Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dagga: Min dae voordat jy kan rook en geniet

Daai groen goedjies in jou broeksak kan jou steeds in die sop laat beland. Hier is waar die wetgewing oor dagga tans staan.

  

KBD-produkte is reeds vrylik in Suid-Afrika beskikbaar en verbruikers kan dit sonder voorskrif koop en gebruik. Foto: Unsplash

Hoewel jy deesdae dagga mag rook vir ontspanning, mag jy steeds nie daarmee handel dryf of die indruk wek dat jy dit verkoop nie.

Boere mag ook nog nie wettig dagga plant vir kommersiële doeleindes nie.

Terwyl volwasse Suid-Afrikaners wag dat die wet bekragtig word wat hulle sal toelaat om dagga vir ontspanning te gebruik, gaan boere en kleinskaalse verbouers nog ’n ruk moet wag voordat riglyne oor die kommersiële verbouing van dagga die pad vorentoe aandui.

Die Wetsontwerp op die Private Gebruik van Dagga is reeds by die parlement ingedien nadat die publiek tot einde November kommentaar daarop kon lewer. Dit moet nog bekragtig word, maar regslui meen dat mense in die lig van die hofuitspraak van 2018 wat private gebruik van dagga dekriminaliseer, nie vir private gebruik vervolg sal word nie.

Alle aanduidings is dat die wetsontwerp in 2022-’23 bekragtig sal word, sê Albertus Kleingeld, ’n prokureur en direkteur van Kleingeld en Mayet in Bloemfontein.

Hy sê die wetgewing sal byvoorbeeld die gewig uitstippel wat toelaatbaar sal wees vir private gebruik.

“Dit bly egter nou ’n grysgebied totdat daar duidelikheid is oor die wetgewing. As jy dus betrap word met dagga, mag dit net genoeg wees vir eie gebruik.

“Sou die polisie jou aftrek met ’n streepsak vol, kan jy dalk in die moeilikheid wees, want dit kan die indruk wek dat jy daarmee handel dryf,” sê Kleingeld.

Ander aspekte

Maar private gebruik is net een aspek van daggaverbruik en -verbouing in Suid-Afrika.

Albertus Kleingeld

Kleingeld sê daar is drie kwessies ten opsigte van die wetlike aspekte wat met dagga verband hou.

“Die eerste deel kyk na persoonlike gebruik vir ontspanning. As hierdie wetgewing bekragtig word, sal volwassenes dagga vir eie gebruik kan neem, maar nie daarmee handel dryf nie.

“Die tweede hanteer die medisinale gebruik van dagga, soos vir pynbeheer.

“Die derde deel handel oor industriële verbouing, of die kommersiële deel van daggaplante. Dít is wat vir die landboubedryf belangrik is,” sê Kleingeld.

Mense moet ook onthou dat dit steeds onwettig sal bly om onder die invloed van dagga te bestuur, en dat werkgewers hul eie reëls het oor dagga. Dagga kan dae of selfs weke lank in ’n mens se urine meetbaar wees, na gelang van hoeveel en hoe gereeld dit gebruik word.

Wet vir boere nog nie geskryf

Die mandaat om na die kommersiële sy van dagga te kyk en wetgewing daarvoor gereed te kry, is nou die werk van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Die kommersiële sy het voorheen onder die departement van gesondheid se jurisdiksie geval.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se voorgestelde meesterplan vir dagga was tot 30 Maart oop vir kommentaar deur die publiek.

Dit sal na verwagting teen Junie gereed wees, berig Landbou.com

Wat wel steeds geld, is dat boere wat byvoorbeeld hennep van daggaplante wil vervaardig, eers ’n permit moet kry, tans nog by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra).

Dié reëling sal weldra die verantwoordelikheid van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling word.

Die pad wat wetgewing stap

Tot voor 2019 het die land se wetgewing nie onderskeid getref tussen die verskillende dele, of chemiese aspekte en gebruike, van daggaplante nie.

In 2018 het ’n uitspraak van die konstitusionele hof daartoe gelei dat die parlement die gebreke in wetgewing oor die reg op die private gebruik van dagga moes ondersoek en wetgewing wysig sodat volwassenes dagga vir private gebruik in hul huis mag kweek en gebruik.

Suid-Afrikaners wag nou vir die parlement om die Wet op die Private Gebruik van Dagga te bekragtig.

Kleingeld sê KBD (kannabidiol) is byvoorbeeld in 2020 na ’n bylae 0-medikasie verander van ’n bylae 7-medikasie vroeër.

“Dit is hoekom verbruikers nou by enige apteek kan instap en KBD-produkte sonder ’n voorskrif kan koop.”

Apteke en winkels wat KBD-produkte verkoop, het ook nie meer lisensies of permitte daarvoor nodig nie.

“Enigiemand wat KBD wil onttrek uit daggaplante, dit wil verbou, vervaardig en in- of uitvoer, moet egter volgens wet ’n lisensie en ’n permit hê om dit te doen.”

Die verskil tussen KBD, hennep en THC

Sahpra reguleer die tetrahidrokannabinol- (THK) en KBD- komponente van dagga. Albei kom voor in daggaplante, maar die konsentrasie daarvan verskil.

Daar is sowat 140 soorte chemiese komponente in daggaplante, waarvan THK en KBD twee is. Dié twee se chemiese struktuur verskil en daarom is daar groot verskille in hoe dit verbruikers affekteer.

KBD word soos verduidelik, nie meer as ’n bylae 7-medikasie beskou nie. Jy kan dit dus as gesondheidsaanvulling gebruik en by enige winkel koop.

THK word in voorgeskrewe medisyne gebruik en dit is wat gebruikers “hoog” laat voel.

Die gebruik van THK word steeds baie streng in Suid-Afrika gereguleer. Enigiemand wat dit wil gebruik vir medisinale redes moet eers toestemming kry by Sahpra en dan eers sal ’n dokter ’n voorskrif kan gee alvorens medisyne by ’n apteek gekoop kan word.

Kleingeld sê as jou voorskrif byvoorbeeld net vir 30 pille is, moet die hele proses weer gevolg word sodra dit op is.

Dis hier waar Lesotho, waar hy ’n paar kliënte het, Suid-Afrika voor is. “In Lesotho hoef jy, soos met KBD hier, slegs vir ’n lisensie aansoek te doen by die minister van gesondheid om THK te mag verbou.”

Hy sê veral Europese lande soos Duitsland is ’n groot mark vir THK. Daar word reeds van Lesotho af hoëgehalte-koppe met THK na Duitsland uitgevoer.

Hennep is ’n variëteit van dagga met baie klein hoeveelhede THK in die gedroogte vorm.

Hennep word wêreldwyd verbou vir gebruik in verskeie produkte.

Die vesel word onder meer gebruik in die vervaardiging van materiaal en bakstene. Hennepsaad is ’n proteïenryke voedselbron en kan ook gebruik word om ’n melkalternatief te maak. Vroeër jare is dit veral as voëlsaad ingespan.

Meer oor:  Kannabidiol  |  Hennep  |  Kbd  |  Kannabis  |  Dagga-Olie  |  Cbd  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.