Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Boere sal siektes self moet beheer’

Die landwye verbod op die hou van veeveilings weens die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo, is ’n wekroep dat biosekuriteit veeboere se eie verantwoordelik is, en hulle moet ophou glo die regering sal help, sê Albert Loubser van Plaas Media.

“Ons kan mos nie meer verras wees dat die regering nie sy pligte nakom nie,” sê Loubser, wat ook die hooforganiseerder van die Alfa Vee-Ekspo is.

Hy sê een van die enkele voordele van die verbod op veilings is die skerp daling in veediefstal.

“Dit wys vir jou veeveilings word gebruik om geld te was.”

Loubser sê die veilingverbod en die krisis met bek-en-klouseer gaan die bedryf dwing om meer verantwoordelik te wees en sal wys dat selfregulering noodsaaklik is.

Die rooivleisbedryf sal homself moet reguleer wat veesiektes betref, sê kenners. Foto: RPO

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou in Bloemfontein, het die inisiatief geneem om ’n protokol vir skoue en ekspo’s op te stel wat sal verseker dat dié geleenthede siektevry is.

Ses van die land se grootste skoue, die Bloemskou, Nampo, Nampo Kaap, die Royal-skou, die Agri-Expo en die ALFA Expo – wat vanjaar vir die eerste keer op Nampopark aangebied word – steun volgens Loubser reeds dié protokol.

Wimpie du Plessis, hoof van Vleissentraal in die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap, sê hy is baie opgewonde daaroor dat veilings nou kan voortgaan.

Hy sê dié afslaersfirma se werknemers het baie swaar getrek tydens die verbod van meer as twee maande.

“En moenie vergeet van die kleinboere wat gereeld ’n bees of twee verkoop en die geld gebruik om van te leef nie,” sê hy.

Vleissentraal in Du Plessis se streek hou reeds Woensdag veilings in Bloemfontein, Kimberley en Klerksdorp, en verwag ’n goeie opkoms.

Du Plessis sê afslaers sal self die protokol moet toepas wat biosekuriteit by veilings verseker.

Boere gaan ’n vorm moet invul en onderneem dat hul diere siektevry is. Hulle moet hulself behoorlik identifiseer en hul voertuie moet ontsmet word.

Vleissentraal beoog om binnekort die indiening van brandmerksertifikate verpligtend te maak.

Alles gaan oor naspeurbaarheid en dit word al hoe belangriker, sê Du Plessis.

Hy sê hy is baie meer bekommerd oor besmetlike misgeboorte (bees-brusellose) en sê dié siekte hou ’n groot bedreiging vir die veebedryf in.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het die opheffing van die verbod op veilings verwelkom en sê hoewel dit ’n geweldige negatiewe impak gehad het, het dit verseker dat Suid-Afrika se uitvoermark heropen is.

Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, sê ook selfregulering is krities noodsaaklik om die bedryf te beskerm.

Noko Masipa, DA-parlementslid en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, sê die verbod op veilings het die bedryf meer kwaad as goed gedoen.

Masipa sê die regering moet inentingsprogramme in die hoërisikogebiede instel, beheersones moet ingestel word en beter grensbeheer tussen buurlande en Suid-Afrika is nodig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.