Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Die grondverslag is laat, kort, flou

Die grondhervormingspaneel wat die president adviseer, beveel aan die Grondwet verander – en noem nie landboukundiges se kritiek nie, berig Jan de Lange.

Pres. Cyril Ramaphosa

Die verslag van pres. Cyril Ramaphosa se span kundiges oor grondhervorming beslaan net 20 bladsye en bevat geen van die skerp kritiek wat van die landboukundiges op die paneel geopper het teen die wysiging van die Grondwet nie.

Dit lyk boonop of ’n minderheidsverslag deur Dan Kriek, president van AgriSA, en die megaboer Nick Serfontein, wat hulle aan die voorsitter van die taakspan, dr. Vuyo Mahlati, oorhandig het nie deel is van die finale verslag, wat die afgelope week oplaas twee maande ná die aanvanklike spertyd by die presidensie ingedien is nie.

Mahlati wou nie aan Rapport sê of die minderheidsverslag ingesluit is nie. Sy het verlede maand in ’n skerp bewoorde verklaring gesê Kriek en Serfontein het geen gesag om ’n minderheidsverslag namens AgriSA by die presidensie in te dien nie.

Die finale verslag bevat verskeie omstrede aanbevelings, soos dat die Ingonyama-trust, wat byna ’n derde van alle landbougrond in KwaZulu-Natal namens die Zoeloes besit, ontbind word.

‘Dis ’n poging om gapings in die finale verslag te vul.’

Dit is in ooreenstemming met die aanbeveling in November van oudpres. Kgalema Motlanthe se hoëvlakpaneel.

Koning Goodwill Zwelithini het verlede jaar gewaarsku die Zoeloes sal “afstig” as aan hul stamgrond geraak word. Ramaphosa het hom toe die versekering gegee daar sal nie aan Zoeloe-stamgrond getorring word nie.

Die taakspan van tien kundiges is in September 2018 aangewys en moes einde Maart hul verslag voltooi het. Die tien, waaronder regslui, landbou-ekonome en akademici, het egter só vasgesit oor onteiening sonder vergoeding en die moontlike wysigings daaroor aan die Grondwet – asook oor ander kwessies waaroor Ramaphosa graag uitsluitsel wil hê – dat die verslag eers verlede week afgehandel is.

Skerp verskille

Die ontevredenheid spruit veral uit Mahlati se weiering dat standpunte wat verskil oor onteiening sonder vergoeding in die finale verslag opgeneem word.

Die paneellede het ook skerp verskil oor wat gedoen moet word met tradisionele grond waarop honderdduisende kleinboere ’n bestaan probeer maak in die voormalige tuislande, maar wat aan tradisionele leiers behoort.

Kriek en Serfontein is beswaard omdat die paneel aanbeveel het dat die Grondwet gewysig word en moet uitspel dat daar omstandighede is waarin grond sonder vergoeding onteien kan word. Die omstandighede moet in ’n afsonderlike onteieningswet uitgespel word.

Die komitee het glo ’n regsmening van prof. Elmien du Plessis daaroor verkry wat lui dat dit onnodig is om die Grondwet te wysig. Dié regsmening is ook nie by die finale verslag ingesluit nie.

Dit was een van die hoofredes waarom Kriek en Serfontein hul minderheidsverslag geskryf het.

Alternatiewe perspektiewe

“Ons het dit aan Mahlati oorhandig sodat dit as ’n minderheidsverslag by haar verslag gevoeg kan word. Dit sit alternatiewe perspektiewe oor grondher-vorming uiteen wat gebou is op bewese landbougebruike en volhoubare groei. Dis ’n poging om gapings in die finale verslag te vul en bevat voorstelle wat nie in die (finale) verslag opgeneem is nie, maar wat oorweeg behoort te word.

