Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Drank: Omswaai oor jou bier, wyn ‘onwaarskynlik’

Drankwinkels het Sondag op ’n vergadering met die regering oor die heropening van drankverkope van 1 Junie af geen aanduiding gekry dat daar ’n “omswaai sal wees soos wat met die sigaretverkope gesien is nie”.

k
Drankverkope hervat op 1 Junie, maar winkels pleit dat almal nie op dié dag probeer om hul voorraad aan te vul nie. Foto: Pixabay

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand in ’n toespraak aangekondig dat alkoholverkope in die vlak 3-inperking, wat op 1 Junie landwyd begin, deur drankwinkels onder streng voorwaardes toegelaat sal word.

Hy het gesê meer besonderhede hieroor sal bekend gemaak word sodra die gesprekke met die sektor oor die voorwaardes afgehandel is.

Voordat vlak 4 begin Mei in werking getree het, het Ramaphosa aankondig dat sigaretverkope reeds in dié vlak toegelaat sal word, maar toe hoor rokers later tot hul verbasing die besluit is deur die nasionale bevelsraad omgekeer.

Sean Robinson, woordvoerder van Liquor Traders Association of South Africa (Ltasa), ’n nuwe organisasie wat gestig is om dié bedryf in die onderhandelinge met die regering te verteenwoordig, sê Sondag was hul eerste vergadering met die regering. Dit was een van verskeie aanlyn vergaderings tussen die regering en die drankbedryf.

Ltasa verteenwoordig 1 400 drankwinkels, waaronder Ultraliquors, LiquorCity, Picardi Rebel en Solly Kramers.

Nog ’n vergadering was met kruidenierswarewinkels en ’n ander een met verskaffers.

Robinson verwag nie nog ’n vergadering vandeesweek nie en wag nou vir die aankondiging oor die regulasies.

Ommekeer sal verras

Op die vraag of dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, soos met sigarette ’n omkeer gaan maak oor die besluit dat drankverkope hervat mag word, sê hy “daar is ’n element van kommer daaroor. Maar ek sal baie verras wees as dit omgekeer word soos met tabakprodukte.”

Hy sê hulle het Sondag geen aanduiding gekry van ’n moontlikheid dat drankverkope dalk nié van 1 Junie af toegelaat gaan word nie.

News24 het Vrydag berig Dlamini-Zuma het die bevelsraad versoek om die verbod op tabak en alkohol tot vlak 1 vol te hou.

Watter perke sal geld?

Robinson glo die bevelsraad moet in die stadium nog besluit oor die beperkinge op die handelsdae en -ure ten opsigte van die verkoop van drank, en moontlik ook ’n perk op die hoeveelhede wat mense sal mag koop.

Hy verwag egter nie dat daar perke op die hoeveelheid gaan wees nie omdat dit moeilik sal wees om te bestuur.

Hy meen die bedryf sal self perke op hoeveelhede sit, soortgelyk aan die perke wat kleinhandelaars met produkte soos toiletpapier geplaas het in die dae van paniekaankope.

Dié vereniging se aanvanklike voorstel van amper ’n maand gelede aan die departement van handel en nywerheid oor die hervatting van drankverkope was dat drankwinkels van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 18:00 oop moet wees, Saterdae van 09:00 tot 16:00 en Sondae en openbare vakansiedae gesluit.

LEES OOK: Vlak 3: Stormloop na drankwinkels verwag

Die vereniging het ook voorgestel in die eerste week moet die verwagte stormloop na drankwinkels beheer word deur mense alfabeties in te deel volgens dae wat hulle drank mag koop.

Robinson sê uit die gesprekke het dit geblyk só ’n reëling sal moeilik wees.

“Dit gaan meer gaan oor ’n pleidooi aan die publiek om nie op die eerste dag na drankwinkels te storm nie.”

Hy verwag uiteindelik iets tussen die aanvanklike konsepregulasies en een wat die naweek op sosiale media gedeel is.

Hy sê die aanvanklike voorstel van die staat in konsepregulasies was dat drankhandel net van Maandag tot Woensdag van 08:00 tot 12:00 toegelaat word.

“Dit sal uit ons oogpunt die ergste scenario wees. Daar mag dalk ’n effense verslapping wees hiervan, dalk nog ’n dag langer, of langer ure. Maar alle aanduidings is dat daar redelik ernstige beperkinge gaan wees.”

Daarna is ’n ander konsepvoorstel versprei wat Maandag tot Donderdag drankverkope toelaat vir die ure soos wat die onderneming se dranklisensie bepaal.

“Ek twyfel sterk dat ons dié ure gaan kry en is ook nie seker dat ons dié dae gegee sal word nie. Die huidige aanduiding is iets tussen die aanvanklike en laaste een.”

Hy glo dit gaan moontlik ook geld vir aanlyn kleinhandel en dat hulle nie ander ure en handelsdae sal hê nie.

Gaan daar voorraad wees?

Hulle het gevra om die geleentheid te kry om voor 1 Junie voorraad te kry en winkels voor te berei.

“Maar ons is nie seker of ons dit gaan kry nie. Dit is ’n probleem, want baie van die winkels is in die laaste twee dae voor die inperking leeg gekoop. Ons het beslis die geleentheid nodig om voor te berei en voorraad te kry. Ons het dit voorgestel, maar het geen aanduiding gekry of dit moontlik gaan wees nie.”

Dit kan daartoe lei dat winkels dalk eers ná 1 Junie sal kan open.

Klerewinkels kon van begin Mei af open toe vlak 4 in werking getree het, maar sommige het eers dae daarna heropen omdat hulle eers voorraad moes regkry en personeel moes oplei ten opsigte oor die maatreëls om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Bier  |  Koronavirus  |  Wyn  |  Vlak 3  |  Wynbedryf  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.