Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Boere wil hof toe oor verbod op veilings

Indien die departement van landbou nie die verbod op veeveilings in vier provinsies ophef wat ingestel is nadat bek-en-klouseer in Limpopo uitgebreek het nie, sal boere ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria bring om ’n interdik teen die verbod te bekom.

Luidens ’n brief van Len Dekker-prokureurs, namens ’n aantal boere in Limpopo wat deur die verbod geraak word, word Thoko Didiza, minister van landbou, gevra om die besluit dringend te heroorweeg.

Die verbod op veilings gaan nié die verspreiding van die siekte keer nie, lui die brief.

Die oprigting van padversperrings in die Molemole-distrik, waar die hoogs aansteeklike siekte uitgebreek het, is noodsaaklik, lui die prokureursbrief.

Die tydelike verbod op veeveilings sal nie alleen boere benadeel nie, maar die veilingsbedryf ekonomies op sy knieë dwing.

Opkomende sowel as kommersiële boere word deur die verbod geraak omdat hulle staatmaak op gereelde veilings wanneer van hul diere verkoop word om ’n inkomste te genereer.

Indien die departement van landbou die verbod ophef, word die onderneming deur die veilingsbedryf en boere gegee om ’n stelsel daar te stel om die diere by veilings opspoorbaar te maak, lui die prokureursbrief.

Die adresse van die eienaars van diere sal ook aangeteken word. Boonop sal boere ’n onderneming moet onderteken dat hul diere drie weke voor ’n veiling geen simptome van bek-en-klouseer getoon het nie. Geen nuwe diere mag ook drie weke voor ’n veiling by kuddes gevoeg word nie.

Veeartse sal ook veilings bywoon en seker maak dat diere nie bek-en-klouseer het nie.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, sê hy het bewyse dat die bek-en-klouseer wat in die Molemole-streek uitgebreek het, dieselfde stam van die virus is as wat in Januarie in die Vhembe-distrik uitgebreek het.

Smalle sê dit wil voorkom of die 15 padblokkades wat in Vhembe was, te vroeg verwyder is en dit het moontlik gelei tot die vervoer van besmette diere.

Die uitbreking in Januarie was buite die buffergebied wat aangrensend aan die westelike en suidelike grens van die Krugerwildtuin is. Die gebied is 350 km lank en tussen 10 km en 20 km breed. Die wildtuin is die enigste gebied waar bek-en-klouseer endemies is omdat buffels draers van die siekte is.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, het Dinsdagmiddag nie gereageer op navrae oor die prokureursbriewe wat aan die departement gestuur is nie. Hy het sedert Vrydag ook nie gereageer oor of die stam van die virus in Molemole dieselfde is as die een wat in Vhembe uitgebreek het nie.

* Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike virale siekte wat vinnig onder diere met gesplete hoewe, wat varke, beeste, skape en bokke insluit, versprei.

Van die simptome van die siekte is dat diere lusteloos voorkom en nie vreet nie. Daar vorm sere in die diere se bek wat hulle keer om te vreet. Oormatige speeksel kom voor en diere kners op hul tande. Sere kom ook op die pote voor en in jong diere tas die siekte die hart aan wat tot vrektes lei.

Meer oor:  Limpopo  |  Landbou  |  Veilings  |  Bek-En-Klouseer  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.