Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Dlamini-Zuma: Drankverbod moet ook vir ryk wyndrinkers geld
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: GCIS

Die drankverbod sal gereeld herevalueer word, sê dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, in die rekord van besluitneming oor dié verbod in ’n hofaansoek wat deur wynboere aanhangig gemaak is.

Volgens Dlamini-Zuma is dit omdat die regering ook die las op die ekonomie en individue se bestaansmiddele wil beperk.

Die rekord van besluitneming beslaan 350 bladsye.

Dlamini-Zuma het dit vandeesweek ingedien in die eerste hofaansoek teen die drankverbod.

Die applikante – wynboere onder leiding van die landbou-organisasie Saai – moet nou hul aanvullende eedsverklaring voorberei.

Die staat moet volgende Vrydag voor die langnaweek sy beantwoordende eedsverklaring indien.

Die applikante wil regulasie 44 wat drankverkope verban, ongrondwetlik, onwettig en ongeldig laat verklaar.

Hulle voer ook aan dat nie alle alkoholprodukte oor dieselfde kam geskeer moet word nie en dat die “wynbedryf se unieke posisie” in ag geneem moet word.

Dlamini-Zuma sê in die rekord van besluitneming die regulasie is deur haar uitgevaardig ná konsultasie met die relevante kabinetslede, die nasionale koronavirus-bevelsraad, en in konsultasie met die kabinet.

Een wet vir alles

Sy verwys in die regulasie na drank soos omskryf in die Drankwet van 2003, wat wyn, bier en ander alkoholprodukte insluit.

“Die beheer oor drank word in ooreenstemming met die Drankwet en die Drankproduktewet van 1989 gedoen – nie ingevolge ’n spesifieke tipe drank soos wyn nie.”

Volgens haar beteken dit nie die posisie van die wynbedryf is geïgnoreer of afgeskeep toe die omstrede regulasie opgestel is nie – soos “duidelik blyk uit die feit dat die produksie, stoor en vervoer van drank vir uitvoer toegelaat word”.

Die hele bedryf is egter vir die verbod oorweeg “omdat die invloed op nooddienste en hospitale dieselfde bly, of jy nou wyn of ander drank verbruik”.

“Covid-19 bring ’n werklike en wesenlike gevaar vir lewens in Suid-Afrika, ons mediese infrastruktuur, ons ekonomie en verskeie ander fasette van die samelewing.

“In dié konteks weerspieël regulasie 44 ’n poging om ’n komplekse reeks faktore te balanseer om te verseker dat Suid-Afrikaners beskerm en ondersteun word gedurende die pandemie.

“Die oorkoepelende rasionaal vir die besluit om drankverkope te verbied, was om die potensiële druk op die gesondheidstelsel te verminder en om menselewens te beskerm.”

Om spesifieke tipes drank toe te laat, soos wyn en spiritualieë, sal ook nie doeltreffende verligting gee vir die gesondheidstelsel wanneer ’n groot sprong in gevalle plaasvind nie.
Nkosazana Dlamini-Zuma

Die Grondwet plaas volgens haar ’n plig op die staat om die regte soos vervat in die Handves van Menseregte te beskerm, te bevorder en te vervul, insluitende die reg op lewe en die reg op toegang tot gesondheidsdienste.

In die lig hiervan is dit “ná deeglike oorweging en bespreking” nodig geag om die verbod op drankverkope tydelik terug te bring.

Die besluit sal volgens haar gereeld herevalueer word aan die hand van onder meer ’n ontleding van die beskikbaarheid van mediese infrastruktuur en personeel, asook die epidemiologie van die virus.

Sy sê hoewel minder beperkende maatreëls oorweeg is, toon die ervaring tydens vlak 3 dit was nie so doeltreffend om die vraag na gesondheidsdienste weens drankverwante trauma te verminder nie.

“Om spesifieke tipes drank toe te laat, soos wyn en spiritualieë, sal ook nie doeltreffende verligting gee vir die gesondheidstelsel wanneer ’n groot sprong in gevalle plaasvind nie.”

Sy sê daar is ook geen empiriese bewyse voor haar dat wyn en ander tipe drank nie bydra tot alkoholverwante trauma nie of dat hulle in ’n mindere mate daartoe bydra.

Ryker gebiede ook geraak

Sy voer aan die las op gesondheidsdienste wat deur die pandemie veroorsaak word, kom ook in ryker gebiede voor.

“Wanneer hospitale vol is in minder welvarende gebiede, wat bedien word deur hoofsaaklik openbare hospitale, word pasiënte van daar af na hospitale in ryker gebiede geneem, insluitende private hospitale, op grond van spesifieke ooreenkomste in elke provinsie. Om onder meer dié rede, is die regulasies veronderstel om in die algemeen toegepas te word en alle Suid-Afrikaners billik en gelyk te beskerm.”

Die applikante, wat wynplase is wat tafelwyne maak, het aangevoer hul produkte veroorsaak nie die sosiale probleme wat tot probleme in hospitale lei nie. 

Logistieke probleme

Dlamini-Zuma sê ook die voorkeur was dat die verbod nasionaal ingestel word pleks van provinsiaal of op plaaslike vlak "weens die logistiek betrokke om die verspreiding van drank van gebiede waar verkope plaasvind na gebiede waar dit verbied is, te voorkom."

Geen ander opsies oorweeg

Daniël Eloff, opdraggewende prokureur van Hurter Spies, vir die applikante, sê wat uitstaan in die rekord van besluitneming is dat baie van die inligting met die eerste verbod verband hou.

Die hofsaak is juis aanhangig gemaak toe die staat onverwags vir die tweede keer ’n verbod op drankverkope ingestel het.

Volgens hom toon die redes ook baie eensydige inligting.

Hy sê art. 36 van die Grondwet vereis as iemand se regte beperk word, moet “minder beperkende maniere” oorweeg word.

“Die inligting toon net ’n alkoholverbod is in ag geneem en nie ander opsies nie.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.