Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Bredasdorp is gasheer vir Nampo Kaap

Dit is amper heerlike lente en die heel eerste Nampo Kaap-landbouskou is om die draai. Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van die landbou-organisasie Graan SA, vertel wat boere en ander besoekers eersdaags op dié Wes-Kaap-eerste op Bredasdorp te wagte kan wees. 

Jannie de Villiers Foto: VERSKAF

Graan SA maak vanjaar geskiedenis deurdat daar vir die eerste keer ’n Nampo Kaap op Bredasdorp in die Wes-Kaap gehou gaan word.

Dié besluit is geneem na aanleiding van ’n versoek van Bredasdorp Park NPC (’n organisasie sonder winsoogmerk) dat Graan SA ’n vennootskap met hulle in dié verband sluit.

Graan SA is van mening dat om Nampo Kaap aan te bied, uiters bevorderlik vir landbou in die geheel sal wees.

Een van die redes is dat ’n deel van Graan SA se strategiese beplanning om landbouproduktiwiteit te bevorder, deur Nampo Kaap onderskryf sal word.

Aangesien die skou onder die vaandel van Graan SA gaan plaasvind, en danksy die uitstekende reputasie van die Nampo-oesdag by Bothaville in die Vrystaat, is daar vertroue onder die uitstallers dat hulle aan ’n suksesvolle landbouskou gaan deelneem.

Daarom sal daar nie ’n gebrek aan uitstallers wees met die jongste landboutegnologie nie.

Grond onder loep

Landbou word ook voortdurend met vraagstukke gekonfronteer, waaronder een van die knellendste die huidige gronddebat is.

Diegene wat by die bepaling en uitvoering van landboubeleid betrokke is, sal die geleentheid kry om as besoekers by Nampo Kaap eerstehandse kennis en insig op te doen.

Dié landbouskou skep ook ’n belangrike platform vir die media waar inligting oor die breë spektrum van landbouaangeleenthede verkry kan word.

Verder sal die aandag gevestig word op die uitdagings waarmee kommersiële, sowel as opkomende boere daagliks gekonfronteer word.

Hier kan onder meer na hoë insetkoste en noodsaaklike tegniese kennis verwys word.

Om ’n Nampo-landbouskou in die Kaap aan te bied stel ook produsente wat vanweë seisoenale boerderyverpligtinge nie die Nampo-oesdag op Bothaville kon bywoon nie, in staat om ’n soortgelyke gebeurtenis op hul eie drumpel te ervaar.

Fokus op jeug

’n Besonderse aspek waaraan daar by Nampo Kaap aandag gegee gaan word, is die jeug en jongmense se behoefte om by landbou betrokke te raak.

Almal is nie in die posisie om te boer nie. Tog is daar ’n wye verskeidenheid organisasies en beroepsvelde wat op landbou fokus.

Gevolglik sal daar ’n spesiale aanbieding op Nampo Kaap wees wat op hierdie behoefte fokus.

Jongboere en opkomende boere sal ook hulle toekomsplanne met vrug met al die uitstallers kan bespreek en verfyn.

Dié landbouskou skep ook ’n belangrike platform vir die media waar inligting oor die breë spektrum van landbouaangeleenthede verkry kan word.

Daar kan slegs begrip vir volhoubare kommersiële landbou geskep word as tegniese, vakkundige en beleidsinligting na buite uitgedra word.

Dís ’n belegging

Vinnige feit

Die eerste Nampo Kaap word van 12 tot 14 September by Bredasdorp-park op dié Overbergse dorp aangebied. Die skoutye is daagliks vanaf 08:00 tot 17:00.

Nóg ’n belangrike voordeel van Nampo Kaap is dat dit as ’n langtermynbelegging vir die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor sal dien.

Alle wins wat gemaak word, sal tot voordeel van Graan SA se lede, winsgewende landbou en volhoubare voedselsekerheid aangewend word.

Nampo Kaap word gesien as ’n projek deur die gemeenskap, vir die gemeenskap.

Onder die vaandel van Graan SA, word daar aan plaaslike nie-winsgewende organisasies soos kerke en skole die geleentheid gebied om onder meer kosstalletjies op die landbouskou as fondsinsamelingsprojekte te bedryf.

Op ’n sosiale vlak sal onderlinge vriendskapsbande tussen lede natuurlik ook hernu en gesmee word.

Dit lei tot goeie kruisbestuiwing van kennis tussen die produsente – onder meer ten opsigte van watter produksieprosesse gebruik word en boerderyplanne gemaak is.

Ons voorsien dus dat Nampo Kaap dié hoogtepunt op die sosiale landboukalender in die Kaap gaan word.

  • De Villiers se skrywe het oorspronklik in Graan SA se tydskrif SA Graan/Grain verskyn.
    Meer oor:  Graan Sa  |  Nampo Kaap  |  Jannie De Villiers  |  Bredasdorp  |  Landbou  |  Skou
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.