Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dís hoekom eiers nog peperduur is

Eierpryse is eindelik weer aan die daal, maar baie stadig.

Dit kan tot ná September vanjaar duur voordat die aantal lêhoenders in Suid-Afrika weer die vlakke van vóór die voëlgriepepidemie bereik.

Eierpryse het verlede jaar met 30% gestyg weens tekorte wat deur voëlgriep veroorsaak is.

Dis boonop ook op voorwaarde dat voëlgriep nie vanjaar weer uitbreek soos wat die pluimveebedryf vrees nie.

Voëlgriep het in Junie 2017 in Suid-Afrika uitgebreek en miljoene eiers en derduisende lêhoenders moes van kant gemaak word soos wat dit oor die land heen versprei het.

Die pluimvee-en-veevoer-maatskappy Quantum Foods het sedert Augustus 2017 nagenoeg 20% van sy lêhoenders weens voëlgriep verloor. Dit het hom nagenoeg R9 miljoen gekos om die 242 000 hoenders op ’n plaas in die Wes-Kaap van kant te maak en die plaas te ontsmet.

Quantum het die impak probeer versag, onder meer deur ongebruikte hoenderplase elders op te knap en in te span om sy voorraad lêhoenders weer op te bou.

Voëlgriep het meegebring dat Quantum 7% minder eiers kon lewer, maar eierpryse het met meer as 30% gestyg. Die netto uitwerking daarvan was dat die maatskappy se eierafdeling ’n rekordwins gemaak het.

Die maatskappy is bekommerd dat die pluimveebedryf kwesbaar is vir verdere uitbrekings van voëlgriep. “Die groep het ’n paar groot aanlegte wat ’n beduidende aantal voëls huisves. Die onlangse geskiedenis het getoon ’n voëlgriep-uitbreking kan vernietigende uitwerking hê op plase wat geraak word.”

Quantum Foods het Donderdag sy tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Maart uitgereik en danksy die eierwins het hy vir die heel eerste keer ’n tussentydse dividend van 20c per aandeel verklaar.

Die mark het egter nie op die rekordwins of dividendbonus gefokus nie en die aandeelprys was Vrydagoggend ’n hele 43c of 8,6% laer op R4,57 as die laaste sluiting voor die uitreiking van die resultate.

Quantum sê benewens voëlgriep – waaruit hy eindelik voordeel getrek het, hoewel dit ook koste meegebring het – was die ander groot faktor in die halfjaar die skerp daling in insetkoste. Hoendervoer het goedkoper geword danksy die rekordoes van mielies en sojabone in dié jaar en ingevoerde produkte het goedkoper geword danksy die sterker rand.

Volgens Quantum was geelmielies 33% goedkoper as in dieselfde halfjaar van 2017 en sojaboonmeel 6% goedkoper.

Quantum sê die laer voerinsetkoste het nie sy boerdery- en voerafdeling veel gehelp nie, aangesien die finale produkpryse ook moes daal.

In die groep se eierafdeling, waar hy uiteraard sy eie hoenders moet voer, het die goedkoper voer sy winsgrens aansienlik gehelp.

FNB Securities sê in hul oggendverslag Quantum verhandel teen ’n billike historiese prys-verdienste-veelvoud van 9,9. Die wisselvalligheid van insetkoste skep egter ’n risiko vir die groep. “Ons bly ook versigtig oor die vooruitsigte vir die sektor op lang termyn.”

In syfers

  • Inkomste: Daal met 0,3% tot R2,035 miljard
  • Bedryfswins (ingesluit inkomste en uitgawes van ’n kapitaalaard): Styg met 477% tot R244 miljoen
  • Bruto winsgrens: Styg tot 33,3% (2017: 21,1%)
  • Wesensverdienste: Styg met 538% tot R183 miljoen
  • Wesensverdienste per aandeel: Styg met 563% tot 82,5c
  • Dividend: ’n Tussentydse dividend van 20c per aandeel word verklaar; in 2017 is geen tussentydse dividend verklaar nie.
Meer oor:  Hoenders  |  Hoenderbedryf  |  Eiers  |  Eierpryse  |  Pluimveebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.