Dit neem boere langer om die papierwerk gedoen te kry om krag aan Eskom te lewer, as wat die werklike oprigting van ’n sonkragstelsel neem, sê Nicole Jansen van Agri SA se sentrum vir ekonomie en handel.
Hy sê Eskom is baie voorskriftelik teenoor boere wat krag aan die kragnetwerk wil lewer, en maak dit baie moeilik vir die landbou om voordeel te trek uit eie kragopwekking.
Jansen sê die meeste boere wil die krag wat hulle opwek aan die kragnetwerk lewer en steeds deel van die netwerk bly.
Ongelukkig beloop die koste vir so ’n aansoek om aan Eskom krag te lewer, meer as R100 000.
Hy sê dít is in hierdie stadium die maklikste manier om voordeel uit hernubare energie te trek, omdat die boer dan nie groot, duur batterye vir die berging van krag hoef te koop nie.
Die boer lewer die surplus-krag wat hy opwek regstreeks aan die netwerk en sal dan byvoorbeeld saans weer krag uit die netwerk gebruik.
Maar dan moet die politieke wil daar wees. Eskom en Nersa moet so vinnig moontlik die beleid ontwikkel om Ramaphosa se idees rakende kragopwekking te steun.
Hy sê Agri SA verwelkom dit dat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aandag aan die kragkrisis gegee het, en dat Agri SA se gesprek met Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, vrugte afgewerp het.
Agri SA het aan Gordhan gesê die landbou kan ’n groot rol speel om die energietekort in die land te verlig.
Jansen sê Agri SA het reeds ’n finansieringsproduk saam met ’n finansier ontwikkel om boere te help om sonkragstelsels op te rig.
Die landbou het die vermoë om binne 12 maande ná goedkeuring van die projek-registrasie krag aan die nasionale netwerk te lewer, wat die druk op Eskom kan help verlig.
“Maar dan moet die politieke wil daar wees. Eskom en Nersa moet so vinnig moontlik die beleid ontwikkel om Ramaphosa se idees rakende kragopwekking te steun.”
Agri SA sê ook die landbou is baie kwesbaar vir tariefverhogings wat bo inflasieverwante insetkoste is, en glo tariefverhogings is nie die enigste antwoord vir al Eskom se probleme nie.