“Die president moet al die alternatiewe kan opweeg en besluit wat Suid-Afrika nodig het. Die minderheidsverslag is progressief en fokus op praktiese landbouplanne. Dit bevat werkbare oplossings vir die finansiering van grondhervorming en fokus op grondhervorming in plattelandse gebiede, versnelde grondhervorming asook die vestiging van nuwe boere,” sê Kriek.

Mahlati het glo in ’n laat sta­dium in April probeer om hulle van die minderheidsverslag te laat afsien, maar hulle was nie bereid om dit weer met haar te bespreek nie.

“Mahlati het baie moeite gedoen om hulle (Kriek en Serfontein) in die proses te probeer hou, maar dit het op die ou einde nie so uitgewerk nie,” het een van die paneellede aan Rapport gesê.

Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, het teen druktyd nie gereageer op navrae oor of die presidensie Kriek en Serfontein se minderheidsverslag ontvang het nie.

Minder as 20 bladsye

Die paneel het minstens vyf verskillende weergawes van die verslag opgestel. Die eerste weergawe het 147 bladsye beslaan, maar elke volgende weergawe is aansienlik verkort.

Die finale verslag bestaan uit minder as 20 bladsye.

Nog twee paneellede, prof. Mohammad Karaan van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, en die landbou-ekonoom Wandile Sihlobo, was ook baie beswaard oor die verkorte verslag, maar het in die paneel aangebly en uiteindelik met Mahlati ooreengekom dat hul besware voldoende in die finale verslag opgeneem word.

Die verslag het aanvanklik ook aanbeveel dat Ramaphosa vyf nuwe wette op ys hou wat die magte van tradisionele leiers uitbrei totdat uitsluitsel gekry is oor kwessies soos titelaktes en alternatiewe vorms van grondbesit in voormalige tuislande. Dié aanbevelings is ook afgewater.

Dr. Ruth Hall van die Instituut vir Armoede, Grond en Landelike Studies (Plaas) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het beleidsverandering ten gunste van swart kleinboere eerder as kommersiële swart middelslagboere voorgestel, maar dit het ook grootliks in die slag gebly, het Rapport verneem.

“Hall wou hê dat tussen 500 000 en 1 miljoen swart kleinboere op stamgrond in voormalige tuislande die primêre begunstigdes van ’n grondhervormingsprogram moet wees. Dis noodsaaklik.

“Dit gaan egter nie die produktiwiteit en groei, vooruitgang, indiensneming en landbou-uitvoere aanhelp nie, terwyl dit is wat die land nou nodig het.

“Jy kan ook nie ’n sektor hê waarvan die suksesvolle, kommersiële gedeelte wit is en die sukkelende opkomende sektor swart nie,” het ’n paneellid gesê.

“Sy (Hall) het die punt baie sterk oorgebring dat dit nie die staat se taak is om ryk boere, ongeag hul velkleur, te help nie, maar sukkelende, arm boere. Maar dit is ook die staat se taak om die ekonomie te laat groei en ’n positiewe beleidsklimaat te skep. Hall wou hê alle staatsgeld moet aan hulp vir kleinboere bestee word, maar daar moet ook geld aan die ontwikkeling van swart kommersiële boere bestee word.”

‘Nog meer verliese’

Hall het verlede week op ’n seminaar by die Universiteit van Wes-Kaapland gesê die opkoms van middelslagboere is ’n nuwe neiging oor die hele Afrika, maar lei tot nog meer verliese aan grondbesit deur armes. Dit word aangedryf deur nuwe elitegroepe uit ander sektore, soos afgetrede staatsamptenare, wat op primitiewe maniere grond van armes inpalm. Dit vererger dikwels landelike armoede.

Die ander paneellede is adv. Tembeka Ngcukaitobi, wat spe­sialiseer in grondeise, Bulelwa Mabasa, ’n prokureur wat ook in grondhervormings en grondeise spesialiseer, dr. Thandi Ngcobo, uitvoerende hoof van die dr. J.L. Dube-instituut aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, en Thato Moagi, ’n jong landbou-entrepreneur.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Grondwet  |  Grondhervoming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.