterverliese.
  • Vertikale boerdery: Dié moderne manier van gewasse kweek, benut nie net minder hulpbronne soos water en kunsmis nie, maar laat boere toe om die hele omgewing waarin die gewasse verbou word, op optimale vlak te hou en te beheer. Deur opwaarts in vertikale rakke te plant kan boere nou dié metode selfs vir grootskaalse produksie gebruik. Dié metode word reeds in Suid-Afrika ingespan.
  • Mobiele apps: Met die enorme veelsydigheid wat moderne slimfone bied, word die toestelle al hoe meer as saketoerusting gebruik en nie net as verbruikerstegnologie nie. Boere gebruik nou deurlopend apps om hul gewasse deur middel van GPS te monitor. Hulle kan ook voer, kunsmis en die waterbehoeftes so bestuur en dit regstreeks dophou. Maree sê apps het reeds vir groot ontwrigting in die landboubedryf gesorg. Ontwikkelaars wêreldwyd werk deurlopend daaraan om app-innovasies beskikbaar te stel wat tot onlangs nog ondenkbaar was. Daar is nou selfs apps wat meer as 430 onkruidspesies en hul eienskappe met die klik van ’n knoppie identifiseer.

“Boere word aangemoedig om gereeld navorsing te doen en hulself op te voed oor nuwe tegnologiese ontwikkelings in die bedryf om te voorkom dat hulle agter raak,” waarsku Maree.

“Diegene wat nou steeds pessimisties daaroor is, doen so op eie risiko.”

Meer oor:  Fnb  |  Landbou  |  Tegnologie  |  Boerdery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.