Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dié appel het nie ver van boom geval

Landbouskrywers SA het die Ceres-vrugteboer Pieter Graaff van die boerdery Witzenberg Properties vanjaar as die nasionale Boer van die Jaar aangewys. Samantha van den Berg het by hom in die Witzenbergvallei gaan kuier en uitgevind dat die appels hier nie eerste kom nie, maar die mense.

Boerderybeginsels: Witzenberg Properties belê in die volle waardeketting en is deel van verskeie ander ondernemings, insluitend ’n kwekery, pakstoor en kartonfabriek. Foto: Verskaf

Pieter Graaff is ’n boer wat baie ysters in die vuur het. Nadat hy die boerdery in 1984 by sy pa, dr. Jan Graaff, oorgeneem het, het hy oor die jare daarin geslaag om hom as die grootste individuele appelpro­dusent in die land te vestig –

met ’n totale produksie van

46 783 ton appels vir die jaar.

Die boerdery bestaan vandag uit ses plaaseenhede wat in vier unieke klimaatsones in die Ceresvallei geleë is.

Benewens die appelkom­ponent van sy boerdery verbou Graaff ook pere, nektariens, perskes, kersies, wyndruiwe, groente en graan.

Hy boer met beeste en skape, besit ’n stoetery wat volbloedperde teel en het ook ’n saagmeule vir al sy bosbou-aktiwiteite.

Daarbenewens het die Witzenberg Properties-boerdery ook ’n aandeel in die volle waardeketting – wat beleggings in ’n kwekery, kartonfabriek en sap-aanleg insluit.

Graaff dien dikwels as die voorsitter van dié maatskappye.

Deel van die groter prentjie: Graaff glo een van die faktore wat tot sy sukses bygedra het, is sy verbintenis met die vrugtebemarker Tru-Cape. Hy dien tans as voorsitter. Foto: Verskaf

Mense bly belangrik

Vra jy hom egter wat die belangrikste bate van sy boerdery is, laat Graaff jou mooi verstaan dat dit die welstand van die mense is wat op Witzenberg Properties se ses plase werk wat hom na aan die hart lê.

“ ’n Appelboerdery is ’n mens-bedryf. As jy nie met mense kan werk nie, kan jy nie met appels boer nie.

“Jy moet omgee vir jou mense en seker maak dat hulle lekker werk,” sê Graaff oor sy boerderyfilosofie.

In seisoentyd woon en werk sowat 2 500 mense en hul gesinne op die boerdery se plase in die Witzenbergvallei.

Graaff sê benewens goeie finansiële bestuur is die wyse waarop jy die mense behandel wat vir jou werk, die belangrikste beginsel van ’n suksesvolle boerdery is.

En in die Witzenberg Properties-boerdery is dit áltyd met waardigheid en re­spek.

Vir diere het hy altyd plek: Benewens die groot vrugtekomponent van sy boerdery, boer Graaff ook met skape en beeste. “ ’n Plaas sonder diere is nie eintlik ’n plaas nie,” sê hy. Foto: Verskaf

Dít word alles gedoen

Volgens Graaff kan daar van geen persoon verwag word om elke dag sy beste te lewer as hy in haglike omstandighede woon nie.

Daarom kry die boerdery se permanente gesinne almal plaashuisvesting waarvoor geen huur afgetrek word nie.

In seisoentyd word die seisoenale werkers ook op die onderskeie plase gehuisves.

Benewens die nuwe huise wat deurentyd op die plase gebou word, word ’n werkersdorpie met 170 huise op Ceres beplan.

Graaff het reeds die grond vir die ontwikkeling gekoop, die omgewingsimpakstudie laat doen en die nodige goedkeurings verkry.

Daar word bedags in ses geregistreerde crèches op die plase na die landbouwerkers se kinders omgesien. Daar kry hulle twee maaltye per dag en tussenin verversings.

Elke crèche is ook as ’n nasorgplek ingerig waar skoolgaande kinders smiddae met huiswerk gehelp en met opvoedkundige projekte besig gehou word.

Só pas bosboukomponent in:Die Witzenberg Properties-boerdery het sy eie saagmeule, sodat grootmaathouers en kratte vir die vrugte en groente gemaak kan word. Foto: Verskaf

Vrydagmiddae bied ’n instrukteur karateklasse op Graaff se grootwordplaas, Die Eike, aan vir die werkers se kinders wat daar woon.

Toegang tot gesondheidsorg word ook nie nagelaat nie en daarvoor is ’n kliniek op elke plaas ingerig. ’n Verpleegster roteer tussen die klinieke.

