Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dié boere verdien nou meer uit YouTube as boerdery
Bees- en graanboere in Amerika begin hul gewaarwordinge op YouTube deel en maak só meer geld as deur die verkoop van hul oeste. Foto: Unsplash

Die tye is beslis besig om te verander: Boere kan meer geld uit die maak van video’s oor boerdery op YouTube verdien as deur te boer.

Een só ’n boer is Zack Johnson, ’n Amerikaner wat met mielies en sojabone boer en bekendheid op YouTube verwerf het onder die gebruikersnaam MN Millennial Farmer.

Johnson, van die Amerikaanse deelstaat Minnesota, sê hy verdien reeds vyf keer meer uit die maak van video’s as wat die opbrengs van sy familieplaas oor die laaste jaar was.

Dié 34-jarige boer het drie jaar gelede begin video’s maak waarin hy ander boere probeer bystaan deur veral te fokus op die tegnologie wat hulle kan gebruik.

Hy en sy vrou, Becky, het nou al sowat 300 000 intekenare op hul YouTube-kanaal. Daar is al meer as 50 miljoen keer na hul video’s gekyk.

Dit is enersyds ’n aanduiding van hoe moeilik dit is om steeds ’n bestaan uit boerdery te maak, maar ook hoe verbruikers se belangstelling in hoe kos geproduseer word, toegeneem het.

“Ja, ons gebruik geneties gemodifiseerde organismes, plaagdoders en besproeiingstelsels – maar hier is die ware rede oor waarom ons dit gebruik,” sê Johnson in ’n onderhoud.

Hy meen hy bring ’n balans tot die gesprek oor moderne boerderypraktyke wat gewoonlik deurloop onder kritiek.

Die Johnsons is geensins al boerderygesin wat ’n groeiende teenwoordigheid aanlyn het nie.

Onder afgeleë boerderygemeenskappe in Amerika is YouTube verreweg die gewildste sosialemediaplatform.

In 2018 het die Pew-navorsingsentrum bevind dat 59% van boere in dié gebiede dit gebruik.

Keith Good, sosialemediabestuurder by Farmdoc, ’n projek wat data oor bedreigings vir boere insamel, is dit eens dat al hoe meer boere video’s maak en deel.

“Boerderyorganisasies en kommoditeitsgroepe moedig produsente aan om deel te neem aan die gesprek op sosiale media,” sê hy.

Hoe kan ek geld uit YouTube verdien?

Dié vraag het nie ’n eenvoudige antwoord nie, want dit hang van verskeie faktore af.

Die belangrikste faktor sal natuurlik wees watter soort inhoud jy skep, en of ’n goeie aantal mense daarin belangstel.

Elke dag word etlike duisende ure se nuwe inhoud op YouTube gelaai en die platform betaal aan die meeste van dié skeppers nie ’n sent nie.

Jy sal eers kan begin geld verdien uit YouTube as jou video(’s) meer as 4 000 kyk-ure in die laaste twaalf maande opgelewer het, en as jy meer as 1 000 intekenare tot jou kanaal het.

Daarna kan jy begin om ’n persentasie van die inkomste te eis wat YouTube verdien deur advertensies op jou video’s te plaas.

Dit is wel belangrik om te let dat YouTube jou net sal betaal vir gevalle waar kykers op ’n bepaalde advertensie gereageer het deur op ’n skakel te klik.

Daarom sal dit jou niks baat deur jou video’s aan al jou vriende en familie te stuur in die hoop dat meer kykers tot meer geld sal lei nie.

Ryan Kaji, ’n sewejarige van Texas in die VSA, het in 2018 meer as $22 miljoen deur sy YouTube-video’s verdien.

Hy was verlede jaar YouTube se topverdiener.

Kaji laai elke dag ’n nuwe video op waarin hy ’n ander speelding uittoets en sy gewaarwordinge daaroor deel.

Suzanne Cook, beter bekend as WT Farm Girl, het byna 40 000 intekenare wat haar ervarings as eerstegenerasieboer aanlyn volg.

Cook (37), hoop dat meer vroue by boerdery betrokke sal raak. Baie van haar volgelinge leer nog oor die boerdery, nes sy. Net 10% van haar kykers is egter vroue, sê sy.

“As ’n vrou is dit baie moeiliker, want mans neem jou net nie ernstig op nie,” sê sy in ’n telefoniese onderhoud.

“YouTube het my baie gehelp, want my intekenare is ondersteunend.”

Josh Draper het nou meer as 220 000 intekenare nadat hy gewys het hoe hy as eerstegenerasieboer ’n vervalle tabakplaas in ’n volwaardige beesplaas omskep het.

Hy het besluit om te begin video’s maak omdat “baie mense weer terugkeer na boerdery”.

Hy het ’n kamera aangeskaf en ’n video gemaak waarin hy sy grassnyer se lem slyp. Vandaar het sy gewildheid net toegeneem.

Jach en Becky Johnson se video’s is dikwels net die twee van hulle wat oor ’n bepaalde onderwerp gesels en só inligting aan hul kykers oordra. – Bloomberg, bygewerk

Meer oor:  Boerdery  |  Youtube  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.