Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dié drake is goed vir jou

Draakvrugte lyk op die oog af of dit vanuit die buitenste ruim op aarde geland het, maar hierdie eksotiese vrug begin algaande aftrek kry onder Suid-Afrikaanse verbruikers danksy die gesondheidsvoordele daarvan.

Oopgesnyde draakvrugte. Die vrug se vleis is wit of pienk, afhangend van die soort. Foto verskaf deur Leon de Wet

Draakvrugte bevat magnesium, yster en vitamiene C en E en is ryk aan antioksidante, het probiotiese eienskappe en stabiliseer bloedsuikervlakke, luidens die gesondheidswebwerwe healthline.com en medicalnews.com.

Louw de Wet, ’n vrugteboer in die Robertson-vallei in die Wes-Kaap, het in 2016 begin draakvrugtebome plant.

“Ek het die vrug die eerste keer op my wittebrood in Thailand geproe en dit het by my vasgesteek.”

Hy het begin navorsing doen en oortuig geraak dis iets wat hy by sy vrugteboerdery van perskes, appelkose en wyndruiwe moet voeg.

’n Draakvrug groei aan ’n soort rankkaktusplant. Die plant is oorspronklik van Mexiko en Sentraal-Amerika, maar die vrugte is veral gewild in die Verre Ooste. Foto verskaf deur Louw de Wet

Draakvrugte word gedra aan die Hylocereus-kaktus, ’n plant wat inheems is aan die suide van Mexiko en Sentraal-Amerika. Dis veral gewild in die Verre Ooste, veral in Viëtnam en China.

In Viëtnam word reuseboorde aangeplant waarvan sowat 900 000 ton jaarliks na China uitgevoer word.

Volgens De Wet is die draakvrugplant ’n soort rankkaktus met lugwortels wat uitgestoot word sodra die plant in aanraking kom met iets soos ’n houtpaal waarteen dit kan klou en klim. Die vrug het ’n helder rooi-pienk kleur aan die buitekant met ’n sagte, leeragtige skil.

Die binnekant is wit of donkerpienk, afhangende van die variëteit, met klein swart saadjies wat aan ’n kiwivrug s’n herinner.

Draakvrugplante dra wit blomme. Foto verskaf deur Louw de Wet

Die plant begin al in sy tweede jaar vrugte dra, maar dit is teen die derde en vierde jaar winsgewend.

De Wet het uiteindelik ná ’n probeerslag met ’n plaaslike verskaffer besluit om sy plantmateriaal liewer van die Filippyne af in te voer omdat die land verskillende variëteite het. Hy het nou van die plante onder ’n skadunet geplant om dit teen uiterste hitte en koue te beskerm.

“Dit is nog ’n baie klein deel van my boerdery, maar ek is aan die uitbrei. Daar is baie verskillende variëteite van die vrug en ek is nog besig om te toets watter van die vrugte die beste smaak. Dit is belangrik om dié wat die beste smaak in ons supermarkte te verkoop. Niemand wil ’n mooi vrug eet wat na niks smaak nie,” sê De Wet.

Jackye Riddle, eienaar van die Dragonden-kwekery in Patensie in die Oos-Kaap, boer al van 2010 af met draakvrugte.

Louw de Wet se draakvrugte – gereed om na ’n afsetpunt vervoer te word. Dit maak eers in die derde of vierde jaar kommersieel sin om die vrugte te verkoop.

Riddle het besluit om draakvrugbome te plant in die hoop om van die vrugte aan China te voorsien. Die Chinese eet draakvrugte saam met bykans elke maaltyd en hul vernaamste verskaffer is Viëtnam.

“Ek het gereken Suid-Afrika kan in die vraag voorsien in die maande wanneer Viëtnam nie kan lewer nie omdat ons in die Suidelike Halfrond is en Viëtnam in die Noordelike.”

Die uitvoer van draakvrugte is egter ingewikkeld omdat die vrug deurentyd koel gehou moet word, sê Riddle.

“Jy kan byvoorbeeld nie eens die vrug blootstel aan warmer temperature wanneer dit afgelaai word nie. ’n Verkoelde vragmotor moet agteruitry in ’n afsetplek se koelkamer in sodat daar geen onderbreking in die verkoeling is nie.”

Sy lewer tans aan Spar en Food Lover’s-supermarkte plaaslik, maar het ook al aan Marks & Spencer-winkels in Brittanje voorsien.

De Wet se afsetgebiede is tans net in die Wes-Kaap. Volgens hom staan die draakvrugbedryf in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene. Hy raam daar is op kommersiële vlak tussen 50 ha en 100 ha aangeplant.

Louw de Wet, vrugteboer van Retreat Agriculture in die Robertson-vallei, met ’n draakvrug uit sy boord. Foto: Louw de Wet

“Daar is nog geen oorhoofse beheerliggaam nie en ook nie plaaslike navorsing gedoen oor hoe om die bedryf in Suid-Afrika verder te ontwikkel nie. Dit is jammer, want dit kan ’n groot bydrae tot die ekonomie maak.”

  • Bykomende bron: Landbouweekblad.com
Meer oor:  Landbou  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.