Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere verdien nou yslike 76% meer vir sojabone

Boere het tot dusver in Januarie gemiddeld sowat 76% meer vir sojabone gekry as ’n jaar gelede.

sojabone, landskap, windpomp,
Sojalanderye naby Reitz in die Vrystaat. Foto: Vida Booysen

Hul verbruik, én dus pryse, behoort in die eerste helfte van die jaar hoog te bly danksy China se groot vraag na voer, sê landboukenners.

Dít is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse produsente wat meer hektaar met sojaboon beplant het as die vorige seisoen, sê dr. Marlene Louw, senior ekonoom by Absa AgriBesigheid. ’n Groter sojaboon-oes vanjaar sal ook help dat Suid-Afrika, ’n netto invoerder van soja, minder sal moet invoer, sê sy.

Luidens Absa AgriBesigheid se jongste oliesaad-markverslag raak die wêreld afhankliker van sojabone weens te min ander oliesaad, veral sonneblom.

Louw sê sojaverbruik maak tradisioneel 60% van die wêreld se totale oliesaadverbruik uit. Die mate waarin die persentasie sojaverbruik toeneem vergeleke met die totale wêreldverbruik van oliesaad hang af van beperkings op ander oliesade.

Palmolie is ’n groot mededinger vir sojaolie. Na raming sal internasionale palmolie-produksie vanjaar sowat 4% laer wees. Die vooruitskatting vir die 2020-’21-seisoen is dat produksie van sonneblomolie met nog 10% kan daal.

Sojabone word grootliks verwerk vir die olie en sojameel (vir die veevoerbedryf), terwyl ’n klein gedeelte vir menslike gebruik van onder meer sojamelk, -proteïen en tofu gaan, sê internasionale sojaboon-organisasies.

Die nasionale oesskattingskomitee het in Oktober gesê boere is van voorneme om in die 2020-’21-somerseisoen 785 800 ha sojaboon te plant, teenoor 705 000 die vorige seisoen. Die komitee sal na verwagting in die komende week voorlopige syfers van die oppervlakte beplant publiseer.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, skryf in sy weeklikse markverslag tot dusver lyk dit of boere wel ’n groter area beplant het.

Volgens Louw was sojaboonpryse in Januarie (tot Woensdag) gemiddeld R10 414 per ton, teenoor die gemiddelde van R5 751 in Januarie 2020.

Graan SA se oggend-markverslag Vrydag het getoon termynkontrakte vir lewering in Maart het Donderdag op R8 356 per ton gesluit.

Louw sê die prysstygings vir sojabone, sojaboonmeel, asook mielies en sonneblom, word oorwegend deur internasionale faktore gedryf soos ’n sterk vraag na voer van China. Dit volg nadat Afrika-varkgriep die Chinese varkkudde laat krimp het. Dié kudde word nog herbou en vandaar die hoër vraag na voer.

Sy sê die handelsgeskil tussen Amerika en China stoot ook pryse op omdat Amerika die meeste van China se soja verskaf het. Droë weerstoestande in Suid-Amerika, ’n kleiner mielieoes in die Oekraïne en lae internasionale voorraadvlakke dra ook by tot die prysstygings.

Die gemiddelde prys vir witmielies in Januarie was R3 640 per ton (23,9% hoër op ’n jaargrondslag) en vir geelmielies gemiddeld R3 602 per ton (28,2% hoër).

Sihlobo skryf landbousentiment is op van die hoogste vlakke sedert 2014 danksy ’n goeie 2019-’20-produksiesiesoen, hoër kommoditeitspryse en gunstige toestande vir die huidige seisoen.

In ’n goeie landboujaar is kommoditeitspryse gewoonlik laer vanweë ’n hoë aanbod, maar China se groter vraag na graan steun internasionale pryse, wat op hul beurt goed is vir plaaslike produsentepryse. Daar is ook hoë vraag na Suid-Afrikaanse graan in Suider-Afrika en die Verre Ooste en die swakker wisselkoers tel verder in die guns van plaaslike graanpryse, sê hy.

Kosprysinflasie

Volgens Louw is stygende kommoditeitspryse een van die drywers van voedselinflasie. “Ons verwag hoër kommoditeitspryse sal voedselinflasie oor die volgende vyf tot ses maande aanwakker.

“Mielies, wat deel is van die kategorie vir brood en graan in die inflasievoedselmandjie, kan veral ’n groot rol speel omdat dié kategorie ’n ‘gewig’ van sowat 21% in die mandjie dra.”

In Desember was die prys van brood en graan 5% hoër op ’n jaargrondslag en olie en vette was 10,2% duurder, blyk uit inflasiesyfers wat Statistieke Suid-Afrika Woensdag gepubliseer het.

Herman van Papendorp, hoof van beleggingsnavorsing en batetoewysing by Momentum Investments, sê Desember se inflasiesyfers wys kospryse het vir die eerste keer sedert Augustus 2017 met meer as 6% gestyg op ’n jaargrondslag.

Dit kan in die volgende paar maande verder styg weens hoër brood- en vleispryse, wat die gevolg is van stygende graanpryse, wat tot hoër insetkoste lei.

Dit behoort nie ná die eerste kwartaal voort te duur nie en volgens Agbiz kan voedselprysinflasie vanjaar sowat 5% wees, sê Van Papendorp.

Meer oor:  Kospryse  |  Inflasie  |  Sojabone  |  Kosprysinflasie  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.