Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dagga: SA ‘kan ’n wêreldrol speel’

Suid-Afrika kan teen 2023 een van die waardevolste kannabismarkte in Afrika verteenwoordig as die produksie en verspreiding daarvan vir medisinale en ontspanningsgebruik gewettig word, maar onsekerheid oor wanneer dit kan gebeur hou die bedryf terug.

’n Plaaswerker pluk kannabis-blomme in Kasese, Uganda. Foto: Getty Images

Só sê entrepreneurs, ontleders en voornemende beleggers wat die ekonomiese potensiaal van die plaaslike kannabisbedryf wil ontgin. Die internasionale konsultantgroep Prohibition Partners sê volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is Suid-Afrika die derde grootste onwettige kannabisprodusent ter wêreld met ’n oes van sowat 2 500 ton per jaar.

Die Suid-Afrikaanse regering het middel-2019 besluit ’n nasionale strategie is nodig om kannabis te kommersialiseer om ekonomiese groei te bevorder, werk te skep, landelike gebiede te ontwikkel en armoede te verlig.

Ingevolge die regering se konsepplan het die land sowat 900 000 kleinboere wat dagga kweek. Hul grootste teikenmark is in Kaapstad, Johannesburg en Durban. Al het die konstitusionele hof in 2018 bevind private gebruik en die kweek van kannabis tuis is wettig, is dit steeds onwettig om dagga te verkoop.

Al die aanbieders op ’n seminaar van die Universiteit van Pretoria se kannabis-organisasie (Coup) die afgelope week was dit eens dat die verkoop van kannabis so gou moontlik gewettig moet word.

Luidens die vyfde weergawe van die konsepplan is Suid-Afrika se kannabisbedryf sowat R28 miljard werd, met ’n geraamde 3,5 miljoen gebruikers.

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) is kannabis die 59ste grootste “ekonomie” ter die wêreld. Die Verenigde Nasies raam sowat 3,9% van die wêreld se volwasse bevolking (sowat 190 miljoen mense) gebruik dagga, vergeleke met 1 miljard tabakrokers.

Luidens die konsepplan is alle provinsies in die land geskik vir die verbouing van dagga en hennep, albei van die kannabisfamilie, maar toestande is die gunstigste in die “daggagordel” – van die Oos-Kaap tot KwaZulu-Natal.

Gebiede geskik vir daggaverbouing moet geïdentifiseer en gesoneer word en verkieslik in gebiede met hoë werkloosheid en armoede val. Op die seminaar is geleenthede genoem soos die kweek, verspreiding, bemarking, bewusmaking en opleiding, dienste aan die bedryf en die verskaffing van saad.

Sibusiso Xaba, stigter en uitvoerende hoof van die African Cannabis Advisory (Aca)-groep, het gesê sy firma kyk onder meer na ’n moontlike belegging in ’n onderneming wat ’n mobiele verwerkingseenheid na landelike gebiede wil neem om hennepsaadolie te kan onttrek.

‘n Plaaswerker besig in ‘n kannabis-kweekhuis in Kasese, Uganda. Uganda is een van verskeie Afrikalande wat kannabis vir medisinale doeleindes wil produseer en na Europa en Amerika uitvoer. Foto: Luke Dray via Getty Images

Trenton Birch van Cheeba Africa, wat op kannabis se rol in gesondheid en welstand fokus, het Afrika se eerste kannabis-kampus onlangs in Johannesburg geopen. Klasse het die afgelope week daar begin.

Hy sê die Silverleaf Investments-fonds, ’n nuwe Suid-Afrikaanse waagkapitaalbeleggingsfonds, is onlangs op die been gebring sodat mense in die plaaslike daggabedryf kan belê.

Volgens hom moet kannabisprodukte in Suid-Afrika vervaardig én verwerk kan word.

Luidens die konsepplan word hennep vir verskeie kommersiële en nywerheidsprodukte gebruik, soos tou, tekstiel, klere, plafonborde, stene, verf en bio-afbreekbare plastiek. Dagga word meestal vir medikasie, skoonheidsmiddels en vir ontspanning gebruik.

Suid-Afrika voer hennepprodukte in wat op vraag in die plaaslike mark dui en dus die geleentheid bied vir plaaslike produksie en goedkoper verskaffing aan die mark, lui die dokument.

Wêreldwyd kan medisinale kannabis teen 2027 $82,9 miljard in inkomste genereer, lui die konsepdokument. Luidens ’n nuwe verslag kan die bedryf in Kanada, waar die ontspanningsgebruik van kannabis wettig is, sy inkomste vanjaar verdubbel en teen 2025 vervyfdubbel.

Lesotho was in 2017 die eerste land in Afrika wat die kweek van dagga vir medisinale redes toegelaat het, maar omdat die lisensieproses so duur is, word die mark oorheers deur buitelandse maatskappye, lui die konsepplan. Die enigste manier om betrokke te raak by die wettige handel in kannabis is om ’n lisensie vir mediese marijuana van die Suid-Afrikaanse beheerraad vir gesondheidsprodukte (Sahpra) te bekom. Dit kan maklik tot R6 miljoen kos, sê Xaba.

Meer oor:  Kannabis  |  Landbou  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.