
’n Graanboer naby Bloemfontein bewerk sy grond. Foto: Argief
Die landbousektor kan danksy die kombinasie van ’n sterker rand en laer rentekoerse en brandstofpryse, ’n bietjie asem skep.
Ná ’n droogte, swak oeste en ’n treurige ekonomie bring dié faktore uiteindelik verligting vir vele beleërde boere, sê Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB.
Die grootste bron van verligting is die laer rentekoers wat boere nou op hul skuld moet betaal, sê Makube.
Die Reserwebank het verlede week die repokoers met 0,25 basispunt tot 6,5% verlaag, en luidens data wat Woensdag bekend gemaak is, was die inflasiekoers in Junie stabiel op 4,5%.
Makube meen as die bruto binnelandse produk (BBP) ná die eerste kwartaal se inkrimping kan voortgaan met sy herstelpoging en inflasie laag bly, is verdere verlagings in rentekoerse Suid-Afrika se voorland.
Dít sal boere se winste beduidend kan verbeter.
Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, het voorheen gesê volgens hul data gaan die gemiddelde Suid-Afrikaanse graanboer jaarliks skuld van tussen R8 miljoen en R10 miljoen aan.
Maar die goeie nuus eindig nie by skuldverligting nie, sê Makube.
Die grootste insetkoste vir die landbousektor, naamlik brandstof en kunsmis, het gedaal danksy die uitwerking van die sterker rand, wat tans onder R14 teenoor die dollar verhandel, en oliepryse wat weer nader aan $60 per vat beweeg het.
Brandstof en kunsmis verteenwoordig gemiddeld onderskeidelik 35% en 11% van totale veranderlike koste in die landbou.
Ander insetkoste, soos ingevoerde plaag- en onkruiddoders, is ook verlaag danksy die sterker rand.
Terwyl die oesseisoen vir somergrane en saadolie op dreef is, word enorme hoeveelhede brandstof benut, en die besparings sal reeds gevoel word, sê Makube. Boere het ook nou ’n geleentheid om voorraad op te bou as skans teen pryse wat later weer kan styg weens onstuimigheid op die wêreldmarkte.