Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dis nie net snobs en rykes wat wyn drink!

Wyn is nie net ’n geliefde drankie wat rykes, snobs en vroue ná werk uit duur glase drink nie.

Suid-Afrikaners het ’n baie volwasse verhouding met wyn. Baie glo reeds wyn is lankal nie meer net vir sekere groepe mense beskore nie. Foto: Verskaf

Inteendeel, Suid-Afrikaners in die algemeen het ’n baie gemaklike verhouding met wyn. Ongeag finansiële status of geslag, skink ons gereeld ’n glasie of twee.

Dis onder die interessante bevindinge van die Great Big Wine Survey, ’n studie wat oor Suid-Afrikaners se verhouding met wyn gedoen is.

Twee uit drie deelnemers voel byvoorbeeld wyn is vir “almal”. Minder as 10% reken net sekere groepe mense, soos snobs, rykes en vroue, drink wyn.

Baie mense drink ’n glas wyn as “beloning” vir ’n lang werksdag agter die rug.

Meer as 21 000 mense is vir die peiling ondervra.

Wat is belangrik vir Suid-Afrikaanse wyndrinkers?

Prys speel ’n belangrike rol as dit kom by Suid-Afrikaners se keuse van wyn.

Oor alle inkomstegroepe heen staan prys uit as die grootste oorweging en verpakking as die tweede belangrikste oorweging.

Met Suid-Afrika se wynpryse wat, met die uitsondering van Serwië, die goedkoopste ter wêreld is, sal plaaslike wynverbruikers lank pryssensitief bly.

Hoe koop Suid-Afrikaners wyn?

Wat as verrassing gekom het, is hoe mense wynkoop benader.

Net 19% van die deelnemers sê hulle koop wyn met ’n oopkop, terwyl 32% eers navorsing doen en dus doelgerig hul aankope doen wanneer hulle by ’n winkel instap. Soveel as 48% weet net “soms” vooraf wat hulle wil koop.

Die groep wat met geen vooropgestelde idees wyn koop nie, is veral geneig om deur prys en verpakking gelei te word. Dié wat eers navors voor aankope, word weer gedryf deur hul voorkeure en veral handelsmerklojaliteit.

Meer gegoede Suid-Afrikaner kyk eerste na die pryse wat ’n wyn gewen het. Verpakking en die bottel se etiket is nie vir dié groep so ’n groot oorweging nie.

Die studie het verder bevind dat inligting en interaksie met verbruikers baie belangrik is. As dit reg gebruik word, kan dit die aankoop van duurder wyne aandryf.

Die kans dat iemand ’n duurder bottel wyn van meer as R100 sal koop, word groter sodra daar genoegsame interaksie was, byvoorbeeld ’n besoek aan wynproelokale.

Wynklubs is ook ’n dryfveer vir duurder wynaankope, met 66% van lede van formele wynklubs wat aangedui het hulle is meer as gewillig om tussen R80 en tot meer as R100 per bottel te betaal.

Verbruikers wat geen interaksie gehad het voordat wyn gekoop is nie, sal nie sommer meer as R100 ’n bottel betaal nie.

Aanlyn aankope

Hoewel gesinne met hoë besteebare inkomste (R40 000 per maand en meer) gereeld in ’n maand ’n verskeidenheid produkte aanlyn koop, is dit nie die geval vir hul wynaankope nie.

Dié groep kies eerder om direk by wynkelders te koop (62%), direk by die boer (55%) en sal dan eers aanlyn aankope oorweeg (28%).

Laerinkomste-huishoudings (R10 000 per maand tot R20 000) sal drankwinkels ondersteun wat wyn aanlyn verkoop en ’n diens bied wat dit by hul huise laat aflewer (65%).

Internasionale neigings

Waar Italiaanse wyne tot nog ’n paar jaar gelede uitgeblink het onder internasionale wyndrinkers, is wyne uit Frankryk nou wêreldwyd die gunsteling.

Pinot noir is nou ’n voorkeurwyn wêreldwyd en riesling groei ook in gewildheid.

Sauvignon blanc bly steeds baie gewild onder die wêreld se witwyndrinkers.

Groot geleenthede wag vir die plaaslike wynbedryf en kleinhandelaars as hulle internasionale neigings begin dophou waar gepaste wyne saam met kosse en geregte, soos by deli-afdelings in winkels, uitgestal word, bevind die verslag.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Verbod  |  Wyn  |  Wynboer  |  Landbou  |  Wynverkope  |  Drankbedryf  |  Aanlyn Inkopies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.