Witzenberg Properties se vervoerdiens verseker dat sy werknemers nooit ’n rugby- of sokkerwedstryd by hul plaaslike klub hoef mis te loop nie, Sondae by die kerk kan uitkom of doktersafsprake op Ceres kan nakom.

“Die beloning vir al hierdie insette wat ons maak, is om gelukkige mense te hê. Dit gaan nie vir my net oor produktiwiteit nie,” sê Graaff.

“Die beloning is om ’n stabiele, gelukkige gemeenskap op jou plaas te hê. En dít kom voor enige winsgedrewenheid – regtigwaar,” sê hy.

Sy filosofie is om vir die mense in sy diens om te gee en dit te wys – dus is dit vir hom as boer belangrik om sy werkers se gesinne ook te leer ken.

“Dit is seker omdat ek op Die Eike grootgeword het, maar ek kan deur geslagte heen sien van watter families die kinders kom wat daar woon.

“Jy moet omgee vir jou mense – daarom verwag ek byvoorbeeld van my bestuurspan om presies te weet waar elke werker woon en wat sy vrou se naam is.

“Jy moet so in die mense wat vir jou werk, belangstel dat jy hul geskiedenis ken,” sê hy.

Appels is kern: Appels is Graaff se kernbedryf. Hy verbou dit op 883 ha. Foto: Verskaf

Aan die begin

Volgens Graaff is sy familie al langer as 300 jaar in die Kaap.

Die eerste Graaff was ’n skrynwerker uit Oostenryk wat hom in die 1700’s hier kom vestig het. “In daardie dae was ’n skrynwerker soos ’n IT-spesialis,” skerts hy.

“Die preekstoel in die Groote Kerk is byvoorbeeld deur ’n Graaff gehelp skep. My familie het mettertyd uit Kaapstad beweeg en hulle uiteindelik op Villiersdorp gaan vestig.”

Dit is by sy voorvaders op dié landboudorp waar die Graaff-familie se landbougene begin het, sê Graaff.

Dit is ook waar sy bekende sakeman- en politikus-oupa, sir David Pieter De Villiers Graaff, gebore is.

Graaff se oupa het as 11-jarige plaasseun as slagtersassistent in sy oom se slaghuis in Kaapstad gaan werk.

’n Stoet om op trots te wees: Die pragtige volbloedperd Visionaire, van Graaff se perdestoetery Lammerskraal. Hy het die stoetplaas in 2014 gekoop. Foto: Verskaf

Hy het later die onderneming oorgeneem, en teen die tyd dat hy 22 was, het hy saam met sy broer die Imperial Cold Storage Company gestig.

Hy het op 32 burgemeester van Kaapstad geword en ook pionierswerk gedoen deur die stad se eerste kragstasie te laat bou om só elektrisiteit aan Kaapstad te voorsien.

In 1891 het hy die ikoniese Kaapse wynplaas De Grendel gekoop om sy arabierperde te huisves.

’n Paar jaar later het hy ’n holsteinstoet geregistreer en ’n melkery op die plaas begin – ’n stoet wat vandag een van die oudste geregistreerde holsteinstoeterye in die land is.

“Daar loop al jare ’n goue draad van landbou deur ons familie,” sê Graaff.

“My oupa moes eintlik die boer van die jaar gewees het. Hy het ’n slaghuisonderneming in die suksesvolle verkoelingsonderneming Imperial Cold Storage omskep.

“Hy was eintlik een van die eerstes wat tegnologie na die landboubedryf gebring het deur krag te gaan haal om vleis te verkoel.”

Graaff se pa, weer, was ’n ekonoom wat as jong man aan die Universiteit van Cambridge in Engeland klas gegee het.

“Om te boer is soos om krieket in die glippe te speel. Jy moet wakker wees vir elke draaibal wat na jou kant toe kom. Dit sluit in die weer, politiek, wetgewing, die mark, peste en plae. Daar is baie uitdagings, maar daarsonder is dit nie opwindend nie. Jy moet hou van uitdagings.”
Pieter Graaff

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy drie beleggings gemaak, waarvan die een die familieplaas Die Eike buite Ceres was.

Graaff was in die koshuis, maar sê dat hy sy pa gedurende skoolvakansies op die plaas gehelp het. “Ons het nooit vakansies strand toe gegaan nie – ek het nie eens ’n strand gesien nie. Winter of somer – jy het nie eens gevra nie, want jy het geweet wat die antwoord gaan wees.

“Ek het my pa van jongs af op die plaas gehelp. Ek onthou hy het altyd gesê dat ’n plaas se werkers ’n boerdery se belangrikste bate is. Daardie beginsel is toe al by my ingeburger.”

