Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dié Vrystaatse lam ’n Argentynse burger!
Dié lammetjie is die eerste Dohne-Merino wat in Argentinië die lewenslig kon aanskou danksy ’n Suid-Afrikaanse embrio van die Vrystaatse stoetery Crux Dohnes. Foto: Facebook/ Wikus Bekker

Aan die suidelikste punt van Suid-Amerika blêr ’n Vrystaatse lam – die eerste Dohne-Merino in Argentinië uit ’n Suid-Afrikaanse embrio wat die lig sien.

Dié lam is onlangs danksy die Vrystaatse stoetery Crux Dohnes se embrio in Tierra del Fuego in Patagonië gebore.

Vir Wikus Bekker van die stoetery op die plaas Geluksdam, Edenburg, is dit ’n droom wat waar geword het.

Bekker het in ’n plasing op Facebook sy vreugde uitgespreek en gesê dit is die eerste lammers van nog baie in Patagonië waarvan Crux Dohnes die embrio’s sal voorsien.

“Dit was nie maklik nie. Dit was baie jare se harde werk in stilte agter die skerms, protokol-probleme, veeartseny-gesondheidsregulasies, regeringswette en nog vele ander uitdagings. Maar aan die einde het ons daarin geslaag,” skryf Bekker.

Die prestasie volg nadat Bekker vroeër vanjaar onder meer tegelyk met vier stelle vierling- en een stel vyflinglammers gespog het.

SA Stamboek het die stoetery ook met ’n goue prys op ’n streektoekenningsgeleentheid vereer.

Dr. Kobus Delport, die bestuurder van die Dohnemerinotelersgenootskap van Suid-Afrika, glo dié gebeurtenis sal die weg baan vir ander stoeterye om ook embrio’s uit te voer.

Crux Dohnes se ooie wat vir die embrioprogram gebruik is. Foto: Facebook/ Wikus Bekker

Delport het bevestig dit is die eerste lam wat uit dié proses in Argentinië danksy ’n Suid-Afrikaanse embrio gebore is.

Dit was egter ’n lang pad tot hier en volg op onderhandelinge by die wêreld-Dohne-Merinokonferensie in 2016 in Argentinië om genetiese materiaal van dié ras van Suid-Afrika na Suid-Amerika uit te voer.

“Ons is baie opgewonde dat hierdie eerste uitvoer (van sy soort) ná ’n baie lang periode vir ons nuwe deure gaan oopmaak om embrio’s op ’n makliker manier uit SA uitgevoer te kry,” sê Delport.

Die inplanting van die embrio’s het eers enkele maande gelede begin.

Delport sê daar is in 2000 heelwat embrio’s van die ras na Australië uitgevoer, maar dit is stopgesit.

Dr. Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek, sê die land se telers kan met die beste ter wêreld meeding.

“Ons stelsels in SA, soos wat SA Stamboek bied, met betrekking tot die aanteken van diere en die genetiese merietebepaling, is ook op dieselfde vlak as die res van die wêreld.

“ ’n Buitelandse koper het ’n waarborg dat dit goed en wetenskaplik reg gedoen word.”

Meer oor:  Sa Stamboek  |  Vee  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.