Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dieseltekort kortwiek boere wat moet oes

Talle binnelandse boere – veral in Noordwes en Limpopo – sit met die hande in die hare oor die voortslepende dieseltekort wat hul oesbedrywighede in die wiele ry.

Boere in die noordelike gedeeltes van die land oes tans somergrane en ’n voortslepende dieseltekort kan uiteindelike voedselsekerheid beïnvloed.

“Boere wat nou produkte soos mielies, sitrus en ander gewasse oes, word ernstig benadeel deur die beperkte hoeveelheid diesel in sekere provinsies,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende adjunkdirekteur van Agri SA.

Die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfvereniging (Sapia) het die afgelope week in ’n verklaring gesê voorvalle van diefstal en vandalisme aan Transnet se pypleiding van Durban na Johannesburg belemmer voorsiening van brandstof aan die binneland. “Dit veroorsaak vertragings in brandstofaflewering en tekorte in sekere gebiede,” lui Sapia se verklaring. Die vereniging hou egter vol dat daar genoeg voorraad is om in die huidige vraag te voorsien.

Intussen het ’n ongeluk by die Astron-raffinadery in Milnerton in Kaapstad, waarin twee werkers dood en sewe beseer is, die aanleg se bedrywighede ook gekniehalter. Dit kan ook ’n uitwerking hê op brandstofvoorraad, het die departement van minerale bronne en energie in ’n verklaring gesê.

Transnet het vroeër in ’n aanbieding aan Sapia gesê daar was ’n beduidende toename in voorvalle van diefstal by sy pypleidings in die begin van die 2020-’21-boekjaar.

Transnet-pypleidings vervoer 250 miljoen liter petrol en diesel per week en strek oor vyf provinsies heen.

Teen Junie vanjaar was daar reeds 38 voorvalle. In die boekjaar tot einde Maart 2020 is 181 voorvalle aangemeld. Teen Maart is 84 mense in hegtenis geneem en 75 strafregtelike klagte aanhangig gemaak.

Agri SA se Van der Rheede sê die sabotasie by Transnet se pypleidings is besig om die land se ekonomie te verlam en dat die polisie én weermag brandpunte daagliks behoort te monitor.

Hy voeg ook by dat die prentjie wat die brandstofbedryf voorhou, naamlik dat daar genoeg diesel beskikbaar is, aansienlik verskil van wat op grondvlak ervaar word. “Boere sukkel steeds om diesel vir oesdoeleindes aan te koop,” sê hy. “Die landbouwaardeketting is afhanklik van diesel en onderbrekings in dieselvoorraad kan die hele bedryf negatief beïnvloed.”

Hy wys daarop dat boere in die noordelike gedeeltes van die land tans somergrane oes. Daar is ’n groot aanvraag na witmieliemeel en ’n volgehoue dieseltekort kan voedselsekerheid uiteindelik beïnvloed.

Meer oor:  Sasol  |  Engen  |  Agri Sa  |  Brandstofbedryf  |  Dieseltekort  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.