Ná skool het Graaff ’n BCom-graad aan die Rhodes-Universiteit op Grahamstad verwerf. “My pa was ’n ekonoom en wou gehad het dat ek finansies moes verstaan. Hy het geglo ek het genoeg blootstelling aan landbou gehad. As jy nie finansies verstaan nie, kan jy nie boer nie. Dit is só eenvoudig soos dit.”

Toe sy pa later weer ’n pos in die buiteland aangebied word om te gaan klas gee, het Graaff die geleentheid aangegryp om Die Eike by hom te koop.

Vandaar het hy eiehandig die boerderyonderneming begin uitbou.

En wat was sy doelwitte vir die boerdery in daardie beginjare? “Net oorlewing,” skerts Graaff.

“Ek dink ek het sewe jaar lank nie een keer met vakansie gegaan nie.

“Die vrugtebedryf het toe egter baie goed gevaar en ek kon my pa binne sewe jaar afbetaal. Nou is die fondament van die boerdery reg gelê – and the rest is history,” sê hy.

Hier het dit alles begin: Die mooi plaasopstal op die familieplaas, Die Eike, sowat 30 km buite Ceres. Die plaas is in 1954 deur Graaff se pa, dr. Jan Graaff, gekoop. Graaff het op hierdie plaas grootgeword en sy pa vakansies gehelp om te boer. Hy het die boerdery uiteindelik in 1984 oorgeneem en verder uitgebrei. Foto: Verskaf

Die grootste genot

Graaff se pa was by die maatskappy Ceres Fruit Growers betrokke, waarvan Graaff self later die voorsitter was, en het hom geleer dat dit beter is om deel van die groter opset te wees as om op jou eie te probeer staan.

Daarom glo Graaff nog altyd daarin om eerder ’n klein vissie in die groot oseaan as ’n groot vis in ’n klein dammetjie te wees.

“Ek wil deel van die groter prentjie wees en nie alleen op my eie mishoop sit nie.

“Deur saam te span en saam te werk, kan ons mekaar bystaan in moeilike tye en keer dat die wolwe jou bykom.”

Graaff is die voorsitter van die vrugtebemarkingsgroep Tru-

Cape, die grootste uitvoerder van Suid-Afrikaanse appels en pere. Hy erken die grootste genot vir hom is om ’n plaas van niks af op te bou en al die voorafbeplanning te doen.

Dit is soos om op ’n skoon lei te begin en iets moois te skep, meen Graaff.

“Jy moet ’n lekker gevoel kry as jy by ’n plaas inry – jy moet vir die plek ’n siel gee. Dit het ’n uitwerking op almal wat daar werk en maak almal rustig,” sê hy.

“Ek sal eerder die standaarde lig en minder wins maak, as wat ek ’n ingat-onderneming bedryf. Dit skep ’n trots. Niemand wil deel van ’n plek wees wat ’n gemors is nie.”

En as hy raad kon gee aan ander jong mense wat nou op die drumpel van ’n loopbaan in die landboubedryf in Suid-Afrika staan?

“Jy kan niks sonder goeie kontantvloei doen nie en hou aan om in jou boerdery te herbelê – anders is daar nie ’n toekoms nie.

“Om volhoubaar te wees moet jy terugploeg. Jy melk nie ’n koei totdat sy omval nie. Jy moet aanmekaar in jou boerdery terugsit en dit jonk probeer hou,” aldus Graaff.

Vinnige feite

1954: Dr. Jan Graaff koop die plaas Die Eike buite Ceres en registreer die boerdery Witzenberg Properties.

1984: Pieter Graaff neem die boerdery by sy pa oor.

883 ha: Die appelboerdery word op soveel hektaar bedryf.

1,164 miljoen: Witzenberg Properties het soveel appelbome

46 783 ton: Dís hoeveel appels vanjaar geproduseer is.

184 142: Die boerdery se totale getal peerbome.

34 jaar: Die boerdery het in hierdie tydperk tot altesaam ses plaaseenhede uitgebrei.

131 keer: Sedert Graaff oorgeneem het, het die boerdery se omset met soveel vermenigvuldig.

Wenboer: So is die kandidate beoordeel

Die kriteria wat in Landbouskrywers SA se jaarlikse Boer van die Jaar-kompetisie oorweeg word, is as volg:

  • Aard en omvang van boerdery
  • Biologiese produktiwiteit
  • Verskansing teen risiko
  • Instandhouding en bestuur van natuurlike hulpbronne
  • Ekonomiese lewensvatbaarheid
  • Maatskaplike verantwoordbaarheid

Meer oor:  Boerdery  |  Landbou  |  Landbouskrywers Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.