Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dankie tog, peperduur tamaties word gou goedkoper

Verbruikers wat hul lus vir tamaties weggeskrik het toe hulle in April meer as dubbeld soveel moes betaal as ’n jaar gelede, kan moed skep noudat tamatiepryse effens begin daal.

Ná rekordpryse vir tamaties in April, begin pryse nou daal danksy hoër volumes en vrugte van beter gehalte. Foto: ELIZABETH SEJAKE

Swaar reën in die noordelike dele van die land in Januarie en Februarie het tamatie-oeste geknou. Dit het tot laer volumes gelei, asook vrugte van swakker gehalte, sê Abrie Rautenbach, hoof van AgriBesigheid by Absa se kleinhandel- en sakebank.

Clive Garrett, bemarkingsbestuurder van ZZ2, die grootste tamatieprodusent in die Suidelike Halfrond met ’n groot deel van sy bedrywighede in Limpopo, sê in die eerste twee maande van 2021 het die streek meer reën gekry as wat gewoonlik in ’n jaar val.

Tamaties hou van water, maar floreer nie wanneer dit te veel reën kry nie, sê hy.

Volgens Rautenbach was tamaties skaars, en veral tamaties van goeie gehalte. Omdat tamatiepryse deur vraag en aanbod bepaal word, het pryse opgeskiet. Met volumes wat nou begin vermeerder, behoort tamaties goedkoper te word.

Rautenbach sê die gemiddelde prys van tamaties het middel-April ’n hoogtepunt van R19 000 per ton gehaal (sowat R20/kg).

Die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) se huishoudelike voedselmandjie vir laeinkomstehuishoudings wys 6 kg tamaties was in April teen R137,19 (byna R23/kg), ’n allemintige 70% duurder as agt maande gelede.

Absa-data wys die prys vir eerstegraad tamaties was in die week tot 7 Mei steeds hoog, maar darem laer op R11 278 per ton (of sowat R11/kg).

In dié week is nagenoeg 58% meer tamaties gelewer as ’n maand tevore en die prys was 42% laer.

Op ’n jaargrondslag is die volume egter nog 23% laer as in die ooreenstemmende tyd in 2020 en die prys sowat 44% hoër, sê Rautenbach.

Tamaties vir die nuwe seisoen wat sedert die derde week in April op markte beskikbaar is, is meer asook van beter gehalte en pryse neig nou laer, sê hy.

Volgens Rautenbach kan verbruikerspryse daal tot onder R10/kg (of R10 000 per ton) gegewe die huidige prys van R11,28 en die dalende tendens.

Van ZZ2 se tamatie-aanplantings. Foto: ZZ2
Na rekordpryse vir tamaties in April, begin pryse nou daal danksy hoër volumes en vrugte van beter gehalte.Foto: ELIZABETH SEJAKE

Historiese tendense wys tamatiepryse is gewoonlik laer gedurende die wintermaande.

Op grond hiervan kan pryse teen Augustus heelwat laer wees voordat dit weer begin styg soos die jaareinde nader kom, sê Rautenbach.

Garrett sê in ’n normale jaar is die produksie van tamaties taamlik konstant van maand tot maand, maar vanjaar was ’n uitsondering met die swaar reën in Januarie en Februarie.

Suid-Afrika produseer jaarliks sowat 500 000 ton tamaties.

Dit word alles in Suid-Afrika en sy buurlande verbruik.

Volgens ZZ2 se webblad lewer die maatskappye jaarliks sowat 190 000 ton tamaties vir alle markkanale en inkomstegroepe.

Die ZZ2-groep van maatskappye verbou onder meer ook mango’s, uie, avokado’s en steenvrugte.

Volgens Garrett is die vooruitsigte vir tamatieboere vir die res van die jaar gunstig, mits ons enige natuurlike rampe soos winterryp vryspring.

Meer oor:  Kleinhandel  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Tamaties  |  Boere  |  Voedselsekerheid  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.