Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dit stink! Boere sê les op weens duurder kunsmis

Hoewel boere moontlik in Mei minder vir diesel gaan betaal, is die baie skerp styging in internasionale kunsmispryse ’n bron van kommer.

kunsmis
Kunsmis het ’n baie groot vervoerkoste-komponent en die prys van ruolie speel daarom ’n groot rol in die prys daarvan. Foto: Unsplash

Dit gaan dalk ook kospryse opdruk, hoewel boere nie altyd die bedingingsmag het om hul insetkoste te verhaal wanneer hulle hul produkte verkoop nie.

Ikageng Maluleke, ’n ekonoom van Graan SA, sê internasionale kunsmispryse, behalwe van kaliumchloried, was in Maart die hoogste in meer as twee jaar. “Volgens markontleders het pryse veral gestyg as gevolg van lae voorraadvlakke wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het, die styging in aardgaspryse, en Amerika en Europa wat vroeër as verwag begin plant het en só die vraag na kunsmis verhoog het.”

Volgens hom het internasionale pryse vir ammoniak, ureum en DAP met onderskeidelik 28%, 68,5% en 78,6% tussen Februarie 2020 en Februarie 2021 gestyg.

In randwaarde was daar ’n soortgelyke styging, hoewel in ’n mindere mate, grootliks danksy die sterker rand, sê hy. Kaliumchloried se prys het met 7,8% gedaal.

k

“Vir pryse van kunsmis om weer tot normale vlakke te daal, in ag genome die vernaamste faktore in die kunsmismark, moet produksie hoër wees as die verwagte aanvraag vir die res van 2021. Die wisselkoers moet ook verder versterk.”

Boere en verbruikers kan wel so ’n bietjie die sweet van hul voorkoppe afvee omdat die prys van diesel waarskynlik in Mei gaan daal.

k

Die hoop op ’n daling in die dieselprys is goeie nuus vir die landbousektor, want dit beteken hul vervoer- en insetkoste kan ook daal.

LEES OOK: Sit jy? Ons het nuus oor diesel, petrol

Volgens Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB, is brandstof die lewensaar van die landbou-waardeketting tussen boere en verbruikers, want dit sorg dat die kos wat jy in jou bord skep, op die regte tyd en teen ’n bekostigbare prys verskaf word.

Hy sê die skerp styging van brandstofpryse op 7 April het nie op ’n goeie tyd vir boere gekom nie met die plantseisoen vir wintergewasse wat aanbreek en boere in die somerreënvalstreke wat begin oes.

“Die landboukalender is dié tyd van die jaar besig en die vraag en verbruik van brandstof sal na verwagting op mediumtermyn toeneem.

“Die styging in brandstofkoste voorspel niks goeds vir produsente nie, aangesien produksiekoste waarskynlik oor die waardekettings sal toeneem, met wisselende invloed op plant, oes, verspreiding en verpakking.”

Makube sê die styging van die prys van brandstof beïnvloed ook logistieke ondernemings in die landbou-waardeketting. “Vervoerondernemings sal ook die pyn ervaar omdat ongeveer 80% van graan per pad vervoer word.

“Boonop sal die pryse van byprodukte van die verwerking van ruolie, soos kunsmis, onkruiddoders en plaagdoders, waarskynlik ook styg as die onlangse stygtendens voortduur.”

Die oorsigtydperk vir Mei se brandstofpryse eindig op 29 April, met die nuwe prys wat op 5 Mei in werking sal tree. Die oorverhaling op diesel is tans 31c of 32c per liter.

Meer oor:  Graan Sa  |  Landbou  |  Dieselprys  |  Kunsmis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.