Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Drankbedryf vra lede om streng by reëls te hou

Die eienaars van tavernes, biermakers en die wynbedryf is dankbaar dat pres. Cyril Ramaphosa nie Dinsdagaand in Pretoria ’n algehele verbod op drankverkope ingestel het nie.

drankverkope, drank, drankverbod
Sommige mense het Dinsdag drankwinkels besoek uit vrees vir 'n algehele drankverbod wat kom. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa het aangekondig dat die land in die lig van stygende koronavirusinfeksies na vlak 3 van die staat van inperking beweeg en dat sekere inperkings nou weer vir drankverkope geld.

Kleinhandelaars, soos drankwinkels, mag slegs drank van Maandae tot Donderdae verkoop en dan ook net tussen 10:00 en 18:00. Restaurante moet teen 21:00 sluit om hul werkers en kliënte kans te gee om huiswaarts te keer voordat die aandklokreël nou om 22:00 intree en tot 04:00 duur.

Geen drank mag op openbare vakansiedae verkoop word nie en niemand mag drank in openbare plekke, soos parke of strande, gebruik nie.

Lucky Ntimane, sameroeper van die Nasionale Raad van Drankhandelaars (NRD), het kort nadat Ramaphosa Dinsdagaand sy toespraak gelewer het, gesê dit is welkome nuus dat die regering nie drankverkope in sy geheel by tavernes en restaurante verbied het nie.

“Tavernes het baie hard gewerk om hul klante sover te kry om aan die Covid-19-maatreëls te voldoen en sal voortgaan om seker te maak hul klante hou by die reëls.”

Volgens hom is dit goeie nuus dat die regering ook op die samelewing en gemeenskappe staatmaak om saam te werk om by die maatreëls te hou.

Wys vertroue

“Ons doen ’n beroep op ons lede om seker te maak dat hulle self, asook hul personeel en klante tot die uiterste waaksaam bly wanneer dit by die nakoming van die reëls kom,” sê Ntimane.

“Ons is dankbaar daar is nie beperkinge op ons sakebedrywighede geplaas nie, maar dit is ook nie nou die tyd om slap te lê nie. Inteendeel, dit is nou die tyd om ons waaksaamheid te verskerp om ons kliënte en gemeenskap veilig te hou soos wat die derde vlaag vererger.”

Hy sê verder die aangekondig Dinsdagaand wys die regering het vertroue in die drankbedryf om voort te gaan om handel te dryf en hul gesin te onderhou.

“Ondernemings wat binne die wet hul sake bedryf, moet teen die sluikhandel in alkohol beskerm word – die enigste groep wat uit ’n drankverbod voordeel trek,” sê Ntimane.

Die Suid-Afrikaanse Biervereniging (Basa) verwelkom die besluit om die aandklokreël te vervroeg.

“Dit is gedoen om stygende infeksies te bekamp en is daarom die regte besluit. Ons het navorsing wat wys dat as mense se bewegings beperk word, dit ’n direkte uitwerking op die verspreiding van die virus en motorongelukke het,” sê Basa in ’n verklaring.

Volgens dié liggaam is hulle wel bekommerd oor die beperkinge op die verkope van drank deur kleinhandelaars van Maandae tot Donderdae.

Geen bewyse

“Daar is steeds geen bewyse dat sulke beperkinge die stryd teen die virus van hulp is nie. Ons is bekommerd oor die onbedoelde gevolge om die handelsure van drankwinkels te beperk, want dit kan onwettige drankverkope aanhelp.”

Euromonitor International het verlede maand in ’n verslag bekend gemaak die sluikhandel in drankverkope in Suid-Afrika het die laaste drie jaar amper verdriedubbel en is nou nagenoeg R20,5 miljard werd. Die onwettige drankbedryf sit reeds met 22% van die mark wat drankverbruik in die land betref.

In 2020 het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens volgens Basa R11,3 miljard aan onwettige drankverkope verloor.

“Ons bly toegewyd ten opsigte van die regering om die impak van die derde vlaag te bekamp terwyl ons ook 415 000 mense se inkomste wil beskerm wat van die bierbedryf afhanklik is,” sê Basa.

Die wynbedryfsliggaam Vinpro en die res van die wynbedryf is dit eens met Ramaphosa oor sy kommer oor die skielike en skerp toename in positiewe Covid-19-gevalle en verwante sterftes in die land.

Volgens Vinpro is 269 000 mense van die drankbedryf vir hul lewensbestaan afhanklik.

“Ons verstaan die noodsaak van drastiese maatreëls, maar sonder finansiële steun van die regering is dit eenvoudig nie ’n lewensvatbare opsie om ’n hele bedryf te sluit nie,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

“Wyn maak deel uit van die landbou- en toerismesektor en die wynbedryf het proaktief voorkomende maatreëls ingestel om sy werknemers en besoekers op plase te beskerm, asook die bedryf se 533 wynkelders.”

Basson raai elke wynverwante onderneming aan om hul deel te doen en ten nouste saam te werk om die kurwe te help afplat.

“Laai die Covid Alert SA-app af en gebruik die blitslyn om enige oortredings van die regulasies by 0800 014 856 aan te meld,” sê hy.

“Ons sal voortgaan om met die regering in gesprek te tree oor maniere waarop ons landsburgers se lewe en hul lewensbestaan kan red, terwyl ons saamwerk om Covid-19 hok te slaan. Kom ons wees deel van die oplossing.”

Meer oor:  Salba  |  Sab  |  Vinpro  |  Drankverkope  |  Wynbedryf  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.