Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Daggafirmas ‘verheug’ oor samesmelting

Twee maatskappye in die kannabidiol-bedryf (KBD-bedryf) staan nou saam om hul voetspoor in Afrika en die wêreld te vergroot.

Warren Schewitz, stigter en uitvoerende hoof van Goodleaf, en Jody Aufrichtig van Highlands Investments. Foto: Verskaf

Goodleaf en die voormalige Canopy Growth Africa, wat nou bekendstaan as Highlands Investments, het dié week aangekondig ’n transaksie om saam te smelt, is suksesvol afgehandel.

Saam gaan die twee maatskappye nou die grootste kannabidiol-vervaardiger in Afrika wees, luidens ’n verklaring. Die aanvanklike beleggingswaarde is meer as R350 miljoen en die nuwe entiteit, Goodleaf and Highlands Investments, sal uiteindelik ’n gesamentlike waarde van R650 miljoen hê.

Kannabidiol, of KBD-produkte, word gemaak van daggaplante. KBD is ’n chemiese komponent van dagga en word gebruik in baie gesondheidsprodukte wat vrylik in Suid-Afrika te koop is. Verkopers soos gesondheidswinkels en apteke, hoef nie meer lisensies te hê om KBD-produkte, soos olies, te verkoop nie. THK is ’n ander bekende chemiese komponent van dagga wat gebruikers “hoog” laat voel.

LEES OOK: Dagga: Min dae voor jy kan rook en geniet

“Ons is verheug oor die suksesvolle afhandeling van die samesmelting wat nou Afrika se ware en eerste verskaffer van kannabidiol-produkte vanaf saad tot die produkte self tot stand bring,” sê Warren Schewitz, stigter en uitvoerende hoof van Goodleaf. “Ons plan was nog altyd om ’n wêreldklas-handelsmerk te skep, en hierdie vennootskap maak dit moontlik.”

Jody Aufrichtig, stigter van Highlands, sê die transaksie bring die twee grootste spelers in die bedryf in Afrika byeen.

“Daar is wêreldwyd hernude belangstelling in die kannabidiol-bedryf. Highlands Investments is die eerste ISO 22000-gegradeerde dagga-vervaardiger in Afrika en die gehalte daarvan is wêreldklas. Hierdie samewerking gaan ons help om beduidend meer internasionaal mee te ding wat betref prys en gehalte.”

Goodleaf verkoop reeds 30 soorte KBD-produkte in verskillende kategorieë in Suid-Afrika en het volgens Schewitz ’n goed gevestigde basis met produkte wat aanlyn te koop is. Hul produkte word ook in koffiewinkels en in van Suid-Afrika se groot kettingwinkels verkoop.

Goodleaf-produkte word ook binnekort uitgevoer na Asië en Europa.

“Verbruikers is al hoe meer gefokus op produkte van goeie gehalte en vereis ook toenemend om te weet waarvandaan dié produkte kom,” sê Schewitz. Volgens hom is Lesotho se omgewing baie geskik vir daggaplante en saam met Highlands se teenwoordigheid in Lesotho en sy ISO-gradering kan die KBD-produkte voldoen aan verbruikers se eise en verwagtinge.

Highlands het in April hul vierde oes ingesamel by die Kolojane-fasiliteit in Lesotho. Die saad is geoes van daggaplante wat buite groei en het bykans ses ton se dagga-blomme van goeie gehalte gelewer.

’n Groot deel van dié oes word aan die Europese mark verkoop, wat dit vir medisinale doeleindes gebruik.

Highland sal ook, volgens die nuwe ooreenkoms, voortgaan om die plante aan wêreldmarkte te verskaf.

Vir Goodleaf beteken dit hy het nou ’n strategiese vennoot gekry wat sy greep op die Suid-Afrikaanse mark kan versterk.

“Dit bring ook vir ons laer koste in produksie, vervaardiging en verspreiding van ons bestaande produkreeks mee, asook nuwe buitelandse markte,” sê Schewitz.

Die nuwe transaksie bepaal Highlands Investments se aandeelhouers het 35% aandeelhouding en Goodleaf s’n 65%.

Meer oor:  Kannabidiol  |  Kbd  |  Landbou  |  Samesmelting  |  Uitvoer  |  Dagga-Olie  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.