Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Clover skryf lening van R439 miljoen af
Clover se kleinhandelverkope het in die afgelope boekjaar verbeter.

Die moeilike posisie waarin Suid-Afrikaanse melkprodusente hulle bevind, het daartoe gelei dat die suiwelmaatskappy Clover ’n lening van R439 miljoen aan Dairy Farmers of South Africa (DFSA) moes afskryf.

Dit blyk uit Clover se resultate vir die boekjaar toe einde Junie, wat gister uitgereik is.

DFSA is in 2017 deur Clover gestig om die verspreiding van ongepasteuriseerde melk te behartig. Melkboere is die meerderheidsaandeelhouers in dié maatskappy, wat primêre melkprodukte onder Clover se handelsmerk aan die kleinhandel bemark.

Dinsdag, ’n dag voor die uitreiking van Clover se resultate, het die twee topamptenare van DFSA skielik bedank.

Louis Botha, die uitvoerende hoof, het weens die “enorme konflik” tussen die botsende belange van melkprodusente en Clover se markaandeel bedank, volgens ’n verklaring deur die groep.

Dirk Reynecke, DFSA se voorsitter, het ook bedank om die produsente-aandeelhouers die kans te gee om hul eie onafhanklike voorsitter en uitvoerende hoof aan te stel.

Daar is die laaste paar maande groot kommer oor die volhoubaarheid van melkprodusente, wat ’n ernstige kosteknyptang ervaar nadat skerp verlagings in produsentepryse veroorsaak het dat sommige melkprodusente die bedryf moes verlaat.

Volgens Clover het sy genormaliseerde wesensverdienste per aandeel met 223,8% tot 206,8c gestyg. Dié styging sluit egter die afskrywing uit.

As ’n mens die DFSA-lening se afskrywing inreken, was die wesensverlies per aandeel 23c in die jaar tot Junie teenoor ’n wesensverlies van 64c ’n jaar gelede.

Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover, sê die maatskappy is verbind daartoe om DFSA te ondersteun en volhoubaar te maak. “Op dié manier verseker ons ons eie melkbronne en dienstegeld.”

Hy skryf die verbetering in die maatskappy se resultate toe aan ’n volgehoue fokus op kostebesparing en groter doeltreffendheid.

“Heelwat nuwe produkte is ook bekend gestel wat goed deur die mark ontvang is, terwyl ons Projek Masakhane, wat ons toegang tot die informele handelsektor verhoog het, die aantal verspreidingspunte vir ons produkte met 51% verhoog het.”

’n Jaar gelede het Clover weens die nasleep van die droogte gedempte resultate gehad, terwyl kleinhandelverkope ook onder druk was.

Die gediversifiseerde suiwel- en koeldrankmaatskappy het intussen goeie vordering gemaak om waardetoegevoegde produkte soos jogurt, vla en verrykte melk se markaandeel te verhoog.

Sy ander produkte sluit ook olyfolie en voorbereide maaltye in wat onder die handelsnaam The Whistling Chef verkoop word.

Inkomste in die afdeling vir nageregte en gefermenteerde produkte het met 25,7% gestyg, wat ook die groep se algehele inkomste ’n hupstoot van 7,9% tot R8,3 miljard gegee het.

Die maatskappy sê hoër brandstofpryse het druk op sy primêre verspreidingskoste geplaas en sy wins geknou. Koste van verkope het in die boekjaar met 6,9% tot R345,4 miljoen gestyg. Faktore soos die uitbreking van listeriose het Clover ook onregstreeks geraak.

’n Finale dividend van 48,6c per aandeel word uitgekeer.

Clover se aandeelprys, wat vroegdag gestyg het, het egter die dag 0,47% laer op R14,78 afgesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.